OVK wil verkiesings uitstel

(Foto: Maroela Media)

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het besluit om die verkiesingshof te nader vir die uitstel van die munisipale tussenverkiesings, aangesien die vlak 3-inperkingsregulasies politieke byeenkomste verbied.

Die OVK sal die hof vra om die verkiesings met 90 dae uit te stel.

Volgens Kate Bapela, woordvoerder van die OVK, beperk die jongste regulasies politieke aktiwiteite wat die vryheid en regverdigheid van die verkiesing belemmer.

“Die kommissie het opgemerk hoewel baie voorbereidings vir die tussenverkiesing reeds afgehandel is en protokol bestaan vir die veilige uitvoering van verkiesings soos in November en Desember, sal die regulasies wat politieke aktiwiteite verbied egter die veldtogte van kandidate en politieke partye beïnvloed,” sê Bapela.

Die benadering tot die verkiesingshof volg op samesprekings met politieke partye via die nasionale skakelingskomitee waartydens alle partye steun vir die uitstel uitgespreek het.

Die tussenverkiesings sou op 20 Januarie, 3 Februarie en 17 Februarie in ses provinsies, tien munisipaliteite en 14 wyke plaasgevind het.

Tussenverkiesings wat vir 3 Maart geskeduleer is, sal tans voortgaan. Die kommissie sê hy merk egter op dat die registrasie van kiesers vir 23 tot 24 Januarie geskeduleer is en dat partye en kandidate verhinder kan word om behoorlike voorbereidings te tref vir die registrasie-naweek, gegewe die huidige regulasies wat tot minstens 12 Januarie geld.

“Die OVK sal voortgaan om die ontwikkelinge rakende die beperkings en regulasies noukeurig dop te hou met die oog daarop om voort te gaan óf die hof te nader vir uitstel tot 3 Maart, asook die spoedige hervorming van enige uitgestelde tussenverkiesing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Robert ·

Gewag hiervoor, dit is ons reg om te stem, niks mag dit ontneem nie. Nie eers ‘n virus nie.

Hennie J ·

Vanjaar is ook die jaar van algemene munisipale verkiesings met my verwagting en onbeskaamde hoop is dat die anc weer gaan swaarkry by die stembus en dat die VF+ gaan skitter te koste van die anc lite(da).
Ek wil die voorspelling waag dat die anc ,met die ondersteuning van die da, sal poog om die verkiesing uit te stel en ons sodoende van nog een van ons demokratiese regte te ontneem.

JohanR ·

Wag al vanaf sedert 26ste Maart 2020 vir die aankondiging. Dis ANC juig! Weet nie hoekom die vraag al in Januarie gevra word nie. Verkiesing is eer altyd in Mei maand gehou en as dit moet dan stel uit tot Julie/Augustus. Net nog ‘n ANC bedrog spul!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.