Owerhede kry nuwe tande teen munisipale korrupsie

Anton Bredell. Foto: Wes-Kaapse regering

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het in ’n belangrike uitspraak met landwye implikasies bevind dat provinsiale regerings by magte is om munisipaliteite forensies te ondersoek waar daar ’n redelike vermoede van bedrog, wanbestuur of korrupsie bestaan.

Dié uitspraak volg op ’n poging van die Bitou-munisipaliteit, wat Plettenbergbaai en omgewing bedien, om te verhoed dat die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, Anton Bredell, ’n forensiese ondersoek van stapel stuur na bewerings van erge wanbestuur in dié munisipaliteit wat deur ’n ANC-gedomineerde koalisie bestuur word.

Die hof het egter teen die Bitou-munisipaliteit en dus vir Bredell en die Wes-Kaapse regering bevind, met die regter wat baie kritiek op die munisipaliteit uitgespreek het.

Die implikasies is dat inwoners van swak presterende munisipaliteite nou ’n verdere remedie het – hulle kan provinsiale LUR’e versoek om forensiese ondersoeke te gelas, en teen die LUR’e optree as hulle redelike versoeke in hierdie verband sou weier.

In die spesifieke geval het Bredell nie gras onder sy voete laat groei nie en ’n forensiese span het Maandag na Plettenbergbaai vertrek om die bewerings te ondersoek.

Die ondersoek wat die Bitou-stadsraad onsuksesvol probeer keer het, en dus die feite van die publiek probeer weerhou het, is dat geld oorbetaal is aan nie-bestaande maatskappye vir werk wat nie gedoen is nie. Die geldelike voordeel is deur munisipale amptenare in die sak gestop.

Die bewerings word spesifiek ondersoek teen amptenare in Bitou se burgemeesterskantoor.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het in ’n sterk bewoorde uitspraak bevind dat Bredell wel die reg het om ’n forensiese ondersoek te begin, en trouens gelas dat die ondersoek moet plaasvind omdat dit lyk of ’n toesmeerdery in Bitou aan die gang is.

Bredell het in reaksie by monde van sy woordvoerder, James-Brent Styan, gesê geen korrupsie sal in die Wes-Kaap, waar twee derdes van die land se munisipaliteite met skoon oudits geleë is, geduld word nie.

Hy het uitgewys dat die Valke tans ook ondersoek instel na gebeure in nog vier Wes-Kaapse munisipaliteite, naamlik George, Beaufort-Wes, Oudtshoorn en Kannaland (Ladismith).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Morne ·

Ek dink die volgend op die agenda van ondersoeke moet die vaal driehoek wees, veral Vereeniging en Vanderbijlpark se munisiepaliteite….

Hester de Bruin ·

Alles in die Kaap wat van JHB asb tog ons is raadloos beloftes en nog meer

Basjan ·

Liewe Hester de Bruin, as die hof in die Kaap ‘n beslissing gemaak het, is daardie beslissing orals in die land geldig indien die omstandighede dieselfde is. Die eerste paragraaf van die berig hierbo verduidelik dit mooi.

Gemaskerde Sopbeen ·

Nou moet dieselfde by die sogenaamde “publieke skole” gebeur…….waar die ryk pappies op die beheerliggaam dien en GEEN vra tydens die jaarlikse vergadering beantwoord word nie, want “ons is hier om die begroting goedgekeur te kry”. Dan word uitnodigings gerig om die volgende dag na die skoolhoof se kantoor te kom en vrae beantwoord te kry……..maar dan is die “begroting” goedgekeur? En alles in die “boeke” van die skool lyk so mooi…………maar nêrens is daar ‘n verduideliking vir “slegte skulde” nie……en jy mag nie vra nie, mag nie ‘n stel van die “boeke” kry nie, en stilbly…anders ontgeld jou kind dit!!

Alida ·

As daar n stelery was moet hulle onmiddellik tronk toe gaan. Moenie nog uitstel vir ondersoeke en bollie nie. Sluit toe. As n inbreker my goed steel gaan hy tronk toe. Hierdie mense by al die munisipaliteite landswyd is nie verhewe bo die wet nie.

Alida ·

As daar n stelery was moet hulle onmiddellik tronk toe gaan. Moenie nog uitstel vir ondersoeke en bollie nie. Sluit toe. As n inbreker my goed steel gaan hy tronk toe. Hierdie mense by al die munisipaliteite landswyd is nie verhewe bo die wet nie.

Zukof ·

Hahahaha……kry nuwe tande, wat n grap !
Nuwe tande, want dit word gereeld getrek, oewerhede het geen tande nie !!!

christa ·

SJOE JULLE MOET HIER BY TSHWANE KOM SOEK HIER IS BAIE SE EK JULLE

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.