Owerhede ‘onseker’ oor waar rondloperleeu is

Argieffoto bloot ter illustrasie (Foto: Designerpoint, Pixabay)

Owerhede is nie heeltemal seker waar ʼn rondloperleeu, wat op 14 Oktober uit die Krugerwildtuin in Mpumalanga ontsnap het, hom nou bevind nie.

Kholofelo Nkambule, woordvoerder vir die Mpumalanga-toerisme-en-parke-agentskap (MTPA), sê die leeu is die laaste keer op 29 Oktober gewaar.

Daar heers egter onsekerheid of die leeu dalk al terug wildtuin toe is of steeds vryelik rondloop.

Volgens Nkambule is slegs een leeu soek.

“Daar word aangeneem dat die leeu self in die Krugerwildtuin teruggegaan het, net suid van die Numbi-hek naby Makoko.

“Daar is geen nuwe inligting tot dusver nie, maar ons span hou die situasie dop.”

Intussen moet die gemeenskap maar steeds katvoet loop.

“Ons versoek die gemeenskap om veilig en op die uitkyk vir die leeu te wees.”

Nkambule sê leeus wat uit die Krugerwildtuin ontsnap, hou direk verband met ʼn toename in die aantal leeus in die wildtuin.

Swakker leeus word gevolglik deur hul sterker opposisie uitgedryf en soek dan gebiede uit waar minder mededingers is.

Volgens die MTPA het ontsnapte leeus nie die vaagste benul dat hulle in menslike nedersettings, boorde of tussen vee is nie.

“As gevolg hiervan is hulle meer senuweeagtig en dit lyk of hulle al hoe verder wegbeweeg om uit dié omgewings te ontsnap.”

Indien iemand die leeu sien, kan die MTPA by 013 759 5300 ingelig word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Inkpot ·

Hoe ontsnap diere deur ‘n grensdraad.
Weereens swak instandhouding.

Patch ·

Ek was by iemand se huis wat aan die wildtuin grens en ek kan jou waarborg dat die sogenaamde grensdraad plek-plek in die area nie eers meer regop is nie, so dìt is hoe die diere uit kom. Jy is heeltemal korrek behalwe vir “swak” instandhouding…daar is GEEN instandhouding nie.

Niklaas ·

Ek het verneem dat “our people” gate in die heining maak. Om sekere redes. Daars baie nedersettings naby Numbi. Dalks was die leeu daardeur na buite die KNP

Vrijburger ·

Ja, die wildtuin se grensdrade is in ‘n swak toestand. Maar vra enige wildboer, waar daar vlakvarke ens is wat gate onderdeur die heinings grou is dit bykans onmoontlik om roofdier, insluitend leeus, binne of buite te hou.

AW ·

Nou as hierdie Leeu, in aanhouding was, waarvoor was die Leeu in aanhouding, wat het die Leeu gesondig??

Shakespeare ·

“Owerhede” sê alles. Onbevoegde en ongeletterde stemvee.

Francois ·

Hulle se mens moet op die uitkyk wees ja tenminste is hierdie leeu pienk en dra n klokkie

Kobus ·

Hy het beter vleis gaan soek aangesien die stropers sulke bitter gatte is

Patch ·

Ek hoop vir die leeu se part dat hy reeds terug is in die wildtuin of dat hy veilig terug besorg sal word as hulle hom vind.

Dup ·

Nou wat gaan gebeur as die leeu vir JOU eerste sien? Dit behoort nogal op ñ opwindende drafstappie uit te loop.

Swerwer ·

Die gras aan die ander kant van die draad het seker maar vir Leeu aanlokliker gelyk.

SjN ·

Misdaad het verseker saam met die grendeltyd daarby drasties afgeneem in daai spesifieke gebied.

Cherokee ·

Weer geen foto! Nou kan dit gebeur dat mense die verkeerde leeu vang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.