Owerhede slaggereed vir Wêreldbeker-netbaltoernooi in Kaapstad

Die Kaapstadse internasionale konvensiesentrum (Kiks) (Foto: CTICC)

Die owerhede staan slaggereed om seker te maak die Wêreldbeker-netbaltoernooi wat Vrydag in Kaapstad begin, verloop seepglad en sonder enige ongewenste voorvalle.

Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur (NatJoints), wat bestaan uit verskeie regeringsdepartemente, gelei deur die polisie, die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en die Staatsveiligheidsagentskap (SSA), het planne gereed om die veiligheid van die netbalspelers en besoekers te verseker.

“’n Prioriteitskomitee onder die vaandel van NatJoints wat nou saamwerk met Netbal SA, die departement van sport, kuns en kultuur en die Stad Kaapstad se direktoraat vir veiligheid en sekuriteit, het gereeld met relevante rolspelers vergader om die veiligheidsplan vir die Wêreldbeker-netbaltoernooi te ontwikkel,” bevestig brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder.

“Hierdie noodsaaklike veiligheidsbenadering is om sekerheidsmaatreëls daar te stel, die impak van enige voorvalle wat plaasvind te beperk deur gebeurlikheidsbeplanning en die waarskynlikheid van voorvalle wat voor, tydens en na die netbaltoernooi plaasvind, te beperk.”

Die sekerheidsplan omvat planne om die spanne se algemene veiligheid asook veiligheid by hul verblyf, die roetes wat gereis word, stadsekuriteit, veiligheid by die venues en skarebestuur te verseker.

“Ons handhaaf ’n hoë sigbaarheid van polisiebeamptes te voet en voertuigpatrollies gedurende die toernooi. Die teenwoordigheid van wetstoepassingsbeamptes vir die duur van hierdie Wêreldbeker sal dien om daaglikse polisiëring in al die geïdentifiseerde gebiede te verbeter.”

Verkeersontwrigting kan in die omgewing van die Kaapstadse internasionale konvensiesentrum (Kiks), waar die toernooi van vandag tot 6 Augustus sal plaasvind, verwag word gegewe die groot aantal afgevaardigdes wat dit bywoon. Motoriste word in kennis gestel dat sommige strate om sentrum óf gesluit sal wees óf die vloei van verkeer beperk sal word vir die duur van die netbaltoernooi.

Slegs geakkrediteerde persone en voertuie sal binne beperkte gebiede toegelaat word. “Daarom word mense wat nog nie geakkrediteer is nie, ook die media, versoek om die nodige reëlings te tref om hul akkreditasie te bekom.”

’n Paar dae gelede het die kaptein van die Jamaika-netbalspan, Jhaniele Fowler, op sosiale media, haar kommer oor veiligheid geopper nadat die speler se geld uit haar beursie in die hotel waar die span woon, gesteel is.

Sy het op Instagram geskryf dat sy nie veilig in Suid-Afrika voel nie.

NatJoints het Donderdag tydens ’n mediakonferensie bevestig dat die voorval nie aangemeld is nie en dat ’n ondersoek nie sonder ’n verklaring van Fowler begin kan word nie.

JP Smith, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê die stad is bewus van die beweerde diefstal en sê hulle wag vir verdere besonderhede oor die voorval.

Volgens Smith sal die stad se wetstoepassingsagentskappe, metropolisie en ramprisikobestuursentrum en brand-en-reddingsdienste saam met die polisie gereed staan.

“Afgesien van personeel wat ontplooi is as deel van die gebeurtenisveiligheidsplan, sluit hierdie ontplooiing ook 100 bykomende wetstoepassingspersoneel in wat ’n jaar gelede na die Kaapstadse middestad ontplooi is, asook die 70 lede van die toerismeveiligheidseenheid, wat deur die provinsiale regering gefinansier word,” sê Smith.

“As deel van die stad se bydraes is voertuig- en voetpatrollies ontplooi, voertuigkontrolepunte ingestel, die gebruik van ons kringtelevisie-netwerk beskikbaar gestel om die gebeurtenis te monitor en sal deurlopende wetstoepassing plaasvind.”

Volgens Smith is die netbaltoernooi ’n groot ekonomiese belegging en indien dit goed verloop, kan dit toekomstige groot geleenthede na die stad lok.

Terwyl die stad soveel hulpbronne gebruik om die geleentheid te beveilig, doen hulle ook ’n beroep op die publiek om te help deur enige voorvalle by die stad se openbare noodkommunikasiesentrum aan te meld deur 021 480 7700 te kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Charles ·

Wag so bietjie! Ek hoop iemand anders help die owerhede om slaggereed te wees.

HPJ ·

Daar is mos nie misdaad in die Kaap nie Die DA is mos in beheer O ja Wes kaap se misdaad lyk maar ssos die res Sorry DA nog n teken julle kan net kla en niks doen nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.