Owerhede staan bont met vermiste kinders op strande

Argieffoto: Pixabay

Duisende mense stroom dié tyd van die jaar na veral kusdorpies en strande en dis ʼn bykans onbegonne taak om te verseker kinders bly veilig.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en maatskaplike dienste, sê die stad, met sy meer as 300 km‑kuslyn en amper 50 strande, doen alles moontlik om te verseker kinders wat wél afdwaal, met hulle ouers herenig word.

Smith sê stadsamptenare, onder leiding van die departement van maatskaplike ontwikkeling, beman tente waarheen kinders geneem word wanneer hulle wegraak. Besoekers kan by dié tente aanmeld vir ʼn ID-bandjie vir kinders met ʼn reeksnommer wat verbind word met ouers se kontakbesonderhede. Op dié manier kan ouers veel vinniger opgespoor word as ʼn kind skielik verdwyn.

Smith sê ten spyte van hulle beste pogings om te verseker kinders raak nie weg nie, moet wetstoepassers soms kind-op-die-heup op en af strandlangs stap, terwyl hulle oor ʼn megafoon na ʼn kind se ouers roep. Hy sê in sommige gevalle daag ouers eers ure nadat ʼn kind by een van hulle tente aangekom het, óók daar op om te soek na ʼn verlore kind.

Smith sê geen alkohol of glas word op Kaapstad se strande toegelaat nie, en wetstoepassing in dié verband word streng toegepas. “Daar is ongelukke, bakleierye, verdrinkings, padongelukke en anti-sosiale gedrag, en alkoholmisbruik is dikwels die middelpunt van dié probleme,” sê Smith.

Hy sê die stad ontplooi 300 lewensredders op strande en vra mense – én hulle kinders – om dié amptenare se versoeke te gehoorsaam om uiteindelik almal se veiligheid te verseker.

Derduisende mense besoek ook Durban oor die Kerstyd. Verlede jaar het meer as 250 kinders in dié tyd van hulle ouers of versorgers af weggedwaal. Die meeste van dié kinders is met hulle ouers herenig – ook danksy die meer as 40 000 armbandjies wat die stad aan kinders uitreik.

Durban ontplooi vanjaar ook amper 800 ekstra wagte en polisielede om besoekers veilig te help hou, maar voorvalle van geweld of kinders wat wegraak het in die verlede al dikwels ʼn demper op feestelikhede geplaas, veral op Kersdag, Oujaarsdag en Nuwejaar. Meer as 800 000 toeriste het eThekwini verlede jaar oor die Kerstyd besoek, terwyl Durban se strande 3,9 miljoen besoekers verwelkom het. Duisende van dié toeriste is kinders.

Bel hierdie nommers wanneer jou kind verdwyn:

SAPD se noodnommer: 10111
The Pink Ladies: thepinkladiesza.weebly.com / 072 214 7439 of 083 378 4882 / [email protected] of [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hollander Ouma ·

Hoekom armbandjies ??? Skrijf die telefoon nommer van pa /ma op die kinders se boarm.
Susces verzekerd!!!!

Knapie ·

Slegs een nommer hoef af te was in see/ swembad dan is die telefoon nommer nie meer bruikbaar nie.

Papa G ·

Ek sal beserk raak as een van my kinders vir vyf minute weg is. Ek slaan my se oge op na die berge… Ure later?

Oom Jaco ·

“Die meeste” van die kinders is met hulle ouers herenig… Lyk my dat sommige kinders dan gladnie met hulle ouers herenig word nie? Wonder wat gebeur met hulle?

VanAfrika ·

Hoe daag jy ure later op as jou kind vermis word? Ek sal histeries raak. My een seun het in n winkel sentrum van my eks man af na n ander winkel geloop sonder dat hy dit gesien het. Toe ek klaar geld getrek het en ek hom en sy broer aan hul hand wil vat toe kom ons agter hy is weg. My eerste gedagte was dat iemand hom gesnatch het en hy is in n taxi op pad Soweto toe. Dit was presies die tyd toe blanke kinders ontvoer was vir muti. Kinders moes blonde hare met groen, blou of grys oê hê, een oog kon verkoop word vir R3000.00 en my twee seuns het blou/groen oë met blonde hare. Ons hardloop die sentrum deur en kry hom toe by n speel plek vir kinders. Kon sy nek omdraai toe ons hom kry. Kinders raak vinnig weg, hou hulle maar styf aan die hande vas of hak jou vingers in hulle klere as hulle saam jou loop. Ons wil nie hê hulle moet in verkeerde hande land nie.

Martie ·

Jinne, jy kyk na jou kinders as jy kinders het, jy laat hulle nie aan hulle eie lot oor nie, dis mos n gesinsvakansie! En jy laat nie ouer boetie of sussie na die kleintjie kyk nie, want JY moet na ouer boetie of sussie kyk!!!

MJ ·

Gelukkig kan ons nog buite seisoen vakansie hou… vir hierdie rush op die paaie en strande en klein dorpies sien ons nie kans nie. Ry eerder veilig met Jan tuisbly se karretjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.