Owerhede tree op teen misbruik van Sassa-kaarte

(Argieffoto)

Die owerhede tree streng op teen mikroleners wat hulpbehoewendes se Sassa-kaarte, wat vir die uitbetaling van welsyntoelaes gebruik word, misbruik.

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het geantwoord op ’n parlementêre vraag deur die EFF-LP Laetitia Arries, wat wou weet of sy bewus is van die wyse waarop mikroleners (loan sharks) arm mense se Sassa-kaarte konfiskeer en die geld dan vir hulself aanwend. Arries wou weet wat haar departement aan sodanige gedrag doen.

Zulu het geantwoord dat Sassa-kaarte en die bestuur daarvan onder die Posspaarbank ressorteer.

Sowel die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) as die Poskantoor se ondersoekbeamptes werk nou saam met die polisie om mikroleners wat hul kloue in Sassa-begunstigdes inslaan, te beveg.

Die minister het verskeie voorbeelde verskaf van beweerde mikroleners wat reeds aangekeer is nadat hulle in besit van ’n verskeidenheid Sassa-kaarte betrap is. Onwettige geldleenpraktyke kom wyd voor in alle provinsies en sluit onder meer die volgende onlangse voorbeelde in:

* Op 7 Maart vanjaar is ’n 48-jarige man in hegtenis geneem met 70 Sassa-kaarte en R7 640 se kontant in sy besit;

* Op 9 Februarie vanjaar is ’n Kaapse bedrogsindikaat vasgetrek nadat 49 Sassa-kaarte in ’n sjokoladeboks gevind is. Die verdagtes is in Mitchells Plain en die Bo-Kaap aangekeer. Na ondervraging het die owerhede toegeslaan op ’n eiendom in Albow Gardens in die Kaapse woonbuurt Rugby, waar beslag gelê is op ’n verdere 191 Sassa-kaarte;

* Op 11 Oktober verlede jaar het die polisie twee verdagtes in hegtenis geneem en beslag gelê op 495 Sassa-kaarte na ’n klopjag in Pietermaritzburg; en

* Op 1 Mei verlede jaar het die polisie in Pretoria sewe verdagtes in hegtenis geneem met 91 Sassa-kaarte en meer as R191 000 in hul besit.

Ten einde hierdie tipe gedrag te voorkom het Sassa voortgesette mediaveldtogte begin om dit vir ontvangers van Sassa-toelaes op die hart te druk dat dit teen die wet is om hul Sassa-kaarte en ‑besonderhede aan enigiemand te verskaf. Dit is ’n oortreding van sowel die Maatskaplike Bystandswet van 2004 as die Nasionale Kredietwet van 2005, en kan tot die vervolging van die ontvanger van Sassa-toelaes lei.

Sassa waarsku ook voortdurend die ontvangers van welsyntoelaes teen gewetenlose mikroleners. Die publiek word ook aangemoedig om mikroleners met Sassa-kaarte en/of ID-dokumente in hul besit by die polisie te verkla.

Samewerking tussen die publiek, welsynsowerhede en die polisie het spesifiek in die Oos-Kaap reeds tot die inhegtenisneming van verskeie mikroleners in die Oos-Kaap gelei, het die minister gesê, en onderneem dat hierdie optrede sal voortduur en verskerp sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kokerboom ·

Hoe herstel ‘n mens so ‘n verswakte, verrotte, siek samelewing???

Nie Verbaas ·

Daar is geen herstel vir Suid Afrika nie. Alles maar alles is korrup. Hoe draai mens dit om tensy die land van die korrupte regerende party en elke liewe korrupte kader ontslae raak? Dit is die enigste manier.

casper ·

Met CPS was die tipe ding onmoontlik weens die strawwe identifikasie proses. Die ANC wou dit juis stop sodat die geld kan wegraak !!!

Regverdigheid ·

Ons land reaak al hoe meer korup maak mens so hartseer.

Nie Verbaas ·

Dit is goed wat gedoen is tot op datum maar wat van korrupte amptenare?

Nozi ·

Sassa kaarte word by drank winkels hier by ons ook aanvaar. So ons betaal vir hul drank.

Sonia ·

Mikroleners is grotendeels gewetenlose mense maar baie van die mense wat geld by hulle leen is net so gewetenloos want hulle betaal nie hulle lenings/skuld nie – vra maar vir Edgars e.a.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.