Owerhede waarsku publiek wat naby Kataza kom

Kataza. (Foto: Baboons Matter/Facebook)

Kaapse owerhede het die publiek versoek om hul afstand van Kataza te hou sodat hy makliker by die Tokai-trop kan inskakel.

Volgens kenners kan dit weke of selfs maande neem voordat Kataza in die trop aanvaar word. Hy moet op sy eie tyd met die ander bobbejane omgaan, daarom moet mense hom alleen los en hom nie voer nie.

ʼn Aantal video-opnames wat oor die naweek geneem is, wys egter hoe individue hom voer en nie hul afstand van hom hou nie.

“Om wilde diere te voer is nie net onwettig nie, maar nadelig vir diere, aangesien mensgemaakte voedsel ongesond is vir bobbejane en tot ʼn toename in klopjaggedrag sal lei,” sê Marian Nieuwoudt, burgermeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewing in Kaapstad.

“As sodanig het ons CapeNature gevra om die videomateriaal te ondersoek sodat moontlik regstappe gedoen kan word.”

Kataza het die afgelope naweek die meeste van sy tyd saam met die Tokai-trop deurgebring en selfs naby die SANParke-kantore in Tokai geslaap.

Sy gedrag is dié van ʼn tipiese volwasse bobbejaan wat stadig by ʼn nuwe trop inskakel.

Soggens volg hy die Tokai-trop na waar hulle vreet terwyl hy hul vriendelik groet deur sy lippe te klap en sy ore terug te trek. Na ʼn ruk groet nuuskierige jong bobbejane Kataza op ʼn soortgelyke manier.

Aktiviste wil Kataza met sy voormalige trop herenig. (Foto: Leah Bell-Leask/Baboons Matter/Facebook)

Maroela Media het vroeër berig dat aktiviste Kataza wil herenig met sy voormalige Slangkop-trop in Kommetjie.

In ʼn poging om dit te laat realiseer het die bewaringsorganisasie, Baboons Matter, Maandag ʼn protesoptog naby Tokai gehou.

“Die mense van Kaapstad het nie net hul liefde en besorgdheid vir Kataza gewys nie, maar ook vir die manier waarop bobbejane bestuur word,” lees Baboons Matter se Facebook-plasing.

“Die protesoptog was deur Beauty Without Cruelty Suid-Afrika en Cape Town Unites for Animals georganiseer. Ongeveer 300 mense het in ooreenstemming met die permit se vereistes aan die protesoptog deelgeneem en langs die pad, ver weg van die Tokai-troep en van Kataza, betoog.”

Kataza was verlede week deur ʼn veearts en gedragsekoloog wat spesialiseer in primate, ondersoek en daar is bevind dat hy in ʼn goeie toestand is en dat sy pels goed versorg is. Kataza dra steeds die moniteringsband en word van ver af dopgehou, in ooreenstemming met die aanvaarde protokolle wat deur Kaapstad se Bobbejaanprogram ingestel is.

Dié program het sedert 2006 tot op hede ʼn toename van 80% in die bobbejaanbevolking van die Kaapse Skiereiland gesien, behalwe in die troppe in die Kaapse Nasionale Park.

Die aantal bobbejane het van 248 in 2006 tot die huidige 445 toegeneem. Dit is gelykstaande aan ses nuwe troppe, met ʼn gemiddeld van 30 bobbejane per trop wat langs Kaapse voorstede woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Belinda ·

Help asb eerder kinders en vroue in nood!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!! Vorm alliansie teen verkragting, mishandeling en moord!!!!!!

Cindy ·

jy verstaan natuurlik dat kinders en vroue (en mans) hierdie diere nodig het in die wild om te oorleef reg?

Nicolene ·

Belinda, begin die aksie. Ons sal jou ondersteun. Ek dink nie ons moet mense wat ‘n spesifieke saak veg, ontmoedig deur “eerder” iets anders voor te stel nie.

Annakapat ·

Ek erken dat die saak van kinders en vroue BAIE belangrik is maar daar is sekerlik plek in ons samelewing om diere soos bobbejane ook te help, Belinda…

Snowball ·

Arme dier, ek hoop hy word aanvaar in die nuwe trop. Ons het genoeg ellende in SA en genoeg diere wat verinneweer word agv van mense se selfsug en hebsug. Eers wanneer ‘n samelewing die mees weerloses beskerm en na hulle omsien kan dit geag word as beskaafd. Respek vir die lewe van ‘n eenvoudige bobbejaan wys maar eintlik hoe jy die wêreld om jou beskou en weerspieël jou agting vir alles wat weerloos kan wees, soos vrouens, kinders en bejaardes.

Wielspore ·

Ons woon nou omtrent 23 jaar in ‘n bewarings gebied waar wild natuurlik voorkom, bobejane is beperk en blou ape is algemeen.
Daar is net een reel wat nagekom moet word om probleme uit te skakel, moet nie wilde diere voer.
Blou ape is sosiale diere net soos mense, as ons buite sou sit op die gras en die trop beweeg deur ons erf soos hulle elke dag maak, sal hulle naby aan ons kom. Selfs ons twee brakke het al vrede gemaak met die ape en daar is geen konflik.

Hans ·

Hierdie bobbejaan het n probleem geword omdat mense hul gevoer het. daarna word die mens prooi vir maklike kos, inbrake en grypdiefstalle. Die bobbejane het nie meer natuurlike vyande nie en die troppe word al groter, en benodig meer kos om almal gevoer te kry. Ek glo nie die mense wat se huise geplunder is sal saam staan om hom terug te bring nie, hulle maak derduisende rande se skade en bedingges die hele plek. Nog n goeie voorbeeld was Marloth Park, die bobbejane het daagliks ingebreek by huise, en trellidoor en diefwering net n struikelblok.

Androclus ·

Ja hy doen wat hy wil.Hy is ook soos ‘n grondbesetter tipes EFF

Oujongvrou ·

Ek is so dankbaar daar is mense wat ons diere se belange op die hart dra.

Vrijburger ·

Sal die anties asb help met finansiering dat ‘n paar luiperds ook in die omgewing hervestig kan word?

PieterP ·

Ja julle slimmetjjes. Voer die diere. Hulle verloor hulle natuurlike vrees vir mense
Nou indien julle of julle kinders aangeval en verskeur word, moet nie die diere blameer nie, moenie huil en jou storie aan huisgenoot probeer verkoop nie, vat jou pak en moenie dan die dier wil laat uitsit nie. Why is common sense not so common??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.