Pa (43) sterf in huisbraak: ‘Hy wou gesin ten alle koste beskerm’

Pieter Verster (Foto: Facebook)

Die 14-jarige seun van Stellenbosch in die Wes-Kaap wat Dinsdagoggend ernstige beserings opgedoen het in die huisbraak waarin sy pa gesterf het, het probeer om sy gesin te beskerm deur die aanvallers met ʼn gholfstok te takel.

Maroela Media het vroeër berig die man, wat intussen as Piet Verster geïdentifiseer is, is deur twee mans oorval terwyl hy en sy vrou geslaap het. Nadat ʼn stoeiery tussen lede van die gesin en die aanvallers ontstaan het, is die man en sy seun, JP, verskeie kere met ‘n mes gesteek. Verster is op die toneel dood.

Harold Verster, uitvoerende hoof van die Cheetahs en Piet se oom, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die gesin is “erg geskok en getraumatiseerd” ná die skielike verlies van ʼn man en pa.

“Ons kan nog nie sin maak van die voorval nie,” het Verster gesê. “Die een oomblik is alles nog normaal en die volgende oomblik is dit ʼn warboel. Dis verskriklik wat gebeur het en hulle is baie erg getraumatiseerd.”

Volgens Verster het die verdagtes Piet in sy slaap oorval. Hy sê hulle het hom met ʼn mes aangeval waarna ʼn stoeiery tussen hom en die aanvallers ontstaan het. Piet het glo enkele oomblikke nadat die stoeiery ontstaan het inmekaargesak.

“JP het die rumoer gehoor en op die stoeiery afgestorm met ʼn gholfstok. Hy het die verdagtes met ʼn gholfstok bygedam, en hulle het hom ook aangeval. Hy is in die gesig geslaan én met die mes in die gesig gesteek. JP het daarin geslaag om sy ma en sy jonger broer se lewe te red – ons weet nie wat sou gebeur het as hy nié teen hulle baklei het nie,” het Verster gesê.

Verster sê Adele, Piet se vrou, het glo in die straat afgehardloop en om hulp geskree. “Ons is nie seker presies hoe die voorval afgespeel het nie omdat ons nie self daar was nie en hulle maar nog baie geskok is. Ons is dankbaar dat hulle ongedeerd is, maar ons harte is seer dat Piet oorlede is. Hy was ʼn wonderlike jong man met ʼn passie vir sy gesin. Hy sou enigiets vir hulle doen – daarom het hy hulle teen dié aanval probeer beskerm,” sê hy.

Hy sê die polisie is steeds op die toneel en het reeds ʼn ondersoek begin. Forensiese deskundiges is ook op die toneel om bewyse te versamel.

Verster sê Adele en haar driejarige seun Retief probeer om “onder die omstandighede kop bo water te hou” maar gaan in dié stadium op JP se herstel fokus.

JP was teen Dinsdagmiddag steeds in ʼn Wes-Kaapse hospitaal. Dit is nie bekend of hy ʼn operasie ondergaan het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Annelien ·

Dan mag ons nie haat nie….maar as hy jou kind vertel wat met die tannie wat sy ken, se man gebeur het, en sy bars in trane uit en vra: kan ons asb trek?…dan kan jy nie anders as om te haat nie…baie sterkte vir die hele familie.

jan_alleman ·

Dit is a goeie ding die man het nie n pistool by hom gehad nie want dit sou al die “bleeding heart liberals” hier op MM so ontstel het , jy sien julle is nog al die tyd reg , hy het nie n pistool gehad nie so nou kan hy nie van moord aangekla word nie , hulle kon ook nie sy pistool by hom afvat nie , julle is almal so slim ek wil sommer vir julle n goue sterretjie op julle voorkoppies plak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.