Pa aangekla van moord op baba

Argieffoto. (Pixabay)

ʼn 34-jarige man het Maandag in die landdroshof op Coligny in Noordwes verskyn op aanklag van moord op sy 10 maande oue babaseun.

Dit volg nadat die baba Sondag erg aangerand agter ʼn sinkhuis in die Tlhabologang‑nedersetting gevind is.

“Volgens inligting wat die polisie ontvang het, was Klaas Kgasi Saterdagaand saam met sy vriendin, die ma van die kind, by ʼn partytjie in dié nedersetting buite Coligny,” het lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder, gesê. “Gedurende die partytjie het hy die kind by die ma gevat om na die kind se tannie toe te neem om op te pas. Hy het later met die kind se komberse teruggekom en gesê hy het die kind by sy tannie gelos. Hulle is toe albei terug na die beskuldigde se huis.”

Die volgende oggend het bure van die paartjie die beskuldigde se meisie geroep en gewys dat ʼn baba se liggaam agter hul sinkhuis gevind is. “Die polisie is ontbied en het gesien dat die baba erg aangerand is en kneusplekke oor sy hele lyf gehad het.”

Die kind se pa is in hegtenis geneem en van moord aangekla. Hy bly vir eers in aanhouding.

Dit is die tweede baba in net ʼn paar dae wat dood in dié provinsie aangetref is. In ʼn ander voorval is die liggaam van ʼn twee weke oue baba Sondag langs die N12 in Stilfontein ontdek.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Misky ·

En dan word daar twak kwytgeraak van ubuntu….. RIV kleine mensie, jy het dit nie verdien nie

Di ·

Wreed! Dit gaan my verstand te bowe dat hulle kinders maak maar op die ou einde ontslae raak van hierdie onskuldige babatjie op ‘n wrede manier. Ek sal eerder nie verder se wat ek dink nie. Silence is golden!

BOKKIEBEK ·

Hy sal wel eendag moet rekenskap gee….Ek bid dat dit sommer blitsig sal wees. Rus sag kleine mensie…ek wil huil as ek dink aan die vrees en pyn wat hy moes deurgaan…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.