ʼn Pa van die Oos-Rand is bekommerd nadat sy seun Woensdagoggend laas gesien is.
Gerhard Marais vertel sy seun Donovan was tussen 09:00 en 10:00 alleen tuis saam met hul huishulp. Terwyl sy die 14-jarige se kamer gestofsuig het, het Donovan blykbaar by die voordeur uitgeglip, want toe sy weer in die sitkamer kom, het die deur wawyd oopgestaan.
Marais vertel hy het op beeldmateriaal van bure in Bertonpark, Boksburg, se veiligheidskameras gesien hoe heelparty motors in hul straat ry, maar daar is geen teken van Donovan nie.
Hy sê dit is die eerste keer dat Donovan vermis word. “Dis nie asof hy ʼn rede gehad het om weg te loop nie. Ons het nie eens ʼn rusie gehad nie.”
Marais en sy vriendin, Yvonne Lyons, het talle organisasies soos Pink Ladies en Missing Children SA genader om na die seun te help soek. Hy het ook kontak met Suid-Afrikaanse grensposte gemaak om op die uitkyk na Donovan te wees ingeval hy die land verlaat.
Enigeen met inligting wat hulle kan help om Donovan op te spoor, moet Marais bel by 083 462 6428 of Lyons by 076 236 9272.
Donovan is 1,55 m lank, is slank gebou, het bruin oë en ligte bruin hare en het ʼn litteken van ’n sny aan sy voorkop regs bo en ook ’n litteken onder sy ken. Hy het ʼn swart broek en vaal kappietop gedra toe hy laas gesien is, maar het ook ʼn sak klere by hom gehad.
[RED] Die berig is gewysig sedert dit oorspronklik gepubliseer is.