Pa dalk verlam ná kleinhoewe-aanval: ‘Hy vra nie hoekom nie’

Jonty Jacobs. Foto: Facebook

Jonty Jacobs (28) kan moontlik permanent verlam wees nadat hy vroeër vandeesmaand op ʼn kleinhoewe in die Kameeldrift-omgewing in Pretoria geskiet is, maar hy is vasbeslote om selfs in dié moeilike omstandighede van God se genade te getuig.

Só sê Jonty se pa, Danie Jacobs, oor sy seun se positiewe gemoedstoestand waar hy steeds in ʼn hospitaal in Pretoria behandel word.

“Hy is so positief, dit is amper te goed om waar te wees. Hy vra nie ‘hoekom ek’ nie, hy sê ‘hoekom nié ek nie’. Hy het gisteraand weer vir my ʼn boodskap gestuur en gesê maak nie saak wat vorentoe gebeur nie, hy weet dat dié ʼn nuwe paadjie is wat die Here vir hom uitgekap het.

“Dit is menslik om te hoop [dat hy weer sal kan loop], maar indien nie, aanvaar hy dit so, want hy weet die Here het ʼn groter doel met sy lewe,” sê Danie.

Maroela Media het vroeër berig Jonty is op 20 Junie tydens ʼn aanval op die kleinhoewe in die bors geskiet. Sy verloofde, Doreen Lubbe, en sy sesjarige dogtertjie wat ook in die huis was, is ongedeerd.

Jonty het erge skade aan sy longe opgedoen en van sy werwels is deur die koeël beskadig. Hy is aanvanklik in die waakeenheid opgeneem, maar is later na die hoësorg-eenheid geskuif en intussen na ʼn gewone saal binne die trauma-eenheid geskuif.

Jonty Jacobs en sy verloofde, Doreen Lubbe. Foto: Facebook

Weens die skade aan sy rugwerwels is Jonty van sy onderlyf af verlam. Of dié verlamming permanent is of nie, is tans nog onduidelik.

“Die area rondom die werwels is nog te geswel vir dokters om behoorlik te kan sê wat die skade en die pad vorentoe is. Ons wag nou dat die swelling heeltemal sak voor hulle nog ʼn skandering sal doen en dan vir ons sal kan sê wat vir Jonty voorlê,” sê Danie.

“In dié stadium sien ek dit as 50/50 – die ding kan enige kant toe draai. Ons het nog geensins ons lewens aangepas of begin dink aan permanente verlamming nie. Ons bly positief en glo hy sal weer kan loop. Maar dit draai maar in ʼn ou se agterkop rond… Ons sal nou graag wil weet watter kant toe.”

Volgens Danie het Jonty se longe “wonderbaarlik” goed herstel en ontvang hy reeds fisioterapie vir sy longe. Sodra die laaste skanderings vir die rugwerwels gedoen is, sal dokters oorweeg om hom na ʼn ander saal te skuif waar hy voltyds rehabilitasie sal ontvang.

“Dokters staan verstom oor sy vinnige herstel. Dit is te groot vir my om regtig te verstaan. Sy herstel is net amazing, dis al,” sê Danie. “En dan nog sy vasbeslotenheid om positief te bly deur hierdie hele ding. Dit het net my voete onder my uitgeslaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

T. S ·

Sjoe hoe seer is my hart nou. So ‘n mooie jong man. Die onreg skree ten hemele.

Corrienne ·

Kommentaar als so’n mooi jong man is klaar diskriminasie. Vir elke persoon mooi lelik jong of oud moet sulke goed nie oorkom nie. Dan lees ek oor die genade en God en alles. God wil voorseker nie dat jou ongelukke oorkom nie, SA het geval as gevolg van sonde, ontrou aan GOD Almagtig, sportgod, politiek sport en nog veel meer. Ek sal nooit kan en wil lewe soos sommiges onder ons, ek sal soos Koning David of Josua wil wees. Oog om oog tand om tand. Genadeloos toeslaan op die wat my of my familie of my volk sou benadeel. Ek het geloof in die Here, my magtig die Here ken nie pasifiste nie.

Connie ·

Sterkte aan Jonty .Die jong man het n baie groot geloof,die Here sal hom deur dra.
God is Groot.
En watter mooi jong man,asook sy verloofde.
Alles wat mooi is vir die toekoms.

KP ·

Kan hy nie die regering dagvaar en n eis instel nie? Is daar iemand wat n ingeligte antwoord kan gee.

Theresa B ·

Ek bid saam met julle dat die skade nie permanent sal wees nie. By God is alles moontlik! Sterkte!

wielie ·

Soos die renosters uitsterf … so sterf mense op plase en plotte uit!

karin ·

Jonty….ook jy is in ons gebede. Sterkte en staan vas in jou geloof. Jou geloof sal jou red !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.