Pa dán verhoor ná moord op tweeling

Mario-César Deus Yela. Foto: Catherine Rice/ANA

Die verhoor van die Spaanse tandarts wat daarvan beskuldig word dat hy sy tweeling vermoor het terwyl hy met vakansie in Kaapstad was, sal in November begin.

Regter Vincent Saldanha het beslis dat die verhoor op 12 November in die Wes-Kaapse hooggeregshof sal begin.

Mario-César Deus Yela (50) staan tereg op twee aanklagte van moord. Hy word daarvan beskuldig dat hy sy driejarige kinders, Maximo en Octavia, in April verlede jaar in ʼn vakansiewoonstel in Houtbaai vermoor het.

Yela se eksvrou en die ma van die kinders, Julia Engelhorn, was ook Maandag in die hof. Die verhoor is al verskeie kere uitgestel aangesien die staat en die verdediging nie op ʼn datum ooreen kan kom nie.

William Booth, Yela se regsverteenwoordiger, het die hof versoek om die saak tot 4 Februarie uit te stel, maar regter Saldanha het die versoek geweier.

Julia Engelhorn saam met Maximo en Octavia. Foto: Facebook

Staatsaanklaer Louise Friester-Sampson het gesê sy is gereed om met die verhoor voort te gaan, maar die hofrol vir die vierde termyn is reeds vasgestel.

Regter Saldanha het die vertragings as ʼn “ernstige kommer” beskryf. Hy het die saak hierna vlugtig uitgestel om die staat en die verdediging kans te gee om op ʼn vroeëre verhoordatum ooreen te kom wat hulle gedoen het.

ʼn Geskikte Spaanse tolk sal vir die verhoor aangestel word.

Engelhorn het op 6 April 2017 op haar kinders se lyke in Yela se vakansiewoonstel afgekom. Yela het Engelhorn glo vir middagete na die woonstel genooi waar sy op die lyke afgekom het. Hy het haar toe glo met ʼn mes gedreig voor hy van die toneel gevlug het.

Yela is kort daarna in Wynberg in hegtenis geneem. Hy bly in aanhouding.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.