Pa desperaat vir antwoorde ná seun se dood

Jean Goosen. Foto: Verskaf.

ʼn Desperate pa wie se 29-jarige seun vroeër vanjaar in ʼn beweerde tref-en-trap ongeluk in Pretoria dood is, het ʼn beroep gedoen op enigiemand met inligting oor die voorval om na vore te kom.

Jacques Goosen, pa van Jean Goosen, het aan Maroela Media vertel die voorval het op 26 Mei tussen 17:45 en 18:00 by die N4/N1-wisselaar op die pad na Witbank plaasgevind. Jean, wat op sy motorfiets was, en ʼn vriend, ook op ʼn motorfiets, het saam gery.

“Jean het ʼn motor verbygesteek en is toe deur ʼn motor getref. Hy is op die toneel dood verklaar,” het Goosen gesê.

Volgens Goosen was mense op die toneel baie goed vir sy seun en ʼn dokter wat aan diens was, het onmiddellik probeer help.

Volgens hom was daar ʼn motor wat glo naby aan Jean gery het, maar is dit nie duidelik wie hom getref het nie. Dié motorbestuurder het ná die voorval van die toneel gevlug.

“Dit gaan nie vir ons oor wraak nie, ons wil net afsluiting kry. Iemand se lewe het aangegaan terwyl ons lewens tot stilstand gekom het. Ons lewe kan nooit weer dieselfde wees nie, ons sal nooit weer die voorreg hê om iets saam te doen nie. Niks sal hom ooit terugbring nie. Ons vertrou die Here dat hy ons sal help, Hy is ons anker.”

Jean Goosen. Foto: Verskaf.

Goosen vertel hul familie glo iemand moes iets gesien het. “Ons vra net dat die persoon wat verantwoordelik is na vore sal kom, hulle het dalk nie tóé die moed gehad nie.”

Kapt. Jan Sepato, woordvoerder van die polisie, het Maandagoggend aan Maroela Media gesê die polisie sit met hul hande in hul hare. Hul ondersoek tans ʼn saak van strafbare manslag.

“Sonder iemand wat na vore kom met ʼn registrasienommer kan ons regtig nie veel doen nie. Ons is jammer, ons weet hoe moeilik dit is. Daar was verf op die fiets gevind, maar dit is moeilik om die eienaar van die voertuig op te spoor vir ʼn vergelyking sonder ʼn registrasienommer. Ons doen regtig ʼn beroep op enigiemand wat enige inligting oor die voorval het om asseblief na vore te kom.”

Volgens Sepato kan die saak van strafbare manslag moontlik na moord verander word indien iemand in verband met die voorval in hegtenis geneem word. “Die hof sal moet beslis of dit ʼn ongeluk was en of dit met opset gedoen is.”

Enigiemand met inligting kan konst. Michael Mashilo by 076 249 8733 of Jacques Meiring van Divergent Ops by 082 872 3542 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Anoniem ·

Dis so hartseer sterkte aan die familie hoop julle kan afsluiting kry .

Katerina ·

Dit maak my hart baie seer, wat n lieflike jong man..Innige meegevoel aan sy gesin en geliefdes.

Mariaan ·

Sjoe ja dis verseker hartseer…so iets vernietig eintlik n ouer se lewe…so jammer vir julle…wat van die vriend wat saam met hom gery het…het hy niks of niemand verdag opgemerk nie?

Elanie ·

Ek weet waardeur die familie gaan, my ouster seun (33) verlede jaar Febr’17 ook met motorfiets oorlede, 2de jongste in 2013 ook by die dood omgedraai.
Ek het die grootste vrees vir n motorfiets vandag, maar eks altyd op die uit kyk vir motorfietse en gee altyd toe/voorkeur.
Sterkte vir al die ouers ,vriende en familie en ondersteun hul met die ondersoek. GOD SE WIL SAL GESKIED.
Van n hartseer Moeder!

Irene ·

So jammer maar daar is iets soos gewete wat jou gaan opeet dan kom die persoon na vore

Andrea ·

Daar is baie, baie mense in hierdie land sonder enige gewete.

Gemaskerde Sopbeen ·

Honourable member, dis nie so moeilik nie. Het jy al waargeneem hoeveel padgebruikers net eenvoudig voor jou inswaai as hulle voertuie se neus net-net by joune verby is….en nie in ag neem dat 60% van hulle voertuie se lengte nog AGTER hulle is nie? Ek is vier jaar gelede so “raak gery” deur ‘n persoon wat tot vandag toe nie weet die agterste hoek van haar voertuig het my getref nie.

Diefie ·

Hoop die man het dit op face book gesit. Hy sal daar sy antwoord kry,

Linda van Mosselbaai ·

Sterkte daarso – hopelik kom die persoon na vore – of onthou iemand iets.

Erika ·

Ons seun is ook in Februarie op sy motorfiets doodgery. Die man het my kind doodgery weggejaag. Ons het soveel inligting aan Polisie deur gegee en niks het gebeur tot op hede nie. Ons moet met ons stukkende lewens aangaan en niemand gee n hel om vir ons nie.

Nicolene ·

Hierdie artikel was al in die Pretoria plaaslike koerant asook op fb! Niemand kom na vore nie en ek laat my nie vertel dat niemand iets gesien het nie! Rusty was oppad terug van Kyalami af en dit was terwyl paaie normaalweg baie besig is!!
Die betrokke persoon se gewete is seker met sy/haar naelstring afgeknip!!
Rus sag Rust, never to he forgotten my friend!!

treurgrond ·

‘n Ongeluk gebeur so gou as twee sekondes. Een oomblik konsentreer jy op die pad en die volgende oomblik druk iemand net voor jou in – net voor jou en jou lewe word onherroeplik verander in twee sekondes. Rus sage Rust – soos Nicolene gestel het die betrokke persoon se gewete is afgeknip. Mense moes gesien het daar moet iemand wees. Dit sal wel vorendag kom.

Kotie ·

Teveel onbeantwoorde vrae oor onskuldige mense wat dood gaan. Jason Kruis was my seun se beste vriend en het 19 Desember 2018 van af n bakkie geval wat hom “ontvoer” het in die Wesrand en tot vandag toe is daar geen antwoorde of iemand in hegtenis geneem nie. Die ouers gaan elke dag deur hel met nie weet wat het met hulle kinders geword nie….

Kotie ·

Skuus Jason Kruis is die 19 Desember 2017 oorlede…Ek wens die op geen ouer toe nie. Ek bid dat die Here U hande sal neem en dra in die moeilike tyd. Ons bid dat elke ouer wat so na antwoorde soek dit sal kry…

anton ·

Om vandag se tyd op S.A se paaie te wees, is n nagmerrie!!!
Daar is heeltemal te veel onbevoegde bestuurders op ons paaie en dit neem daagliks toe.
Ek raak al hoe meer bang om motorfiets te ry en geniet dit nie meer soos 25 jaar gelede nie. Ek stres elke oomblik op die pad.
As ek dit ontneem word, bly daar nie veel meer plesier oor in die land nie want alles wat goed en plesierig was, is ons al ontneem.

Riaan ·

Ek was self ook slagoffer saam 2 vriende van tref en trap in 2010 tot vandag het niemand na vore gekom nie. Ons was almal bewisteloos in die pad en hy/sy het nie eers gestop om te kyk of ons wel lewe nie. Mens kan ongelukig nie staat maak dat die persoon se gewete hom gaan pla nie… baie sterkte aan die famielie hoop jul kry afsluiting.

SNEL ·

Dis vreeslik wat hier gebeur het en ek hoop die ouers kry antwoord, maar as ek daar moes gery het en dit was n ongeluk en ek was verantwoordelik, maar het regtig hom nie gesien nie, en ek lees hier van ouers soek antwoorde (dan sal ek bitter graag wil sê wat het gebeur) en dan lees ek strafbare manslag na moord verander. O vrek, ek weet darem nie of ek dan na vore sal tree nie. Wat as so persoon jong kinders het en tronkstraf in die oë staar en dit alles net deur n ongeluk waar jy regtig die ou nie gesien het nie. Dis maklik om te sê dat hulle gewete hulle ry en hoe kan een so iets doen en wegry. Ja, so iets doen en wegry is swak, dis sal ek nou nie doen nie, maar ek sal wens die aarde sluk my in, maar hoe ry almal net van so toneel af sonder dat iemand hulle registrasienommers neergeskryf of hul besonderhede vat. Dis mos n ergstige ongeluk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.