Pa, dogter met Kersliggies vasgebind tydens aanval

Foto: goodhousekeeping.co.uk

ʼn 43-jarige man en sy 10-jarige dogter is Dinsdagoggend in die vroeë oggendure op ʼn kleinhoewe noord van Pretoria aangeval.

Die meisie se ma het Dinsdag aan Maroela Media gesê haar dogter het vir die week by haar pa op die kleinhoewe in die Haakdoornboom-omgewing gaan kuier toe hulle tussen 01:00 en 02:00 vermoedelik deur twee aanvallers oorval is.

“My dogter en haar pa het in die sitkamer geslaap aangesien dit warm was en daar ʼn waaier is. Die twee mans het hulle daar oorrompel en hul hande en voete agter hul rûe met skoenveters, kabels en die liggies van die Kersboom vasgebind,” het sy gesê.

Die aanvallers het die man herhaaldelik aangerand en onder meer met ʼn troffel geslaan terwyl hulle op sy beursie aangedring en wou weet of hy ʼn vuurwapen het.

Sover vasgestel kan word, het die verdagtes met ʼn televisie en ʼn selfoon op die vlug geslaan.

Die meisie het ná die voorval voor haar pa gaan staan, wat daarin kon slaag om haar los te kry. Sy het daarna haar erg beseerde pa losgemaak en hom na hul voertuig gehelp. Die man se broer bly daar naby en hulle het na die broer gery om hulp te ontbied.

Die man is na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas vir behandeling en waarneming.

“Hy is tans nog in die hospitaal met erge hoofbeserings, maar is by sy positiewe. Daar word toetse op hom gedoen aangesien hy houe oor sy hele lyf opgedoen het. Die dokters is veral baie bekommerd oor sy een oog, maar wag vir uitslae van die toetse om die aard van die beserings vas te stel.”

Die ma het gesê haar dogter is getraumatiseerd, maar ongedeerd. “Die aanvallers het heeltyd haar gesig met ʼn kussing toegegooi en gesê sy moet shut up. Haar gewrigte het net seergekry waar sy met die kabels vasgebind is. Sy ontvang berading.”

Die Pretoria-Noord-polisie was kort ná die voorval op die toneel en ondersoek die voorval. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ja toe ·

EK wil graag sien dat die REGERING nou ook afvaardigings stuur na hierdie GETRAUMATISEERDE kind asb!

PJC ·

Ek dink mense moet gehelp en opgelei word om hulle wonings so te beveilig dat enige inbreker nie ongesiens sonder geraas kan inkom nie.

Elsa ·

Wonder wat sal die indringers stuit? Tyd dat daar swaarder strawwe kom vir oorstreders, dis nie hul eiendom en moet opgevoed word…gaan soek werk..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.