Pa, dogters op kleinhoewe vir R20, iPhone aangeval

Argieffoto: Lorraine Claasen

Argieffoto: Lorraine Claasen

Vyf mans het ʼn 77-jarige pa en sy twee tienerdogters Woensdagaand op ʼn kleinhoewe in Driefontein, in die Muldersdrift-omgewing aan die Wes-Rand, aangeval en aangerand en van ʼn iPhone en R20 beroof.

Terry-Ann Coetzee, woordvoerder van die veiligheidsmaatskappy Drift Reaction cc, het Donderdag aan Maroela Media gesê beamptes van hul Iron Fist Squad honde-eenheid het hulle omstreeks 22:00 na die kleinhoewe gehaas, nadat melding op hul Drift Reaction Driefontein Road WhatsApp-groep gemaak is van skote wat in die omgewing afgevuur is.

“Beamptes van die Iron Fist Squad was binne etlike minute eerste op die toneel. Toe hulle in die huis ingaan het twee meisies, onderskeidelik 14 en 16 jaar oud, na die beamptes gehardloop. Een van ons beamptes het gesê die verligting op hul gesigte toe die meisies hulle sien, is iets wat hy nooit sal vergeet nie,” het Coetzee gesê.

Een van die beamptes het die meisies na buite geneem, terwyl die ander beampte in die huis in is, waar hy die meisies se bejaarde pa op die vloer aangetref het.

“Die man was vasgebind en het ernstige hoofbeserings opgedoen. Hy het vir ʼn bietjie water gesmeek.”

Die beampte het die man losgesny en bygestaan tot paramedici by die toneel opgedaag het. Daar is later vasgestel die slagoffers is onder meer met ʼn baksteen en gholfstok aangerand. Een van die meisies is ook met ʼn skerp voorwerp in die arm gesteek.

“Volgens die slagoffers het hulle omstreeks 22:00 ʼn geraas by die voordeur gehoor. Die deur het oopgestaan, maar die veiligheidshek was toe en gesluit. Die mans het skote in die huis in gevuur, voordat hulle die hek oopgebreek en ingestorm het.”

Die aanvallers het die man vasgebind en al drie mense aangerand en op kontant aangedring.

“Die meisies en hul pa het aan die mans gesê daar is nie geld in die huis nie. Die verdagtes het selfs so ver gegaan en gesê hulle sal eers ophou om hulle te slaan as hulle ten minste R2 kry. Een van die meisies kon uiteindelik R20 opspoor, waarna die verdagtes op die vlug geslaan het.”

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die twee dogters het ligte weefselbeserings opgedoen. “Die man het ʼn ernstige hoofbesering gehad. Hulle is op die toneel gestabiliseer en na Life Fourways geneem vir verdere behandeling,” het Meiring gesê.

Na verneem word, is die meisies reeds ontslaan en die man is steeds in ʼn ernstige toestand in die hospitaal.

Konst. Gloria Maswanganye, polisiewoordvoeder, het die voorval aan Maroela Media bevestig. Sy het gesê buiten die geld wat gesteel is, is ʼn iPhone ook gevat.

Die Muldersdrift-polisie ondersoek ʼn saak van huisroof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie het ʼn volskaalse soektog na die verdagtes van stapel gestuur.

Jarques Treptow, eienaar van Drift Reaction, het inwoners gemaan om paraat en versigtig te wees.

“Die omgewing gaan die afgelope jaar gebuk onder ʼn vlaag aanvalle waarin die aanvallers dieselfde modus operandi gebruik,” het hy aan Maroela Media gesê. “Hulle slaan veral toe op minder gegoede slagoffers wat blyplekke huur, omdat hulle weet die inwoners het nie noodwendig behoorlike sekuriteit nie. Hulle skiet en storm in die huis in en gryp enigiets wat hulle kan kry en vir ʼn paar rand verkoop, vermoedelik om dwelms te bekom. In die meeste gevalle is die goed wat gesteel word van min waarde en behels dit ou selfone, televisies en klere.”

Treptow het gesê inwoners moet by gemeenskapsgroepe inskakel en veral by WhatsApp-groepe inskakel om dadelik enige verdagte omstandighede aan te meld.

“Inwoners moet maar vroegskemer hul deure en vensters toe hou en gordyne toetrek. Moenie onder enige omstandighede uitgaan of deure of gordyne oopmaak as iets verdags buite aangaan nie. Die aanvallers skiet sommer deur ʼn deur of venster as hulle beweging opmerk. Ontbied dadelik hulp sodat opgeleide spanne ondersoek kan instel,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

posduif ·

Hoeveel mense moet nog seer kry voor iets gedoen word ???

Alida ·

Posduif, asb se vir ons wie moet iets doen. Die bevolking is onopgevoed en doen barbaarse goed. Wie stel jy voor moet iets doen. Die SAPD kan nie elke huis en elke plaas dag en nag bewaak nie.

Moeg ·

Ons gaan nie kan wen met die huidige regering nie. We are fighting a loosing battle. As jy nie kan vrede maak met wat in SA aangaan en die donker toekoms wat ons in die gesig staar nie, moet jy maar jou tassies pak en emigreer.

Johan ·

Hallo Posduif en al die mense wat kommentaar gelewer het…Ons voel almal bekommerd, kwaad, gefrustreerd oor al die aanvalle elke liewe dag. Die feit is niemand gaan iets doen nie, anders sou die tempo al lankal afgeneem het. Weet
jy ek probeer myself en my gesin
kalm hou. Hoeveel keer moet ons lees die oom of tannie het iets buite gehoor en dan gaan hulle uit die huis om te gaan kyk. Aanvallers is nie meer bang vir groot honde buite nie…maar dit is bewys dat ‘n klein hondjie binne die huis die grootste afskrikmiddel vir boewe is. Ons slaap ook maar snags bekommerd maar ten minste weet ek my klein hondjie sal blaf sou daar enige vreemde geluid buite wees.
Weereens, ek is bevrees niemand gaan iets daaromtrent doen nie, ons moet self plan maak. Sterkte

Nicolaas Lombard ·

Waar is daardie helde wat die ou tannie arresteer vir haar plante. Kan hulle nie maar beter aangewend word waar menselewens werklik in gevaar verkeer nie. Dink net watter verskil twee polisiemanne kan maak. Ekstra patrollies. Minder kans vir die skurke om onskuldige mense te kom aanval. Baie dankie aan al die privaat sekerheids maatskappye wat die polisie se werk vir hul doen
.

M ·

Huisroof? Klink vir my eerder soos gewapende roof, poging tot moord, aanranding ens.

PMB ·

M ek stem saam met jou. Hierdie is nie huisroof of huisbraak nie. Dit is poging tot moord. Ek hoop die boewe word spoedig vas getrek en kry wat hulle verdien.

Peet J ·

As die polisie ook meer sigbaar is bv. gebiede patrolleer behoort dit die kriminele aanvalle te beperk. Tans word daar teveel staat gemaak om die gemeenskap te betrek wat streng gesproke niks kan vermag nie. Die instansies wat daarop aanspraak maak dat hulle die publiek wil beskerm behoort ook eerder op ‘n gereelde basis met hulle kliënte kontak te maak. Ek behoort aan ‘n sekuriteitsfirma die afgelope drie jaar maar hulle stel nie belang om uit te kom as my skape gesteel word nie want hulle beskik nie oor die nodige magtiging om ‘n saak te open nie.

Sè maar net ·

Nicholaas Lombard, ek ry patrollie saa, Afriforum en ek ‘n enkel ma met 2 kinders. Daar is so baie mense wat kla, ek praat nie van jou nie, dat daar meer patrollie moet gery word. Maar niemand stel belang om aan te sluit om die groepe groter te maak nie, Sodra die publiek hoor dat die kostes uit hul eie sak kom, hulle tyd moet opoffer dan stel hulle nie belang nie. Hoekom ry ons nie elke dag/aand/oggend nie? Want ons het nie genoeg patrolleerders nie. Ons almal werk deur die dag en kan nie in die oggend ure, van 2 – 5 bv patrollie ry nie. Ons sou dit waardeer as ons meer voertuie in 1 area kon he, elke aand kon ry, en meer areas kon ry, maar ons het nie die bemanning nie. Dit vat net 2 ure van jou tyd per skof.

Ek glo vas dat sou daar elke aand patrollie gery word, veral oggend ure, sal daar minder misdaad wees. Ek se nie daar sal geen wees nie, maar dit sal verseker afskaal. Mense, asb dink daaroor! Dames is welkom, en vroue ry nie op hul eie nie, hulle sit ‘n mans persoon saam jou. Alle hulp sal waardeer word! As almal saam staan om ons dorpe te beveilig, sal dit beter gaan. Ek kla nie, lug nie my opinie en vra dat mense aansluit by Afriforum se buurtwagte…dink asb daaroor…

Adriaan ·

Binne 1 maand sal al hierdie gemors stop,as oortreders dadelik verhoor word en die doodstraf kry.Hulle speel nou woer woer met ons lewens.Lyk my dis n voorbedagte plan van n 3 de party,om Witmense uit Afrika te jaag !!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.