ʼn Pa en sy twee kinders, onderskeidelik drie en sewe jaar oud, het ʼn noue ontkoming gehad nadat hul voertuig Donderdagaand by ʼn brug in Southport, in KwaZulu-Natal, afgery en in rivier beland het.
Chris Botha, ʼn woordvoerder van Netcare 911, het gesê die ongeluk het omstreeks 20:00 op die R102-pad plaasgevind.
“Die gesin het in ʼn suidelike rigting gery toe die pa beheer oor die voertuig verloor het,” het Botha gesê. “Die voertuig het deur die versperrings langs die pad gery en in die rivier daaronder beland.
Die polisie, ʼn omstander en paramedici kon daarin slaag om al drie uit die voertuig, wat reeds halfpad onder die water verdwyn het, te red. “Al drie het ernstige beserings opgedoen. Die driejarige seun het ook amper verdrink. Die gesin is op die toneel gestabiliseer en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.”