Pa en ma pak skuld op mekaar ná 2-jarige se dood  

Alberton, mishandeling, verwaarlosing, Chané Bezuidenhout

Die ouerpaar tydens ‘n vorige hofverskyning. (Foto: Verskaf)

WAARSKUWING: Hierdie berig bevat inhoud wat sommige lesers kan ontstel 

ʼn Pa van Alberton, wat onder meer van die moord en verkragting van sy tweejarige dogtertjie tereg staan, wil die hof oortuig hy het geen aandeel in haar dood gehad nie.

Die 40-jarige man staan saam met sy vervreemde vrou (30) tereg in die hooggeregshof, wat in Palm Ridge aan die Oos-Rand sit, op aanklagte van moord, verkragting, aanranding met die doel om ernstig te beseer en kindermishandeling.

Die blondekopdogtertjie is op 11 Mei 2021 deur paramedici op die sypaadjie voor haar ouerhuis dood verklaar.

Haar ma het reeds getuig sy “was bang vir die abuse en dat haar kinders van haar weggevat sal word”.

Sy het ook getuig sy is deur haar man aangerand as hulle “argumente te groot raak”.

Die man se regsverteenwoordiger het dit egter herhaaldelik aan die vrou gestel sy is nié aangerand nie anders sou sy dit aangemeld het. Die polisiekantoor en ʼn staatskliniek was albei binne loopafstand van die ouers se huis. “Jy kon ook die aanranding by die beskuldigde se ma of jou eie ouers aangemeld het, maar jy het nie,” het die regsverteenwoordiger gesê.

Die vrou het herhaaldelik geantwoord sy was bang die kinders word weer van haar weggeneem en daarom het sy nooit ʼn saak by die polisie gemaak of ʼn familielid in haar vertroue geneem nie.

Sy het ook getuig dis onwaar dat sy haar man sou aanrand en slaan wanneer hulle in ʼn argument betrokke geraak het.

“Ek sou, as ons baklei, op hom skreeu,” het sy getuig. Soms het haar man dan sy hande vir haar gelig. Volgens die vrou het sy hom elke keer vergewe want “hy het baie gehuil en om vergifnis gevra.”

Die tweejarige dogtertjie is dood op die sypaadjie voor haar ouerhuis aangetref. (Foto: Verskaf)

Buiten vir haar vrees was sy en haar kinders finansieel afhanklik van hom.

“Sonder sy geld het ek gevoel ek en my kinders sou nie ʼn lewe gehad het nie. Dis hoe dit in my kop ingepraat is [deur hom],” het sy getuig.

Sy het opnuut ontken dat sy ooit enige van haar kinders aangerand het. Dit is ook nie waar dat sy doelbewus haar agtjarige seun met kookwater gebrand het nie. Volgens haar was haar man daardie dag by die huis en nie by die werk nie.

“Ons het in ʼn motorhuis gewoon en die spasie was beperk. Hy het op die grond gespeel en ek het oor hom geval. Dit was ʼn ongeluk.”

Volgens die man se regsverteenwoordiger sal sy weergawe wees dat hy by verskeie geleenthede beserings opgemerk het aan die kind. “Hy het een keer by die huis gekom en opgemerk haar linkerhand en ook een van haar bene is geswel.”

Die ma het die bewerings ontken en ook dat sy alleen verantwoordelik was vir die kinders se sorg terwyl die pa by die werk was.

“Ons het beurte gemaak om die kinders te bad en kos te maak wanneer hy in die aande by die huis kom,” het sy getuig.

Volgens die man het die vrou egter gekla sy is keelvol “oor die kind te stadig eet”. Sy het dit ontken, en getuig dis hy wat ongeduldig geword het en hul dogtertjie dan probeer forseer het om te eet.

Hofverrigtinge is hierna uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.