Pa en seun herenig … ná 36 jaar

Swannie Swanepoel en sy seun, Conrad Louw, is eindelik weer herenig. Hulle het mekaar die laaste keer gesien toe Conrad drie maande oud was.

Toe Swannie (destyds Boetie) Swanepoel se verloofde byna vier dekades gelede met sy drie maande oue seuntjie verdwyn het, het dit gevoel of ʼn stuk van hom sterf.

Conrad Louw (36) se ma en Swannie se verhouding het in 1983 verbrokkel en sy ma het soos ʼn groot speld met die babaseuntjie verdwyn. Swannie het met ʼn besoek aan die huis op ʼn verlate perseel afgekom. Sy seuntjie was spoorloos.

Hy het hom tot die hof gewend waar hy onderhoud vir sy seuntjie betaal het, maar dáár het hy gehoor hy moet die betalings staak en dat die hofbeamptes geen nuwe adres het van waar sy kind hom nou bevind nie.

Hy was in ʼn doodloopstraat.

“Hulle was net weg. Hulle het tussen neus en ore verdwyn.”

Die hoekoms en waaroms hou nooit op nie, vertel Swannie. “Jy wonder áltyd oor jou kind. Gaan dit goed met hom? Hoe lyk hy? Word hy versorg? Daar is soveel hartseer wat daarmee gepaardgaan. ʼn Pa wil dáár wees vir sy kind, jy wil na hom kyk!”

Swannie het vas geglo dat hy sy seun eendag sal opspoor en het vir mense – ook sy vrou, Maryna – van sy verlore seun vertel in die hoop dat hulle op ʼn dag herenig sal word.

Die soektog

Mariska de Beer (25), Swannie se dogter, sê sy het as 10-jarige vasgestel dat sy ʼn broer het.  Sy het daardie dag al besluit sy sal nie rus tot sy hom opgespoor het nie.

Die afgelope maand het Mariska, wat in Montana in Pretoria woon, die Facebook-blad “Waar in die Wêreld” genader en hulp gevra om haar broer op te spoor. Nadat dié blad haar met aanvanklike inligting gehelp het, het sy ure lank op die internet rondgesnuffel in ʼn poging om Conrad op te spoor.

Aanvanklik het sy by een van Conrad se broers op Facebook uitgekom en toe sy Conrad se naam op die Facebook-profiel herken en op sy foto klik, het die legkaartstukke vir haar inmekaar gepas.

“Ek het myself in hom herken.

“En hy is deur en deur my pa se dubbelganger,” het Mariska vertel.

Nadat sy ʼn telefoonnommer vir Conrad in die hande gekry het, het ʼn oproep na hom gevolg. Sy het hom aanvanklik uitgevra oor sy pa en sy antwoorde het dit ongetwyfeld duidelik gemaak dat hy haar langverlore broer is.

Conrad het bevestig hy het destyds saam met sy ma in Alberton gewoon; hy is Conrad genoem omdat sy ma en pa destyds die gewilde Dr. Conrad Brand-fotoverhale gelees het; sy tweede naam is Petrus (dieselfde as sy biologiese pa sʼn, hoewel sy ma gesê het hy is na die Bybelse Petrus genoem); hy het sy pa as drie maande oue baba die laaste keer gesien; sy ma se naam was dieselfde as Boetie Swanepoel se voormalige verloofde … Die storie het perfek geklop.

Herenig na soveel jaar …. Swannie Swanepoel (voor), sy dogter Mariska en seun, Conrad, na wie hy jare gesoek het.

Emosionele weersiens

Die familielede het mekaar die afgelope naweek die heel eerste keer in Klerksdorp in lewende lywe ontmoet. Dit was ʼn emosionele hereniging.

“Toe ons na mekaar aangestap kom, het ons geweet ons hoort bymekaar. Die band was onmiddellik daar. Ons het gekuier en gebraai en ons kon nie ophou gesels nie. Dit was regtig só amazing,” sê Mariska.

Conrad sê hy en sy vrou, Thelmé, was Saterdag al in die vroeë oggendure wakker. “Dit is ʼn gevoel wat baie moeilik is om te beskryf. Ek het gebewe van opgewondenheid. Dit was my kans om die res van my familie te ontmoet, om my pa vas te druk en te sê ‘niks kan ons weer van mekaar wegvat nie’,” het Conrad gesê.

Hy sê toe Mariska hom aanvanklik gebel het, het ʼn kalmte oor hom gekom “terwyl ek eintlik soos ʼn balletjie wou rondhop”.

“Ek was opgewonde en senuweeagtig, alles deurmekaar. Maar hoe meer ons gesels het, hoe meer kalmte het ek gekry. Dis asof die Here vir my gewys het dat dít die regte tyd was.”

Conrad sê die belangrikste ding is dat die familie nou deel van mekaar se lewe kan wees nadat hulle soveel jare na mekaar gesoek het. “Die verlange het my doodgemaak. Ek het soms gevoel ek wil opgee. Ek het nie geweet watter kant toe nie. Ek was moeg gesoek, moedeloos.”

Maar Mariska se oproep het alles verander.

“Ons vat dit een dag op ʼn slag en ons wil graag bou aan ons band. Ons is baie lief vir mekaar en weet ons gaan ʼn groot sukses maak van die ontmoeting. Dit was vir my wonderlik om my pa vas te druk en te sê ‘ek is lief vir jou’. Dit maak nie saak wat in die verlede gebeur het nie, ons het mekaar gevind.”

Hy sê hy en Mariska het ook reeds ʼn wonderlike band gesmee. “Ons het van die eerste oproep af gekliek. Ek is soos ʼn kind met ʼn nuwe speelding – ek kan nie wag om hulle weer te sien nie.”

Swannie sê hulle gaan nou elke oomblik aangryp om mekaar beter te leer ken. “Ons het klaar ʼn liefdesband. Die tyd het so vinnig gevlieg en ons het so baie om vir mekaar te vertel, maar dit was ʼn geseënde dag.”

Hy sê ook hy hoop ander mense vind hoop in hulle verhaal. “Dit was so hartseer. Jy dink altyd aan jou kind. Die vrae maal deur jou kop en dit hou nooit op nie. Dit bly in jou onderbewussyn: jy weet jy het ʼn kind, maar jy weet nie wáár nie.

“Nou voel ek trots, tevrede. Ek wil my bors uitstoot – ek het my seun gekry! Die hele wêreld moet daarvan weet.”

Swannie sê ook hy is dankbaar hy het sy seun gevind, voordat dit dalk vir een van hulle te laat was.

“In die lewe kan enigiets gebeur, ons het mekaar dalk nooit leer ken nie. Ons het die Here gedank vir dié wonderwerk. Hy het die regte ding op die regte tyd laat uitwerk.

“En nou sal my seun nooit weer alleen wees nie.”

Mariska sê hulle is heeltemal bereid om DNS-toetse te ondergaan om dit wat hulle reeds glo te bevestig, maar dink nie dit gaan nodig wees nie.

“Jy hoef net na ons te kyk om te wéét.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

RB ·

Wat n wonderlike verhaal van God se goedheid!
Laat my onwillekeurig dink aan die Herder wat na èèn gaan soek wat afgedwaal het.
Swannie, ek glo dat jou seun altyd in jou gedagtes was, jy was sekerlik altyd ook in sy gedagtes!

Mag julle ure se saam-wees deel.

Antjieo ·

Sy is al baie jare terug oorlede. My man se neef het hom groot gemaak soos sy eie kinders

Mielies ·

Gawie my ma is oorlede in 2007. En net vir n regs telling my ma het nie met n 3 maande oue baba spoorloos verdwyn nie. Ons het jare in die selfde huis by my ouma en oupa gebly

VanAfrika ·

En so het ek en my oudste broer uitgevind ons het n jonger boetie wat op Randfontein bly. Ons het geweet ons vervreemde pa het kinders maar nie geweet of dit broer of n suster is nie. My jonger boetie wou nie vir DNA gaan nie en het gekies om ons te glo. Met sy eerste besoek aan my woning haal ek toe fotos wat ek vermoed het ons pa is uit die foto boks wat my ma gehad het en hy bevestig met n een enkele foto wat ek toe aan hom oorhandig het dat dit ons pa is want ek en my broer het nie geweet hoe ons pa lyk nie. Ongelukkig is hy in 82 oorlede aan klier kanker en was ons kanse nul dat ons hom ooit sou kon ontmoet. Ons oudste suster is in 95 op ouderdom 32 oorlede en sy het nooit die kans gehad om ons pa op sy enkele paar foto wat ons gehad te sien nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Pragtige verhaal. Hoop alles van beste vir die familie

Antjieo ·

Gawie die Ma of soos hy haar genoem het Moedertjie is al baie jare terug oorlede. My man se neef was sy stiefpa wat Conrad groot gemaak het tot sy dood n paar jaar terug.

EO ·

Mariska, Mens kan sien julle is broer en suster. Julle lyk op ‘n druppel na mekaar. Julle lyk soos julle pa. Daar is geen twyfel dat julle nie broer en suster kan wees nie. Ek is baie blyk vir julle dat julle mekaar gevind het. En nou een gelukkige familie is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.