Pa en seun in brand vasgekeer, seun kritiek

Henry van Wyk (Foto: Verskaf)

’n Pa en seun van Lusthof naby Hammanskraal, noord van Pretoria, het Sondagmiddag ernstige brandwonde opgedoen toe hulle deur vlamme vasgekeer is terwyl hulle ʼn veldbrand gemonitor het.

JJ van Wyk (54) en sy seun Henry van Wyk (23) was Sondag saam met ander brandbestryders van vroeg af besig om ’n brand by die Freeway-vliegveld in die Kromdraai-gebied onder bedwang te bring, vertel Johan Loots, mediakoördineerder van die Lusthof-GPF.

“Teen die middag se kant was die vlamme onder beheer en baie van die helpers het onttrek,” sê Loots. JJ en Henry het agtergebly om ’n ogie oor die laaste van die vlamme te hou, “toe draai die wind”.

Loots vertel dat die vlamme vir pa en seun teen ’n veiligheidsheining vasgekeer het. Henry is deur die vlamme oorval. JJ het sy seun uit die vlamme gegryp en verwoed die vlamme met sy hande probeer doodslaan. Loots vertel dat JJ in dié reddingspoging 20 tot 30% brandwonde aan sy hande, arms, gesig en nek opgedoen het waarna hy in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg opgeneem is.

Loots beskryf JJ se toestand as “kritiek maar stabiel”.

JJ van Wyk (Foto: Verskaf)

Henry is egter met 80 tot 85% tweedegraadse en derdegraadse brandwonde oor sy lyf na die Kalafong-hospitaal in die noorde van Pretoria gehaas waar hy onder verdowing in die waakeenheid van dié hospitaal opgeneem is. Hy sal na verwagting na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto oorgeplaas word sodra  ’n bed vir hom beskikbaar is. Henry behoort nie aan ’n mediese fonds nie.

Loots sê Henry het ook inwendige skade opgedoen en sy toestand word in dié stadium as kritiek beskou.

Volgens Loots waak Henry se ma, boetie en grootouers om die beurt by hul geliefdes se hospitaalbeddens. Die voorsitter van die Lusthof-GPF het die van Wyk-familie deur die nag in die hospitaal bygestaan, sê Loots.

Loots was eerste op die toneel na dié ongeluk.

Besoek gerus Hero Burn Foundation se Facebook-blad vir nog inligting oor JJ en Henry se vordering. Gebruik die hutswoord #kromdraai as verwysing vir enige inbetalings om ’n finansiële bydrae tot die mediese koste te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Pippa ·

Mag die Liewe Heer jul versterk en bewaar. Ons bid vir jul.

WonderNet ·

Ek verstaan nie hoe daar deesdae so baie mense skielik gebrand word in veldbrande? Raak die ouens roekeloos of onverskillig, dit is nou die hoeveelste jonge man die laaste tyd.

Estelle ·

Het jy al ñ veldbrand help beveg? Omstandighede verander in ñ sekonde en ñ veilige afstand verander ewe skielik in ñ vuuroond. Moontlik is daar onkunde of roekeloosheid ter sprake. Dit kan nie uitgesluit word nie. Maar wat is die alternatief? Jou veë lewendig laat doodbrand voor jou oë. Vra eerder hoekom die brandstigters wat veld links en regs aan die brand steek dit doen. Vra eerder hoekom soveel brande? Hierdie mense sit nie in ñ gemakstoel en wag dat iemand anders ingryp nie.

Hannetjie ·

Ja dit is regtig tragies.In die fleur van sy lewe.Mag hulle aangeraak word deur ons Hemelse Vader en sterkte aan die familie

Sêmaarnet ·

Het jy al ‘n veldbrand probeer beheer of blus? Met windrigting wat enige tyd draai? Jy kan bereken soos jy wil maar enige tyd is jy dalk ok of dalk in lewensgevaar van die vlamme wat oor paaie kan spring as die wind van agter waai. Ek, as plaaskind wat soveel vure help blus het op my pa se plaas en ook bure se plase, salueer met dankbaarheid hierdie mense wat gaan uithelp in nood. So vreeslik jammer dat die lekkende vuur op julle gedraai het. Baie sterkte, julle is in ons gebede en harte.

susan ·

Asseblief – die Bybel praat van die dwaas??? Was jy al in so vuur vasgekeer

Chris du preez ·

Dit is verskriklik hartseer. Sterkte vir die familie

Andrea ·

My hart bloei vir die pragtige rooikop! Ag arme, pragtige kind, hoe verskriklik het jy nie gebrand nie! 80-85% oor jou hele lyf! Die ontsettende pyn. En die arme pa wat probeer red. Hoe ontsettend traumaties.
Mag die Here jul genadig wees.
Is daar dalk rekeningbesonderhede vir diegene soos ek wat nie op Facebook is nie? Ek wil graag bydra met die hoop om hom in n privaat hospitaal te kry.
Ek bid opreg vir julle.?

Sêmaarnet ·

Het jy al ‘n veldbrand probeer beheer of blus? Met windrigting wat enige tyd draai? Jy kan bereken soos jy wil maar enige tyd is jy dalk ok of dalk in lewensgevaar van die vlamme wat oor paaie kan spring as die wind van agter waai. Ek, as plaaskind wat soveel vure help blus het op my pa se plaas en ook bure se plase, salueer met dankbaarheid hierdie mense wat gaan uithelp in nood. So vreeslik jammer dat die lekkende vuur op julle gedraai het. Baie sterkte, julle is in ons gebede en harte.

Alwyna ·

Genade maar ‘hulle’ is eenvoudig vuurhoutjiemal!!! Daar is min veld wat nog NIE afgebrand is nie.
So sinneloos. Sterkte aan familie

Maria ·

Sterkte aan die familie van die seun na sy afsterwe. Rus in vrede jy het nou geen pyn meer. Is sooo hardseer ai

Annalize Le Grange ·

Daar is mos ‘n fonds gestig (?TLU)wat mense help wat nie medies het nie. Daardie fonds het vir Joe Astle se ortodotiese kostes help betaal. Die jong man het sy lewe opgeoffer om ander se eiendomme te beskerm.

Marisa ·

Maroela update asb julle berig, die seun het tragies gesterf. So hartseer, bid vir sy geliefdes en veral pa wat hom probeer red het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.