Pa en seun in veldbrand vasgekeer: Jong man sterf

Henry van Wyk (Foto: Verskaf)

Henry van Wyk, die 23-jarige man wat Sondag ernstige brandwonde opgedoen het terwyl hy dapper saam met ander brandbestryders teen ʼn veldbrand baklei het, het Maandagaand in ʼn Gautengse hospitaal aan sy beserings beswyk.

Johan Loots, mediakoördineerder van die Lusthof-gemeenskapspolisiëringsforum, het die nuus aan Maroela Media bevestig. Volgens Loots is dit te vroeg om nou al begrafnisreëlings te finaliseer en moet die familie eers wag dat ʼn nadoodse ondersoek afgehandel kan word.

Intussen word Henry se pa, JJ van Wyk (54), steeds in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg behandel nadat hy brandwonde opgedoen het in ʼn desperate poging om sy seun te red.

Maroela Media het vroeër berig die brand het Sondagoggend by die Freeway-vliegveld in die Kromdraai-gebied, naby Hammanskraal, noord van Pretoria, ontstaan. JJ en Henry het saam met verskeie ander mense gehelp om die vlamme geblus te kry.

JJ van Wyk (Foto: Verskaf)

“Teen die middag se kant was die vlamme onder beheer en baie van die helpers het onttrek,” het Loots vroeër gesê. JJ en Henry het agtergebly om ’n ogie oor die laaste van die vlamme te hou, “toe draai die wind”.

Loots het vertel dat die vlamme vir pa en seun teen ’n veiligheidsheining vasgekeer het. Henry is deur die vlamme oorval. JJ het sy seun uit die vlamme gegryp en verwoed die vlamme met sy hande probeer doodslaan.

JJ het deur dié reddingspoging 20-30% brandwonde aan sy hande, arms, gesig en nek opgedoen, terwyl Henry veel erger daarvan afgekom het met 80% tweedegraadse en derdegraadse brandwonde oor sy lyf. Henry is in ʼn kritieke toestand na die Kalafong-hospitaal in die noorde van Pretoria gehaas waar hy onder verdowing in die waakeenheid van dié hospitaal opgeneem is aangesien hy nie aan ʼn mediese fonds behoort het nie.

Ilana van den Berg het Maandagaand die hartseer oor Henry se afsterwe in ʼn Facebook-inskrywing verwoord: “Rus in vrede, Henry. Ons groet jou vanaand met ʼn swaar hart. Jy was ʼn vriendelike jong man. Ons harte gaan uit na JJ, Marilda en J’Andre en ons dra julle op aan ons Hemelse Vader vir vertroosting in die moeilike tyd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Andrea ·

Liewe mooi jongman, my hart is só seer vir jou. Ekt heelnag vir jou gebid. My seun is ook 23 en my hart gaan uit na jou ouers. Só jammer jou lewe is so wreed kort geknip. Mag jy rus, sonder pyn en lyding. Mag jy vanoggend in n wonderlike plek wees wat ons ons nie eens kan voorstel nie. ?

Blompot ·

Ag dis nou bitter hartseer. Ek het so hard gebid laasnag maar lyk hy was reeds weg. Baie sterkte aan die familie en vriende.

Theresa B ·

So ongelooflik hartseer. Baie jammer vir julle. Sterkte aan almal wat hom geken het.

pieter ·

So hartseer ek dink aan die ouers. Nou as veldbrande gestig word deur anc en eff lede moet daar n saak van moord teen die regering geopen word

Sandra ·

Pieter ek hoor wat jy sê – niks gaan die bedroefde ma en pa wat baie seer gekry het se seer ligter maak nie. Bid net dit is tragies.

Jan ·

Ag pietwr jy droom seker watter kans het jy teen die magtige anc en hoe kan jy dit bewys ons weet almal hulle stig die brande maar jy besef nie hoe swak en magteloos die afrikaners gword het nie…

Willie ·

Trane in my oe… baie jammer vir die familie en vriende.. Mag jy rus ..

Pippa ·

Mag ons Liewe Heer jul styf vashou en vertroosting bring. Liefde xxxx

Janine ·

Ai nee…sterkte aan die familie. ..ek het so gehoop..maar ai..dis so tragies.

Sandra ·

Hierdie is so tragies Die gebroke ma sit nou by Milpark by haar man. Bid baie. Wees daar vir jou mense elke dag elke uur elke minuut. Die lewe is kort.

Lizelle Gibson ·

My hart gaan uit aan hierdie familie. Mag God julle styf vashou en vertroosting bring. Rus sag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.