Pa en seun trotseer vlamme om skilpaaie te red

Corné Uys trotseer die vlamme om skilpaaie uit die brand te red. Foto: Corné Uys (via Facebook)

Terwyl talle inwoners van Hermanus in die Overberg-distrik Vrydag inderhaas gedeeltes van dié kusgebied ontruim het om voor die pad van ʼn wegholbrand te vlug, het ʼn dapper matriekseun van die kusdorp ʼn ander doel voor oë gehad – om skilpaaie uit die verwoestende vlamme te red.

Corné Uys (17), ʼn matriekleerder van Hoërskool Hermanus, was Vrydag by die skool toe ʼn sirene net voor 14:00 afgegaan het om hulle opdrag te gee om te ontruim. Brande wat in die Karwyderskraal-gebied gewoed het, is deur die wind aangeblaas tot in die Hemel-en-Aarde-vallei en oor die berg in die rigting van Northcliff en Hermanus Heights.

“Toe ek by die huis kom, het ek geweet hoe baie diere daar in daardie gebied is wat nie voor die vlamme sal kan uitvlug nie. Veral die skilpaaie wat stadig beweeg het ek geweet gaan ons hulp nodig hê,” vertel hy aan Maroela Media.

Corné en sy pa, Hugo Uys, het dadelik houers agterop hul bakkie gelaai en in die voertuig gespring om die diere te hulp te snel. Corné sê by hul aankoms op die toneel, het talle skilpaaie al uit die veld na die pad toe begin beweeg in ʼn desperate poging om van die naderende vlamme te ontsnap.

“Daar het baie bokkies en ander diertjies wat tussen die fynbos woon oor die pad gehardloop, maar omdat die skilpaaie maar die stadigste is, het ons op hulle gefokus. Ek het in en uit die brandende dele gehardloop om soveel skilpaaie te red as wat ek kon. Sommige van hulle het reeds aan hul gesigte of op ander dele gebrand, maar ek kon hulle darem betyds uit die vuur kry.”

Corné sê hy het nie werklik aan die gevaar van die brand gedink toe hy die skilpaaie gered het nie. “Die adrenalien het ingeskop en ek was maar net bekommerd oor die diere. Ek het nie regtig aan enige gevaar of vrees gedink nie.”

Corné en sy pa, Hugo, het 33 skilpaaie uit die brand gered. Foto: Corné Uys (via Facebook)

Corné en Hugo is uiteindelik met 33 skilpaaie huis toe waar hulle die diere met koel water afgespoel en die wat gebrand het, behandel het. Vrydag vroegaand het dit genadiglik begin reën wat gehelp het om die brand tot ʼn groot mate te blus en onder bedwang te bring.

Die volgende dag het Corné en sy pa die skilpaaie, wat almal die nag oorleef het, in die Fernkloof-natuurreservaat gaan vrylaat. Die reservaat was toe nie meer ʼn gevaarsone vir die brand nie.

Corné, ʼn professionele slangvanger, sê hy is nog altyd passievol oor natuurbewaring en natuurlewe. “Ek was sewe jaar oud toe ek my eerste slang gevang het en van toe af was ek baie passievol oor wilde diere. Ek het sedertdien professionele opleiding as slangvanger gekry en nou doen ek dit gereeld,” sê hy.

Corné sê hy beplan om definitief ná skool in natuurbewaring te gaan werk en oorweeg dit om moontlik by die teenstropery-bedryf betrokke te raak. “Vir nou werk ek maar net met slange en help ek waar ek kan.”

Die Overstrand-munisipaliteit het Sondagoggend gesê dit brand steeds op ontoeganklike plekke op die Onrusberg en in die Volmoed-kloof. Brandbestryders blus hierdie brande so ver dit moontlik is. “Geen strukture is tans in gevaar nie en die vuur beweeg stadig,” sê die munisipaliteit in ʼn verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

61 Kommentare

Andrea ·

Mooi so, Seun! Dis nou mense waarvan ek hou en respek voor het. Die twee pole, so vêr uitmekaar… Een mens stig n brand wat soveel verwoesting saai, wat mens en dier se lewens neem, en aan die ander kant n ware mens wat dié red wat in nood is, wat beskerm en bewaar.

Mariana ·

Corne en Hugo dankie vir julle onbaatsugtigheid. Julle is helde en het sonder om aan julle eie veiligheid te dink hierdie diertjies van ‘n gewisse dood gered. Corne voorspoed met jou toekoms in natuurbewaring, jy sal beslis ‘n Groot aanwins wees.

Johan ·

Hierdie redders (lees ridders) verdien ‘n baie spesiale toekenning.
Knap gedaan!

Onnie ·

Oud-onnie van hermanus… baie trots op die kind. Ek is ook ‘n skilpadliefhebber en jy is nou my held.

Amanda ·

So lyk helde. Corné en Hugo, ek wens ek kon vir julle persoonlik dankie sê vir julle moed en bereidwilligheid. Dis hartverskeurend om te weet hoe die skilpaaie doodbrand in dié vure. Dankie vir die verskil wat julle gemaak het.

Naomi ·

Baie baie dankie aan pa en seun. Dit sal nie ongesiens verby gaan nie, glo my.

Penelopé Boshoff ·

You boys did it again! Very, very proud of you. Thank you so much Hugo and Corne!

Fanie ·

Mag jou toekoms drome bewaarheid word want n mens met soveel passie vir die natuur hoort hoe kan n mens anders wees as om groot respek vir mense soos julle te he welgedaan

Hannes ·

In my 38jr by telkom het ek baie skilpaaie uit die pad gehaal en moes soms hartseer sien hoe mense hulle doodry hier gebaar van pa en seun kort n medalje mens kan nog drade knip vir diere om te vlug maar ai ou skille sou dit nooit maak was dit nie vir jul 2 se onbaat sugtige diens en dat julle spesefiek aan die skillies gedink het waar baie maar net na vuur gestaan en kyk het voorspoed en baie dankie dit gaan nie ongesiens verby nie Hy sal julle seen

Alida ·

Mens noem dit onvoorwaardelike liefde en toewyding. Wonderlik en BAIE DANKIE! XX

Ronel Stander ·

Wel gedaan! Onbaatsugtige omgee vir diere. Dankie…as ek mag dankie se vir julle. Julle sal geseen word.

Hanna ·

Wens daar was meer mense soos julle, Corné en Hugo, dan kon daar soveel meer diere gered word. Baie dankie vir jul heldedade, dis mense soos julle wat ‘n verskil maak. Ek het baie respek vir jul albei. Jong man, jy het ‘n roeping, en ‘n wonderlike toekoms voor jou, in natuurbewaring. Super trots op julle. Corné, Sterkte met jou loopbaan vorentoe, ek glo jy gaan ‘n verskil maak, om teenstropery te help keer.

What a joke! ·

Mooi manne mooi jul bring n traan in my oog met jul mooi daad…

Elsabie ·

Well done julle!! Ek hoop jyt ‘n voorspoedige toekoms seuna!

Ferdi ·

Ek sou graag wou help ek het gesien hoe vrek die diere op my verdore uitgedroogde plaas

Pieter ·

Pragtig en onbaatsugtig. Wys integriteit. Hierdie optrede verdien ‘n medalje. So dikwels in hierdie land word mense vereer wat hierdie land afbreek en juis die teenpool is wat die Uyse gedoen het. Verder kan ‘n mens kennisneem watter bevolkingsgroep die Uyse verteenwoordig en die afwesigheid van geel T-hemde en rooi oorpakke wat nooit vuil word nie in hierdie saak.

TLC ·

?????????????
Ek ontbreek woorde
Baie baie dankie vir jul stunning werk

TLC ·

?????????????
Ek ontbreek woorde
Baie baie dankie vir jul stunning werk?

Jollie ·

Aan Yahweh al die eer!! Dis die Gees van God wat in mense harte woon wat sulke onbaatsigte dinge in die lewe doen. Dankbaar vir sulke mense in ons samelewing.

Ronel Nortje ·

Mense so na my hart! Wonderlik om te sien daar is mense wat aan weerlose diere dink. Ek admireer julle!

Deloris ·

Mooi so julle… give them a Bells….. mag julle vore toe geseeen word in oorvloed…

Juané ·

Gee ons asseblief meer sulke berigte. Daar is nog soveel mooi.

Will ·

Sjoe, WOW!!!!
Julle is Amazing! Baie Baie Dankie! Die Here sal julle seën vir dit wat julle gedoen het. Corné baie sterkte met jou laaste skooljaar!!

Will ·

Sjoe! Wow, Amazing! Baie Baie dankie julle. Die Here seën julle! Corné Baie baie sterkte vir die laaste skooljaar.

Poppie ·

As ek daar was, sou ek beslis ook help met diere. Hoop so “iemand” lees van jul onbaatsugtige diens en gee vir jou n lekker stywe beurs om in natuurbewaring te kan gaan studeer. Jy verdien dit deur en deur!

Jean van Rensburg ·

So mooi storie…baie baie dankie…ek glo God het julle aangestel…mag julle skade nie groot wees nie

Helene ·

Baie dankie! Hugo en Corne!! Ek salueer julle. Helde in my oê!!

Elna ·

Ek haal my hoed af vir jou! Jou ouers kan baie trots wees op jou. Welgedaan.

EC ·

Ons het meer mense soos Corne en Hugo Uys nodig in hierdie land. Dankie.

Leon ·

Boere maniere…hardloop vir niks..ons sorg vir die mense en land……
In ons gene..

Piet Pompies ·

Sulke optrede gaan nooit ongesiens verby en as dit in die karakter van ons jeug is sien ek ‘n blink toekoms vir ons land

Irene Smith ·

Baie dankie vir ongelooflike mense soos julle!!! Wow!!!

Karen Scheepers ·

Ek salueer julle. Ek het n groot soft spot vir skilpaaie.

Katvis ·

Baie dankie vir julle omgee en dat jul so veel kon red!!! ????

Estelle Janse Van Rensburg ·

Wat n yster!!!!

Hulle se as jy iemand se karakter wil sien let op hoe is die persoon teenoor diere

brens ·

Dankie vir mense soos julle!! Om vanoggend n pragstorie te lees maak my sommer lus vd dag! Welgedaan!

Marlize ·

Dis ongelooflik julle. My eerste gedagtes gaan ook altyd oor die diere veral die skilpaaie wat so stadig is. Baie dankie dat jul soveel omgegee het.

Lee ·

Julle is great. Baie baie dankie. Ek dink altyd wat van die arme skilpaaie as dit so brand.

Erich ·

Baie dankie julle twee en voorspoed vir julle. Mens besef nie altyd hoeveel diere doodbrand met so n veldbrand nie. Welgedaan.

Al ·

Julle is helde in ons oë. Ek glo dat jul nie jul eie lewe in gevaar gestel het nie

christa ·

so bly dat daar nog ouers is wat diereliefde by kinders in geskerp het. Dankie vir pa en seun vir so onbaatsugtige werk. So bly oor die wonderlike nuus

Shim ·

Wat ‘n ongelooflike goeie daad wat julle gedoen het!!! Dankie daarvoor.

Challa ·

Waar was die ander inwoners van Hermanus? Min gepla. Sies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.