Pa en seun vir goue hangertjie geskiet

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

ʼn Pa en sy 20-jarige seun is Maandag in die vroeë oggendure in hul huis in Ficksburg in die Vrystaat in die bolyf geskiet.

Kapt. Phumelelo Dhlamini, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 03:30 by die slagoffers se huis in Erweeweg plaasgevind.

Na wat verneem word het die pa ʼn geraas in die huis gehoor. Hy en sy seun het gaan ondersoek instel toe daar skielik op hulle losgebrand is.

Dhlamini het gesê voorlopige ondersoek dui daarop dat daar een beweerde rower in die huis was. Die verdagte het glo slegs met ʼn goue hangertjie gevlug en is steeds soek.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê lede van die gemeenskap het die twee slagoffers na ʼn nabygeleë hospitaal geneem waar personeel van die hospitaal en ER24 hulle bygestaan het.

“Die pa het ʼn koeëlwond aan sy bors opgedoen en sy seun is in sy maag geskiet. Albei is by die hospitaal gestabiliseer waarna hulle oorgeplaas is na Mediclinic Hoogland vir verdere behandeling,” het Meiring gesê.

Die polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord en huisroof. Mense met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan, word versoek om die polisie te bel by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johann ·

Geen respek vir self…geen respek.vir ander…insluitende die beginsel van LEWE..GEEN waarde aan iets of iemand anders.as die eie ek.

Gesiggie ·

Wat sou hy vir daai hangertjie gekry het… maybe R100.00 Maar vir poging tot Moord…en huisroof.. jare van Tronk straf… of sorry vergeet… hul gaan hom nie vinnig kan vang…ek is net bly dat die Pa en seun darem ok is… hierdie land van ons is sieklik.. hul skiet maar net omdat hul bang is dat hul gevang sal word… en dan vlug hul met amper niks, maar wil n lewe eis”’ sterkte aan PA EN SEUN, HOOP JUL HERSTEL GOU..

Dee ·

‘Pa en seun het gaan ondersoek instel toe daar skielik op hulle losgebrand is.’
Volgens die berig het die rower nie eens ‘n waarskuwingskoot geskiet maar direk op hulle geskiet! Is rowers nie volgens wet veronderstel om eers ‘n waarskuwingskoot te skiet nie?

vermeende ·

Nee hy moet eers waarsku dat hy gewapen is en dan die waarskuwingskoot.

JT ·

“Sitting Duck’s”, dit is wat ons is as ons nie ons self beveilig nie. Waar is die alarm sisteem, ogies buite, vuurwapen in die hand as jy weet iemand is in jou huis? Ek is bly die mense leef maar ons mense moet nou ophou so vertraag wees!

Cindy ·

Nee JT, dis nie vertraagde mense wat nie alarms, ogies en vuurwapens by hulle huise he nie, dis mense wat se hulle is vertraag wat vertraag is. Party mense kan nie al daardie goed bekostig nie omdat hulle salarisse miskien nie so groot soos joune is nie. En wat die vuurwapen betref, het jy regtig gedink iemand wat aan depressie ly gaan ‘n vuurwapen lisensie kan kry, of selfs iemand wat saam met so persoon bly. Miskien moet party mense net verder dink as wat hulle neuse lank is…

humor ·

Dit stem mens moedeloos as mense nog nie paraat is nie. Veiligheidsmaatskappye behoort landswyd kursusse aan te bied. Wat is jou optrede as jy n geraas in die huis hoor.

Janneman ·

Ek het so 10 jaar terug vrywillig my 9mm pistool by die polisie ingehandig – ek het in n veilige kompleks ingetrek, die lisensie proses was moelik gemaak en ek het gedink n wapenvrye omgewing is die beste opsie .
Dit was n uitsondelike wapen en al die polisielede aan diens het behoorlik daaroor gekloek. Ek wonder gereeld of ek n groot fout gemaak het en of die wapen ooit vernietig is en of dit dalk in verkeerde hande beland het.
Ek het wroeging hieroor en besef dit was n fout aangesien die polisie self soveel van hulle eie wapens sedertien verloor het. Mense in ons “veilige” kompleks is ook aangeval is nieteenstaande die elektriese heining en wagte.

cherokee ·

Wat was nou so ‘moeilik gemaak’ aan die lisensie-proses? En is jy permanent in daardie veilige kompleks of gaan jy partykeer uit ook? Ek woon in ‘n uiters veilige kompleks, vingerafdrukstelsel, 24 uur wagte, CCTV ens, maar het steeds 2 vuurwapens. Vandat vuurwapens nie meer bloot oor ‘n toonbank gekoop kan word nie maak almal asof dit so moeilik verkrygbaar geword het en beskuldig die regering van ontwapening maar intussen doen die publiek geen moeite daarvoor nie. Jy het jou vuurwapen ingegee bloot net omdat jy nie wou herlisensiëer nie. Mense moet ophou kla en bietjie meer moeite doen want jy moet jou gesin kan beskerm.

Joann ·

Waarskuwingsskoot se maai,ek skiet om dood te skiet voor rower my skiet. Watter rower het al ooit waarskuwingsskoot geskiet?

Isabella Archer ·

Jy mag nilks doen as hulle in jou huis kom nie slegs as jou lewe bedreig word. Die oomblik dat hy sy voet in jou erf sit is jou lewe bedreig want hy betree private eiendom. Hierdie wet moet verander word. genoeg is genoeg!!!

Corrie ·

Kry vir julle n Jack Russell,ek kan julle waarborg dat niemand in jou huis gaan inkom,ek het een en ek is glad nie spyt nie,hy maak so n groot lawaai dat daai een wat wil inkom dadelik spore maak(ek kon dit anders gestel het maar dan word ek n rassis genoem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.