Pa en seun waag lewe om vrou uit vlammehel te red

Argieffoto ter illustrasie.

Argieffoto ter illustrasie.

ʼn Pa en seun wat na ʼn verrassingspartytjie in Cullinan op pad was, se planne het ʼn dramatiese wending geneem toe hulle Saterdag ʼn vrou uit ʼn brandende motor gered het.

“Ons was op pad Cullinan toe. Die skoonfamilie en almal was daar. My seun se suster het vir hom ʼn verrassingspartytjie gereël. Hy word vandag [Maandag] 21 jaar oud. Soos wat liewe Jesus dit wou hê het al twee my motors gebreek. Ons het toe met sy 1971 Ford Cortina gery en was al drie uur laat,” het Pieter Pienaar se 49-jarige pa, wat anoniem wil bly omdat hy in die polisie is, aan Maroela Media gesê.

Net voor die Donkerhoek-tolplaza het hulle ʼn digte bol rook gesien. “Soos ons stadig nader gery het, het my seun vir my gesê ‘pa, die motor brand’. Ons het toe by die brandende motor stilgehou. Daar was ander mense wat ook stilgehou het, maar almal was te bang om nader te gaan omdat hulle skrikkerig was dat die motor kan ontplof.”

ʼn Man en vrou was nog in die brandende motor. Die man kon daarin slaag om uit die motor te kom en het in die veld naby die motor ineengestort. “Die vrou het toe so halflyf uit die motor gehang. Ek het nader gegaan en haar begin uittrek, maar die hitte was verskriklik. Pieter het nader gegaan en die vrou aan die arms gevat en begin uittrek.” Toe Pieter die vrou aan die arms vat om te begin trek, het ʼn blaas op haar arm in sy gesig gebars.

Teen hierdie tyd was die motor aan die brand. “Ek het gelukkig noodhulpopleiding wat ek al oor jare opgedoen het. Ons het toe dadelik twee handdoeke en die 10 liter water wat ons by ons gehad het uit ons motor gaan haal. Ons het eers haar bolyf toegegooi met die handdoek en toe begin water gooi. Die hitte was steeds te erg, ons het die tweede handdoek gebruik om haar nog so 5 meter verder te skuif en toe haar onderlyf ook bedek en begin water gooi. Die omstanders het hulle koelbokse uit die karre gehaal en vir ons ys gebring om ook oor die vrou te gooi.” Die man het brandwonde aan sy gesig, nek en arms gehad.

“Die voorval het voor ʼn boer se plaas plaasgevind. Hy en sy kleinseun en werkers het vir ons omtrent 80 liter water gebring wat ons ook kon gebruik,” vertel die pa.

“Daar het eers ʼn onafhanklike nooddiens opgedaag en daarna Netcare 911; hulle was verskriklik vinnig op die toneel.” Die man en vrou is albei gestabiliseer en na die Kalafong-hospitaal geneem.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het aan Maroela Media bevestig dat die man en vrou albei in die spesialiseenheid van die hospitaal opgeneem is. “Volgens berigte op die toneel het die man oorspronklik met sy vrou na ʼn hospitaal gejaag toe sy stuipe gekry het. Die motor het toe op pad aan die brand geraak.”

“Pieter is daardie tipe mens wat altyd sal help, maak nie saak hoe nie, hy sal altyd probeer. Ek wil ook graag vir almal wat stilgehou en op enige manier gehelp het baie dankie sê,” sluit die pa af. Pa en seun gaan albei berading ontvang. “Ek ly reeds aan posttraumatiese stresversteuring, ek is bietjie tranerig. Dit is die ergste toneel wat ek in 30 jaar gesien het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jean ·

Julle is fantasties, ek het letterlik trane in my oe gekry want ek weet dit kan nie maklik wees om ‘n vrou uit ‘n brandende motor te red nie. Julle kon self verskriklik verbrand het. Ek het ‘n vriend wat sy ma en pa so verloor het en al drie kinders het verbrand soos wat hulle die ouers probeer red het, maar nie daarin kon slaag nie. HELDE dit is wat julle is .. baie dankie vir die omgee.!! Dankie ook aan al die ander helpers, boer en Nooddienspersoneel en Netcare, sonder julle sou nog meer lewens in die slag gebly het. Sterkte vir julle met die berading, julle is wenners!! Sterkte ook aan die beseerdes, ons hoop julle herstel na wense!

Sandra Kritzinger ·

Ek en my man, Mario het ook gestop en was behulpsaam op die toneel totdat Netcare 911 opgedaag het. Wat my altyd sal by bly is hoe soveel mense gestop het en almal, ongeag die kleur van elkeen se vel, soos ‘n span saam gewerk het. Ek het na die man omgesien, hy was die heeltyd bekommerd oor sy vrou! Sy liefde en bekommernis oor haar, het my hart diepgeraak. Mag hulle volkome herstel. Sal bly bid vir hulle. Baie sterkte ook aan Pieter en sy seun, julle was baie dapper! Die mooi van omgee vir jou medemens, soos ons beleef het op die toneel, gee my moed vir die toekoms! Vriendelike groete, Sandra.

Sandra Kritzinger ·

Ek en my man, Mario het ook gestop en was behulpsaam op die toneel totdat Netcare 911 opgedaag het. Wat my altyd sal by bly is hoe soveel mense gestop het en almal, ongeag die kleur van elkeen se vel, soos ‘n span saam gewerk het. Ek het na die man omgesien, hy was die heeltyd bekommerd oor sy vrou! Sy liefde en bekommernis oor haar, het my hart diepgeraak. Mag hulle volkome herstel. Sal bly bid vir hulle. Baie sterkte ook aan Pieter en sy seun, julle was baie dapper! Die mooi van omgee vir jou medemens, soos ons beleef het op die toneel, gee my moed vir die toekoms! Vriendelike groete, Sandra.

Corne Hough ·

Shame mensies, Sharon is sondag oggend oorlede. Haar man is in ICU besig om te herstel. Ons ken hulle, Sharon se dogter werk saam met ons. Dankie aan almal wat gehelp het. Dis net verskriklik erg om so dood te gaan. Sy het dit ongelukkig nie gemaak nie. Rus in vrede Sharon.

Corne hough

Anoniem ·

Aan Pieter en sy seun…baie dankie dat jul wys daar steek nog goed in ons. Dankie dat jul die twee mensies gehelp het. Hoop jul en hulle is ok…Die goed bring trane in mens se oe…………..en groot dankbaarheid en trots in ons harte, want goeie mense is nog daar buite…………

Beatrice Grobler ·

Wat n testimony…baie baie dankie vir julle onbaatsugtige optrede…whoa nie almal sou dit waag nie…maar die Here het beskik dat al julle eie planne so skeef moes loop sodat julle op die regte tyd daar kon wees

Lalla ·

Met alles wat in ons land gebeur, het ons nogsteeds baie samaritane. Baie dankie aan die jong man en sy pa want ondanks die gevaar en die letsels wat hulle kon opdoen, nogsteeds iemand gehelp het. ‘n Ongeluk gebeur so vinnig, en mens kan nie se dit is iets wat die motoris en sy vrou kon voorkom het nie. Ook baie dankie aan al die omstanders en die boer en sy werkers wat gehelp het met water, ens. Julle verdien almal medaljes.

Claudene ·

Julle almal is ysters. nie almal sou hulle eie lewe ingevaar gestel het om n ander persoon te help nie!!!Dankie vir almal se hulp om die egpaar te help

bakoor ·

Ware HELDE almal wat die mense gehelp het. Julle verdien n medalje

Koos1 ·

Die Pienaars, julle is helde. Ware karkater getoon toe die mense dit die nodigste gehad het!
En nou wil ek ‘n vraag vra: Is die twee beseerdes in Kalafong se Brandeenheid opgeneem?
Indien wel, hoe is dit moontlik dat daar nie vir Sean (die seun wat so gebrand het in Centurion) plek is nie? Ek hoop ek is verkeerd maar daar staan spesialis afdeling opgeneem, glo ek nie dit is die ginokologiese afdeling nie.

peter ·

Goosebumps! Heros, almal van julle! Die boer en sy mense ook!

Karma ·

@Pieter, sy seun en almal wat bygestaan het, van die boer wat ekstra water gegee het, die ouens wat ys ui hul ysbokse gegee het en die privaat ambulans en ER24 wat so vining op die toneel was – JULLE IS ALMAL HELDE, GROOT, GROOT HELDE!!!!! Sterkte aan die man, vrou en hul gesinne met die herstelproses.

Gerrit ·

Aan die Pienaar’s en almal wat gehelp het,wat nie vir een oomblik gehuiwer het om hulle eie lewe in gevaar te stel nie julle is Ysters en het ware Karakter getoon mag God julle Ryklik Seen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.