Pa en seun wat glo mense smokkel, borgtog geweier

Carlos Bernardo Guambe (links, bo), sy broer, Gabriel Bernardo Guambe (regs, bo), Cornelis Johannes Uys (links, onder) en sy seun, Cornelis Johannes Albertus Uys bly in aanhouding. (Foto’s: Verskaf)

Cornelis Johannes Uys (60) en sy seun, Cornelis Johannes Albertus Uys (23), se borgtogaansoek is Woensdag in die landdroshof op Belfast, Mpumalanga, van die hand gewys.

Die twee is verlede maand op aanklag van mensehandel aangekeer en het saam met twee Mosambiekse broers, Carlos Bernardo Guambe (34) en Gabriel Bernardo Guambe (32), in die hof verskyn.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, sê die pa en seun sal na verwagting weer op 22 Augustus in die hof verskyn. Hulle bly tot dan in aanhouding.

Die Guambe-broers is verlede Dinsdag elk drie maande tronkstraf of ’n boete van R5 000 opgelê op aanklag van die oortreding van die Immigrasiewet.

Die aanklag teen hulle spruit uit ʼn gesamentlike operasie tussen die polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad, die blitspatrollie en die departemente van arbeid en binnelandse sake, waartydens 39 slagoffers, insluitend sewe vroue, nege kinders jonger as vyf en 23 mans ouer as 18, op ʼn plaas in die Dullstroom-omgewing gered is.

Die slagoffers is glo met ʼn taxi van Mosambiek na Suid-Afrika gebring vir werkgeleenthede.

By die grenspos moes hulle glo uitklim en die grens onwettig deur ʼn rivier oorsteek om Suid-Afrika te bereik. ʼn Taxi het hulle daarna na Mashishing (Lydenburg) geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Casper ·

Nou hoekom word hulle borg geweier.Hulle is geen vlugrisiko nie en het vaste adresse.Dit laat my net wonder.Die Mosambiekse burgers was ook by die mensehandel betrokke.

Porseleintjie ·

Hoekom die verskil in straf??? Is velkleur hier ter sprake?

piet ·

2 verskillende aanklagtes. Lyk asof net die Uys pa en seun betrokke was by mensehandel. Die ander was net onwettig in die land en is reeds gevonnis.

piet ·

Nie duidelik volgens die berig nie. Die Mosambiekers is reeds gevonnis vir ‘n ander aanklagte (omdat hulle onwettig in die land is). Dit was egter reeds verlede week. Siende dat hulle saam met die pa en seun gister verskyn het )as ek reg lees, is hulle dalk ook betrokke by die mensehandel. So. die Mosambiekers het waarskynlik nie aansoek gedoen vir borg soos die Uyse nie of het borgtog gekry (onwaarskynlik). Die berig berig net oor die Uyse se lot. Die hele klomp sit waarskynlik in die tronk. Die mensehandel saak gaan voort.

ES ·

Sal graag wil weet wie die afduimpies gooi – laat weet graag wat jou redenasie is.

George ·

Rasbehep. Lees die berig die pa en seen is human trafficers, die laagste van die laag.

Oosieoos ·

Gooi die tronk sleutel weg. Hulle smokkel die mense in dan word onskuldige mense vermoor deur hulle

Gaitsigubib ·

Kom ons skip sommer die verhoor, ne? Dis nie nodig om hulle kant van die saak te hoor nie. Kom daar nie n “D” voor jou naam nie?

Nie Verbaas ·

Nou hoekom kry verkragters en moordenaars borgtog maar hulle nie? Oor die wit velle?

Swerwer ·

Niks minder as reg nie. As ‘n persoon eers so laag gedaal het om mense handel te bedryf moet hul lewenslank agter tralies bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.