Pa erg siek maande ná slangbyt

Willem van der Merwe (Foto: Verskaf)

ʼn Man van die Oos-Kaap wat byna twee maande gelede deur ʼn pofadder gepik is, is Maandag na die dokter gejaag nadat hy skielik begin siek voel het.

Willem van der Merwe (33) het reeds die gebruik van sy linkervoet verloor nadat die pofadder hom op 21 November gepik het toe hy ʼn boorgatpomp by die gesin se huis in Kenton-on-Sea aangebring het. Hy verkeer sedertdien in erge pyn.

Nou het hy moontlik infeksie in sy been opgedoen en sal dalk weer in die hospitaal opgeneem moet word.

Gerda Steyn, Van der Merwe se skoonma, vertel hy was destyds binne vyf minute by ʼn dokter wat vir hom drie kortisoon-inspuitings, antibiotika en pynpille gegee het. “Die dokter het hom daarna huis toe gestuur en gesê die medikasie behoort te werk en hy moet die been vir die volgende 24 uur dophou,” vertel Steyn aan Maroela Media.

Steyn sê haar dogter (Van der Merwe se vrou), Rozanne, het haar die volgende oggend in ʼn toestand gebel.

“Sy het snikkend vir my vertel hoe Willem se been deur die nag vererger het. Sy been was erg geswel. Willem is terug na die dokter wat hom toe na die Livingstone-staatshospitaal in Gqeberha (Port Elizabeth) verwys het.”

Volgens Steyn was Van der Merwe sewe uur lank in die teater en daarna vyf dae lank in die intensiewesorgeenheid.

Willem se been net ná die pofadder hom in November gepik het (Foto: Verskaf)

“Hulle moes weefsel op sy been wegsny om die slanggif uit te kry. Hulle moes ook lang snye maak om die swelling stop te sit.”

Van der Merwe is net voor Kersfees uit die hospitaal ontslaan en moet weer op 26 Januarie teruggaan sodat hy met plastiese sjirurgie kan begin.

Van der Merwe se toestand het egter die naweek skielik agteruitgegaan. “Rozanne het my Sondag laat weet haar man lyk glad nie goed nie. Hy was erg bleek en het heeltyd gebraak,” vertel Steyn.

“Rozanne het Maandag vir Willem dokter toe gejaag omdat sy toestand versleg het. Volgens die dokter blyk dit dat hy ʼn bakteriële infeksie opgedoen het. Hy sal moontlik weer in die hospitaal opgeneem moet word.”

Volgens Steyn het Van der Merwe reeds die gebruik van sy linkervoet heeltemal verloor. “Sodra die plastiese sjirurgie voltooi is, sal hulle sy voet in posisie moet vaswerk, want dit hang tans net leweloos aan sy been.”

Van der Merwe kan boonop vir tyd en wyl nie sy werk as algemene werker by ʼn vervoermaatskappy voortsit nie en verbeur ʼn groot deel van sy salaris, terwyl die rekeninge ophoop. Sy werkgewer gee hom steeds ʼn klein gedeelte van sy salaris, maar die gesin moet nou met veel minder klaarkom. Dit is ook nie duidelik wanneer Van der Merwe weer sal kan werk nie.

“Die gesin het skaars geld vir kos. Hulle het ook nie ʼn motor nie en is afhanklik van rygeleenthede hospitaal toe. Die groot bekommernis is die vyf kinders, van wie vier nou amper moet terugkeer skool toe. Daar is nie geld vir hul skoolbenodigdhede en skoolskoene nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Rooikopheks ·

3 Kortisoon inspuitings, antibiotika en pynpille??? Is dit deesdae die voorskrif vir ń pofadder pik??? Ongelooflik, waarheen gaan mediese behandeling in ons land?

Tanya ·

Presies wat ek ook gewonder het, as die man binne 5min by die dokter was en hy hom onmiddelik hospitaal toe gestuur het, kon sy been nog gered word. Nou klink dit daar is nie meer hoop nie, want die einste dokter sé hulle gaan die voet so moet vas werk…. ek begin dink die man het geen mediese graad nie.

Werner ·

Nie vir Adders nie, teengif is slegs vir neurotoksiese gif. Adders se gif val weefsel aan.

Rooikopheks ·

Pofadder pik vernietig weefsel, nie net waar die pik merk is nie, kan ook op ander plekke weefsel verloor.

Shakespeare ·

Lyk my hy word in n staatshospitaal behandel. Mense gaan dood daar want goeie diens en versorging bestaan nie daar nie. Onbevoeg en geen mediese etiek nie.

piet ·

Dis nie my eerstehandse ondervinding nie. Hang seker af van welke staatshospitaal. Gevaarlik om so ‘n algemene stelling te maak.

Christina ·

Stem met jou saam. Ek het nog elke keer goeie behandeling ontvang nadat ek opgeneem was. Dit gaan nie altyd so goed by ongevalle nie.

Marius ·

Dit is jammer dat hy nog steeds so siek word nieteenstaande die feit dat hy gou by die hospitaal aangeklop het. As die regte behandeling toegepas word kom jy gewoonlik ongeskonde daardeur.

Samuel ·

Ek het empatie en simpatie met die man. Ek verstaan regtig deur watter trauma hy gaan.

Verkeerde behandeling vir spinnekop byt van die staanspoor uit, het my 10 weke in die hospitaal gekos, waarvan 14 dae in intensiewe sorg. Nou, tweejaar later, kry ek steeds weekliks behandeling vir ‘n wond wat nie genees nie. Die dokter wat my aanvanklik behandel het, is skotvry.

Delia ·

Daars 2 kante aan elke saak. Moenie so vinnig oordeel al die “dokters” voor die rekenaars.
Kom ins dra almal eerder by op back a buddy. Dan doen ons waardevol om die man te help.

JL ·

Jammer vir die man en sy gesin. Kom ons ondersteun mekaar indien moontlik.

Sonja ·

Bel ‘n Dokter en gaan dan saammet Dokter na ‘n Veearts en kry dadelik teengif met Pofadder het jy een uur tyd om dit te doen. Niks anderste sal werk nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.