Pa erken hy vermoor dogter; sussie getuig

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Pa wat daarvan beskuldig word dat hy sy sewejarige dogter, wat aan epilepsie ly, verkrag en vermoor het, het Dinsdag in die rondgaande hooggeregshofsitting in Nelspruit, Mpumalanga, verskyn.

Sunnyboy Phakimpi Mnisi (32) van KaMhlushwa naby Malalane, het skuldig gepleit op ʼn aanklag van moord, maar ontken dat hy haar verkrag het, het ʼn Sapa-korrespondent berig.

Hy het vrywillig erken dat sy optrede tot sy dogter, Ayanda Nokuvela Mnisi (7) se dood gelei het toe sy ʼn toeval gekry het. Hy het erken dat hy op 16 Augustus 2012 haar kop teen die vloer gestamp het en weggehardloop het toe hy besef sy is dood.

Mnisi het getuig hy het daarna sy ma gebel en haar ingelig dat hy sy eie dogter vermoor het.

Toe staatsaanklaer George Baloyi die hof gevra het om die beskuldigde in polisieaanhouding te hou omdat hy skuldig gepleit het op die moordklag, het Mnisi geweier. “Nee, nee nee! Dit gaan nie gebeur nie,” het hy gesê. “Ek gaan nie daar binne nie. Julle het my gevra om te pleit en nou wil julle my toesluit. Bel eers my ma of dit gaan nie gebeur nie.”

Mnisi se ma is ontbied en sy het hom getroos terwyl hy na die polisieselle begelei is.

Norma Prudence Mnisi, die beskuldigde se suster, het voor die hof verdaag het, getuig dat sy ʼn oproep van hul ma ontvang het dat haar broer sy dogter vermoor het. “Ek is ʼn lid van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), so ons het na sy huis gegaan om ondersoek in te stel en die deure het wyd oop gestaan,” het Norma verduidelik. “Ayanda het op die vloer in sy slaapkamer gelê. Sy was reeds dood.”

Norma sê Ayanda het nie klere aangehad nie, en haar gesig was met ʼn T-hemp bedek en haar geslagsdele was met haar skoolrok bedek. “Ek het uit die huis gestap en my sektorbestuurder en die polisie gekontak. Dit kind se ma is lankal dood en sy het saam met ons ma gebly,” het Norma bygevoeg.

ʼn Broer het die beskuldigde by ʼn veld gaan soek waar hy weggekruip het, en hy het huilend teruggekom huis toe. Volgens Norma het hy aan die gesin om verskoning gevra en gesê hy het ʼn fout gemaak om die kind te vermoor. “Hy het gebewe en nie baie gesê nie,” het Norma getuig.

Dr. Jan Marais, wat die nadoodse ondersoek op die kind gedoen het, het getuig dat sy ʼn kopbesering opgedoen het en verwurg is. Hy het ook gesê daar is tekens dat sy verkrag is. Aangesien die nadoodse ondersoek eers ses dae ná haar afsterwe plaasgevind het, kon hy nie bepaal of die verkragtings voor of na haar dood plaasgevind het nie.

Regter Ebenhaezer Jordaan het gesê die hof moet ʼn patoloog roep om te bepaal of die verkragting voor, tydens of na haar moord plaasgevind het.

Die saak duur voort. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Liza Opperman ·

hy wil nie tronk toe gaan omdat hy erken het hy het dit gedoen. WOW! Laat hy maar sit vir die res van sy lewe!

Penelope ·

Bring asb die doodstraf terug sulke mense verdien geen bejamering nie hoekom nog sy ma laat kom gooi hom in die donkerste gat wat jy kan kry. Kinders is so onskuldig genade dit is net nie menslik nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.