Pa gevonnis oor hy lyke brand ná seun skiet

court-hammer_thumb‘n Pa is Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria gevonnis nadat hy die lyke van twee vermeende wilddiewe wat deur sy seun doodgeskiet is, verbrand het.

Regter Winston Msimeki het Douw de Beer (59) tot twee jaar tronkstraf gevonnis vir dwarsboming van die gereg . De Beer het die liggame van twee wildjagters, Morris Morua (36) en Zacharia Leso (35), aan die brand gesteek nadat sy seun, Dylan (26), hulle doodgeskiet het. Die voorval het op 22 April 2004 op De Beer se plaas, Deo Gloria, in Boschkop plaasgevind.

Dylan is gevonnis tot ‘n boete van R2 000 of ses maande tronkstraf nadat hy een van die mans se selfone gevat het. Msimeki het De Beer se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys. De Beer se borgtog van R10 000 is verleng hangende ‘n aansoek by die hoogste hof van appèl om teen die vonnis te appelleer. De Beer is gewaarsku dat hy binne 48uur moet aanmeld om sy vonnis te begin uitdien indien sy aansoek tot die hoogste hof van appèl van die hand gewys word.

Dylan, ‘n veearts, was 16 jaar oud en steeds op skool toe hy die twee mans doodgeskiet het. Die hof het in die afwesigheid van enige ander bewyse, aanvaar dat Dylan uit selfverdediging opgetree het aangesien die twee mans onwettig op sy pa se plaas gejag het en dat hulle eerste op hom begin skiet het. De Beer het erken dat hy die liggame verbrand het. Hy het aan die hof gesê hy was “buite homself” en dat hy besluit het om “op te ruim” aangesien hy wou keer dat sy seun in hegtenis geneem word.

Kapt. Nick Pitsoane, die ondersoekbeampte, het vroeër getuig dat die enigste menslike oorskot wat op die plaas gevind is, ‘n paar beendere was. Die hof het ook gehoor dat De Beer en sy gesin deur die gemeenskap gedreig is en hy sy plaas teen ‘n verlies moes verkoop en dat hy weens die voorval werkloos is.

Msimeki het die De Beers se gedrag as “veragtelik” beskryf. Hy sê De Beer het seker gemaak dat daar niks van die liggame oorbly nie en dat dit beplanning geverg het. De Beer het sy seun glo opdrag gegee om die selfoon in ‘n dam te gooi. Msimeki sê De Beer het ook nie vir die polisie gesê wat gebeur het nie.

“Sy gedrag het tot gevolg gehad dat daar nie nadoodse ondersoeke op die oorledenes gedoen kon word nie. Ek dink nie hy sou gebieg het as die polisie nie die selfoon opgespoor het nie.” Msimeki sê hoewel die saak vir 10 jaar gesloer het, kan die beskuldigdes nie net ongestraf bly vir hulle veragtelike dade nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.