Pa gevonnis vir moord op seun (4)

Argieffoto.

ʼn Pa wat sy vierjarige seun verskeie kere met ʼn besemstok geslaan, hom met ʼn sigaret gebrand, sy kop teen ʼn muur geslaan en uiteindelik sy dood veroorsaak het, is in die Palm Ridge-hooggeregshof in Johannesburg gevonnis.

Regter Thami Makhanya het Jimmy Boesak (35) tot 16 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op sy seun, Vee-Jen Caleb Ouman, op 31 Augustus 2017. Boesak is ook vroeër vandeesweek skuldig bevind op aanklagte van aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

“Die hof neem die erns van hierdie misdade en die belange van die samelewing in ag,” het Makhanya tydens die vonnisoplegging gesê.

Boesak het tydens die verhoor erken dat hy Vee-Jen in die maag geslaan het, ʼn belt en haarborsel gebruik het om hom mee te slaan en hom met ʼn vuurhoutjie gebrand het. Staatsaanklaer Rolene Bester het egter bewys dat Boesak ook ʼn besemstok gebruik het om die seuntjie te slaan, sy kop teen ʼn muur geslaan het en ʼn sigaret gebruik het om hom mee te brand.

“Die misdade waaraan die beskuldigde skuldig bevind is, is ongetwyfeld ernstig. Wat die misdaad nog erger maak, is dat die slagoffer ʼn kind was. Hierdie hof het ʼn verpligting om kinders te beskerm. Hy was duidelik ʼn maklike teiken.”

Makhanya het verder gesê kindermishandeling is ʼn sindroom of ʼn siekte waarvoor daar geen kuur is nie en pa’s is veronderstel om ʼn natuurlike instink te hê om hul kinders te beskerm.

Boesak het beweer hy het die vierjarige mishandel omdat hy vermoed het dat hy betrokke was by seksuele aktiwiteite met ander kinders. Vee-Jen het dit ontken, maar dit het Boesak nie oortuig nie.

Makhanya het gesê dit lyk asof Boesak ʼn obsessie hieroor ontwikkel het tot op ʼn punt waar hy ander seuns geïdentifiseer het wat hy geglo het ook by die aktiwiteite betrokke was. ʼn Verpleegster het bevestig dat ʼn vierjarige nie by seksuele aktiwiteite betrokke kan wees nie.

Boesak se dogter, nou vier jaar oud, het tydens die verhoor getuig sy het gesien hoe haar pa haar broer met ʼn besem slaan, hom met ʼn sigaret brand en sy kop teen ʼn muur slaan.

Dit het tydens die vonnisverrigtinge aan die lig gekom dat Boesak op ʼn jong ouderdom herhaaldelik deur ouer seuns gemolesteer is, maar Makhanya het gesê dit is nie ʼn verskoning vir wat hy gedoen het nie. “Die beskuldigde het reeds ʼn jaar in die tronk as verhoorafwagtende deurgebring. Hierdie tydperk word in ag geneem.”

Vee-Jen se ma, asook ander familielede van Boesak, was in die hof teenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

wonder ·

Dit is baie erg wat gebeur het. Arme arme kind. Maar wat ek graag wil weet hoe kan n kind wat toe als gebeur het net 3 jaar was n jaar later onthou en al die goed getuig? Deur wat moet die arme kind nie gesit gewors het vir die inligting nie. Shame…

Anoniem ·

Mnr. Boesak, gelukkig is dit 16 jaar want nou is Jy vir ten minste 16 jaar veilig want die ergste kom nog as Jou EENDAG voor die groot stoel moet gaan staan !

Wat ‘n groot skande ! ‘Shame on you’

My 2 sent ·

16 jaar? Is dit hoe ons kinders beskerm.?Ongeag of daar versagtende omstansdighede is en of die sussie reg onthou… 16 jaar straf vir ñ lewe is onaanvaarbaar!
Ek glo die sussie sal dit vir die res van haar lewe onthou, om so ñ trauma te beleef sit verewig.

Loon ·

In ander lande kry jy die doodstraf as jy dwelms smokkel, dankie daarvoor want jy verwoes lewens, in die Banana Republiek van N grap vir Suid Afrika kry jy 16 jaar vir moord……
En en en……..
Wat moet ek nog sê wat ons almal nie weet nie…….

Jana ·

Net 16 jaar??!! Dis belaglik! Hy moet nooit weer uit die tronk kom nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.