Pa in hof ná moord op tweeling

Mario-César Deus Yela. Foto: Catherine Rice/ANA

ʼn Spaanse tandarts wat daarvan beskuldig word dat hy sy tweeling vermoor het terwyl hy met vakansie in Kaapstad was, het Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn.

Mario-César Deus Yela (50) staan tereg op twee aanklagte van moord. Hy word daarvan beskuldig dat hy sy driejarige kinders, Maximo en Octavia, in April verlede jaar in ʼn vakansiewoonstel in Houtbaai vermoor het.

Yela se eksvrou en die ma van die kinders, Julia Engelhorn, was ook Maandag in die hof. Die verhoor is al verskeie kere uitgestel aangesien die staat en die verdediging nie op ʼn datum ooreen kan kom nie.

William Booth, Yela se regsverteenwoordiger, het die hof versoek om die saak tot 4 Februarie uit te stel, maar regter Vincent Saldanha het die versoek geweier.

Julia Engelhorn saam met Maximo en Octavia. Foto: Facebook

Staatsaanklaer Louise Friester-Sampson het gesê sy is gereed om met die verhoor voort te gaan, maar die hofrol vir die vierde termyn is reeds vasgestel. Booth het gesê hy wil “verdere gesprekke hê” ten einde ʼn uitgerekte verhoor te vermy.

Die moontlikheid van ʼn pleit- en vonnisooreenkoms lyk onwaarskynlik. Booth het die hof ook versoek om ʼn geskikte Spaanse tolk vir die duur van die verhoor te kry.

Regter Saldanha het die vertragings as ʼn “ernstige kommer” beskryf. “Die hof moet tot ʼn besluit daaroor kom of die saak voorkom of nie.”

Saldanha het die saak tot later vandag uitgestel om die staat en die verdediging kans te gee om op ʼn vroeëre verhoordatum ooreen te kom.

Engelhorn het op 6 April 2017 op haar kinders se lyke afgekom in Yela se vakansiewoonstel. Yela het Engelhorn glo vir middagete na die woonstel genooi waar sy op die lyke afgekom het. Hy het haar toe glo met ʼn mes gedreig voor hy van die toneel gevlug het.

Yela is kort daarna in Wynberg in hegtenis geneem. Hy bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karolis ·

Hy het meer regte as wat sy kinders gehad het.
Booth gaan waarskynlik veroorsaak dat hy wegkom.

Theresa B ·

SA moet oorsee gaan leer hoe om sulke dinge te hanteer en af te reken met die skuldiges. Hier gaan dit alles ligtelik. Daardie arme kindertjies het nie gevra vir daardie tipe behandeling nie. Al wat hulle vra is liefde.

Kobus ·

Wag maar tot jy of een van jou geliefdes verdink wotd van ń ernstige misdaad, dan sien ons hoe vinnig stel jy iemand soos Booth aan. Hy doen net sy werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.