Pa in maag geskiet tydens gewelddadige huisroof

Brendon en Cassie Roux. Foto: Facebook.

ʼn 59-jarige Johannesburgse man is in ʼn ernstige maar stabiele toestand in die hoësorgeenheid van die Bedford Gardens-hospitaal in Germiston ná hy en sy gesin Maandagoggend gewelddadig in hul huis aangeval is.

Brendon Roux (26), Cassie Roux se seun, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 07:25 Maandag by hul huis in Malvern in die ooste van Johannesburg plaasgevind. Volgens Roux is die huishulp, wat op die erf bly, deur vier aanvallers oorval terwyl sy die huis oopgesluit het. Sy is geslaan, vasgebind en in die huis in geneem.

“Die aanvallers het toe die huis binnegegaan waar my ma, Joyce Roux (57), besig was om te stort en my pa nog op die bed gelê het. Hulle het ewe ordentlik aan die deur geklop en toe ingegaan toe niemand oopmaak nie,” het Roux vertel.

Roux vertel een van die vier mans was gewapen en het ʼn skoot in sy pa se rigting afgevuur. Die koeël het sy pa gemis.

“My pa het toe vir hom gegaan en die aanvaller het nog ʼn skoot afgevuur, en my pa is in die maag geskiet. Die koeël het deurgegaan na sy heup toe.”

Roux vertel hy woon in ʼn woonstel op die erf en het sy ma se gille en die geweerskote gehoor en dadelik gaan ondersoek instel.

“Hulle het my en my ma toe ook aangerand. Hulle het my met die vuurwapen geslaan en my ma verskriklik rondgepluk en geruk,” het Roux vertel.

Al drie lede van die Roux-gesin is met skoenveters vasgebind en op die bed laat lê en met ʼn duvet bedek.

“Toe my pa sê ‘eina’, sê die een vir hom: ‘What the f**k are you saying? I’m gonna shoot you!’”

Roux sê die aanvaller met die vuurwapen was deurentyd baie aggressief en dat een van die ander heeltyd vir hom gesê het: “Don’t shoot them, don’t shoot them.” “Die aggressiewe een het sy makker gevloek en hom gedreig.”

Die aanvallers het die huis geplunder toe die gesin vasgebind was en met Brendon se Hyundai Getz van die toneel gevlug met onder meer hul klanktoerusting, juweliersware, kontant, selfone en skootrekenaars.

“Die motor is later die dag sowat 400 m van die huis af by ʼn ou mynhoop opgespoor.”

Roux vertel hulle het sowat ʼn halfuur vasgebind gelê voordat hy daarin kon slaag om homself los te wikkel. Hulle het self met sy pa na die hospitaal gejaag.

Cassie moes Maandag twee operasies ondergaan om die koeël uit sy heup te verwyder. “Dit gaan vandag bietjie beter met hom, hy was gister in ʼn baie ernstiger toestand,” het Roux gesê.

Brendon en sy ma het kneusplekke tydens die voorval opgedoen.

Volgens Roux is sy hond sowat vyf maande gelede tydens ʼn inbraak vergiftig en die gesin van onder meer klere beroof.

Kapt. André de Jager, Ekurhuleni-Wes se polisiewoordvoerder, het die voorval aan Maroela Media bevestig en het gesê die polisie ondersoek sake van huisroof en poging tot moord

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Carel ·

Kyk wat gaan aan maar die regering en CR spits hulle toe op grond onteiening
Sterke aan die Roux gesin

Eish ·

Hoe lank nog dat ons in sulke vrees en omstandighede moet leef?
Ek waarlik so moeg vir die helhool maar te arm en oud om te emigreer!

IK ·

Loop met jou vuurwapen aan jou lyf vir 25uur per dag en 8dae per week. SLUIT jou deure elke keer wanneer jy uit- of inbeweeg. Doen jou huis- en tuinwerk self (soos ek). Jy sal gewoond raak aan die bietjie stof, dis geen bekommernis. En ja, hou honde aan jou te waarsku. Voorgaande is maar net die raamwerk.

White Rhino ·

Stuur dit vir Trump en ook die wye wereld in.
mail dit ook vir sisulu

Andre Levington ·

Hey ou maat. Ek is so dankbaar ons hemelse vader het julle gespaar en beskerem. Ons bid vir jou vinnige en volkome herstel tot gesondheid. Moenie ophou baklei en glo vir wat reg is nie. Wees asb meer versigtig en pas jouself en gesin mooi op. Ek is om die hoek van jou en sal altyd daar wees vir jou. Skree net asb. Hoop om jou vinning weer op die been te sien en ons gaan seker maak om by mekaar weer te kuier. Groete van jou ou Blou Bul pel.

jakes ·

Dit hou net nooit op nie. As ander lande die doodstraf kan ople vir dwelmhandel hoekom kan ons nie die doodstraf ople vir hierdie tipe misdade nie? 50 mense er dag word in SA vermoor maar niks word hieraan gedoen nie. As ons van hierdie skobbejakke kan ontslae raak teen 50 per dag dmv die doodstraf dan sal dit vining die regte boodskap uitstuur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.