Pa in waakeenheid ná vliegongeluk seun eis

Die 12-jarige Daniël Theron (middel), saam met sy broers Jean-Pieter en Stephan. (Foto: Facebook)

Die lugvaartgemeenskap – en veral girokopterentoesiaste – is geruk ná die dood van die 12-jarige Daniël Theron in ʼn vliegongeluk vroeër vandeesweek.

Daniël Theron sr., ʼn boer van die Tulbagh-omgewing, was aan die stuur van die Magni Gyro-sportvliegtuig toe hulle Maandag naby Laingsburg in die moeilikheid beland het.

Len Klopper, ook ʼn girokoptervlieënier, het voor in die formasie gevlieg waarvan pa en seun ook deel was. Volgens Klopper het hulle Sondag by die Gariepdam opgestyg waar ʼn girokoptersaamtrek die afgelope naweek plaasgevind het.

Die groep is daarna na Beaufort-Wes waar hulle oorgeslaap het. Hulle het Maandag na Laingsburg vertrek. Klopper sê hulle het by die Laingsburg-vliegveld met brandstof opgevul.

Die noodlot het kort daarna toegeslaan.

Klopper sê die vyf vliegtuie wat saamgevlieg het, het ʼn goed voorafuitgewerkte prosedure indien ʼn voorval plaasvind. In dié geval het een van die ander vlieëniers die rook – van die Therons se vliegtuig wat neergestort het – gesien, waarna die noodprosedure in werking gestel is.

“Daniël het niks gesê nie, hy het niks op die radio geroep nie … Toe ons terugdraai, het ons net rook gesien.”

Ingevolge hulle prosedure het een van die oorblywende vlieëniers dadelik hoër gevlieg sodat hy hulp per radio deur die Kaapstad-lughawe kon ontbied. Dié vlieënier kon egter nie die toring in die hande kry nie en het dadelik teruggevlieg Laingsburg toe om hulp te ontbied.

Klopper sê terwyl die twee ander vlieëniers aanhou sirkel het, het hy so laag as moontlik bo die wrak gevlieg.

“Ek is af en het baie laag en stadig gevlieg. Daar was nêrens plek om te land of om op te styg nie. Daniël [sr.] het langs die vliegtuig gestaan en ek kon sien sy klere het gebrand.

“Ek kon sy seuntjie nêrens sien nie, maar daar was ʼn verskriklike brand.”

Die drie oorblywende vlieëniers het daarna ook teruggevlieg Laingsburg toe vanwaar hulp reeds ontbied is.

Klein Daniël, ʼn leerder aan die Rijk Tulbagh Privaatskool, se broer Stephan (21) was in ʼn bakkie vanaf die saamtrek op pad huis toe, toe hy die tyding ontvang het.

“Dit is tragies, só verskriklik tragies,” het Klopper, self ʼn girokoptervlieënier en hoofvlieginstrukteur, Woensdag gesê.

Hy sê hy het die naweek met Daniël jr. geskerts dat hy moet kom vir vlieglesse wanneer hy 16 jaar oud word. Die jong man was baie opgewonde toe hy hoor jy kan al ʼn vlieglisensie op 17-jarige ouderdom kry, selfs voor jou bestuurderslisensie, vertel Klopper.

Volgens hom is Daniël sr. steeds onder verdowing in die intensiewe sorgeenheid van ʼn hospitaal waar hy vir ernstige brandwonde behandel word. Klopper sê Daniël sr. was ʼn geesdriftige en bekwame vlieënier wat al etlike jare lank vlieg.

“Hopelik herstel Daniël ten volle en kan hy vir ons sê wat presies gebeur het. Nou kan ons net probeer uitvind wat gebeur het en dit in die toekoms verhoed,” sê Klopper.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, sê die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek na aanleiding van die seuntjie se dood. Die Burgerlugvaartowerheid behartig die ondersoek na die oorsaak van die ongeluk.

Talle boodskappe van medelye is intussen aan Daniël sr. se vrou, Annelie, en die familie gestuur. Daniël het ook nog ʼn ouer broer, Jean-Pieter (18). Maroela Media kon nog nie die familie vir kommentaar bereik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Misky ·

Sjoe, dis ongelooflik hartseer. Sterkte aan die gesin in die tyd wat voorlê. Sulke mooie seuns

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.