Pa kan aanspreeklik gehou word vir gesin se vlammedood

Adv. Gerrie Nel in die hof. (Foto: Verskaf)

Naeem Deedat kan aanspreeklik gehou word vir sy vrou, Suraya Deedat, en hul vier kinders se vlammedood meer as ’n dekade gelede.

Só het landdros John Maloba Dinsdag in die Johannesburgse landdroshof bepaal nadat Suraya en haar kinders in 2011 tydens ’n brand in hul huis in Johannesburg gesterf het.

Naeem is die enigste lid van die gesin wat die brand oorleef het en daar word beweer dat hy vir die brand verantwoordelik was.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sal nou moet besluit of Naeem vervolg gaan word al dan nie.

Maloba het vroeër vandag gesê hy ag die geregtelike doodsondersoek (GDO) en sy besluit rakende die aanspreeklikheid van Naeem as ’n vangnet vir die NVG om dié besluit te neem.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, verteenwoordig die familie van Suraya en haar kinders.

Dié eenheid het gedurende die geregtelike doodsondersoek verskeie deskundiges en ander getuies geroep om die hof te oortuig dat Naeem sy gesinslede doelbewus uitgewis het.

Maroela Media het vroeër berig Suraya se ma, Nazeema Ahmed, het getuig dat sy en haar man gereeld gesien het dat Naeem vir Suraya in die huis toesluit wanneer hy die huis verlaat het, asook dat Suraya en Naeem nie ’n gelukkige huwelik gehad het nie.

Volgens Ahmed het Naeem nie ná die brand met hul gesin kontak gemaak of gepoog om te verduidelik wat op die aand van die brand gebeur het nie.

Natasha Venter, adviseur by die privaatvervolgingseenheid, sê volgens Maloba is die feit dat Naeem aanspreeklik gehou kan word ’n oorwinning vir Suraya se familie wat al so lank aanhou veg vir geregtigheid. “Dít is een van die ergste gevalle van geslagsgebaseerde geweld wat ons nog teëgekom het en ons sal voortgaan om Suraya se familie by te staan in dié saak.

“Sou die NVG, ondanks die oorweldigende getuienis wat die eenheid tydens die geregtelike doodsondersoek voorgehou het, besluit om nié te vervolg nie, sal ons private vervolging oorweeg,” het Venter gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rooikopheks ·

Dis net ongelooflik hoe lank sake kan sleep, ń dekade?

Hasie ·

Ek kan verstaan dat hofsakke oor gesinsgeweld so lank neem . Dit is bitter moeilik om samewerking te kry van getuies asook die polisie en speurders .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.