PA kap na Trollip oor adjunk-pos

Athol Trollip, die burgemeester van die Nelson Mandelbaai-metro. Foto: Facebook

Marlon Daniels, raadslid van die Patriotic Alliance (PA) in Nelson Mandelabaai, het burgemeester Athol Trollip Vrydag daarvan beskuldig dat hy ʼn diktator is omdat hy nie wil hê die vakante pos van adjunkburgemeester moet gevul word nie.

Dit kom nadat die PA Donderdag amptelik aan die DA-geleide koalisieregering onttrek het, net drie maande nadat die koalisieregering die metro oorgeneem het.

Die PA het gedreig om sy ooreenkoms met die DA te staak indien Daniels nie as adjunkburgemeester aangestel word nie. Daniels het Vrydag in ʼn WhatsApp-boodskap beweer ʼn vergadering is vroeër die week gehou waartydens Trollip prontuit gesê het die stad het nie ʼn adjunkburgemeester nodig nie. Hy het gesê Trollip het glo gesê die metro het net ʼn burgemeester en LUR’e nodig.

Daniels het Trollip arrogant genoem en het die oorblywende koalisievennote, die African Christian Democratic Party (ACDP) en Congress of the People (Cope), daarvan beskuldig dat hulle toelaat dat daar oor hulle geloop word.

Daniels is van mening dat Trollip alleen aan die stuur van sake wil wees en het Siyasanga Sijadu, raadslid van Cope, en Lance Grootboom, ʼn ACDP-raadslid, daarvan beskuldig dat hulle handpoppe is wat gemanipuleer word.

“Hoe kan enige mens ooit instem dat hierdie metro net ʼn burgemeester nodig het? Hoekom sal jy ander probeer oortuig dat ons nie iemand nodig het wat homself bo ander stel deur adjunkburgemeester te wees nie, maar tog wil jy as burgemeester oor almal heers?” het Daniels gevra.

Intussen het Kristoff Adelbert, die burgemeesterskomitee se personeelhoof, gesê die raad is nie verplig om ʼn adjunkburgemeester te verkies nie. “Nie die Stad van Johannesburg óf die Stad Tshwane het adjunkburgemeesters nie,” het Adelbert gesê.

“Enige verandering of aanstelling van ʼn posisie op die uitvoerende raad moet deur al die koalisievennote ooreengekom word. Daar was nog nie tyd hiervoor voor gister [Donderdag] se raadsvergadering nie.”

Met die jongste verwikkelinge in die Nelson Mandelabaai-metro se politieke landskap, is die DA-geleide koalisie terug na 59 setels teen ʼn gesamentlike 61 setels vir die opposisie indien die United Democratic Movement (UDM) besluit om deel van die opposisie te bly. Op die oomblik kan die koalisieregering nie mosies goedkeur indien dit nie die ondersteuning van minstens twee opposisiepartye het nie.

Donderdag se raadsvergadering moes verdaag omdat daar nie ʼn kworum was nadat opposisiepartye die sitting geboikot het nie.

Die ANC, EFF, AIC, United Front en UDM het almal nie vir die vergadering opgedaag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Josua Keys ·

Ja mnr Daniels jy is 100% reg hulle dans na die DA se pype in n positiewe manier nie soos julle wat indien julle met n koalisie instem iets daarvoor verruil wil hê nie, hulle almal doen dit in die belang van die kiesers wat hulle daar geplaas het en nie vir hul eie sak nie, wat julle nie besef of wil besef nie, op die lang duur kan almal daaruit voordeel trek, ten eerstens die kiesers en dan die mense wat hul verkies het, In Krugersdorp gebeur presies dieslfde, die ANC het die verkiesing verloor maar weier steeds om saam die DA ‘n verskil in ons dorp te maak, min besef hulle dat om altyd dwars te trek maak meer skade as goed en die kiesers se dienslewering bly agtregewee maar indien hulle positief en in vrede kan saamwerk en positiewe besluite maak sal almal daaruit kan voordeel trek. Jy is presies nou soos ‘n seuntjie wat kla as jy nie kans gegee word om klaskaptein te word nie maar min het jy geweet dat die onderwyser vir jou dalk ‘n belangriker doel beplan maar gun die onderwyser nooit die kans om dit deur te voer nie want dit gebeur nie na jou wense en wil nie.

Eish ·

Swarigheid indien dit ons voorland met koalisiepolitiek is. Verwagtinge en waardes wat bots. Selfsug en die ” Greater good”. Verwesterting vs Afrikanisering. Koalisievennote moet maar die fýnskrif deurtrap alvorens hul saam op die katel spring.

Boet Fasie ·

Mooi Josua ek hou van jou inset hierbo. Daar is sekere politieke partye wat dink die munisipale raad is ‘n werkskepping en welsyn projek. Om adjunk klas kaptein te wees is nie ‘n reg nie maar ‘n voorreg – die raad moet verantwoordelik optree met die belastingbetaler se geld terwille van die gemeenskap.

jaco ·

Trollip lyk darem baie wit en manlik as burgermeester vanuit n party wat nogal VIR regstellende aksie gestem het. Of pas hulle dit net toe waar dit hulle pas???

jaco ·

Dis feite dat die DA vir die regstellende aksie wet gestem het. so dis baie vreemd dat hulle burgermeester in Nelson Mandelabaai ‘n WIT MAN is. Hoe gaan hulle so swart steun kry? Of is die gerug dat regstellende aksie erger is teen wit Afrikaanssprende mans erger is as teen wit Engelssprekende mans dalk waar?
As daar vingers in SA gewys moet word oor kolonialisme en onderdrukking, is die Engelse die groot sondaars, maar tyd en genoeg plek ontbreek vir voorbeelde van regoor die ou British Empire.

Adam ·

Jaco , jou logika is verstommend. Indien jy wil vashaak by die Engelse of Apartheid, is jy welkom om dit te doen, maar ongelukkig sal dit jou weinig in die sak bring. Afrikaners was altyd aanpasbaar en kreatief; moenie dat politiek korrekte snert jou oordeel belemmer nie.

Alida ·

Die ANC wil net steel en Mnr Trolip hou die beursie toe. Hulle hou nie daarvan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.