Pa, kinders en talle ander in ongeluk beseer

(Foto: ER24)

Drie mense, onder wie ’n pa en sy agtjarige dogter, is in ’n kritieke toestand na ’n hospitaal gehaas ná ’n botsing tussen ’n taxi, ʼn motor en ʼn vragmotor in Walkerville, suid van Johannesburg.

Die dogtertjie se 13-jarige boetie het matige beserings opgedoen. Al drie lede van dié gesin is na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto geneem vir mediese behandeling.

Talle ander mense is ook in die botsing beseer.

Ross Campbell, woordvoerder van ER24, sê paramedici is Dinsdagmiddag na die toneel op die kruising van die R82 en R557 ontbied waar hulle by hul aankoms omstreeks 13:30 passasiers aangetref het wat uit die voertuie geslinger is en ander wat self uit die motors geklim het.

’n Volwasse vrou was in ’n kritieke toestand in die wrak van een van die voertuie vasgekeer. Die vrou is op die toneel behandel terwyl die brandweer haar uit die wrak bevry het en sy na die Sebokeng-hospitaal gehaas is vir verdere mediese behandeling.

Altesaam 12 mense, almal van die taxi en die motor, is in die botsing beseer en van hulle is na hospitale geneem. Die bestuurder van die vragmotor is ongedeerd.

Besonderhede omtrent die oorsaak van die botsing is nie in dié stadium duidelik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.