Pa, kleuter verdrink amper in Durban

‘n Pa en seun het Saterdag amper by ‘n Durbanse strand verdrink. (Foto: Netcare911)

Netcare911 het Saterdag gereageer op ʼn oproep oor ʼn verdrinking wat besig was om plaas te vind by Umdloti-strand, noord van Durban.

“Volgens inligting wat ons ontvang het, is ʼn 25-jarige man en sy 5-jarige seun deur ʼn fratsgolf die see in getrek,” het Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare911, in ʼn verklaring gesê.

“Lede van die publiek het gesien hoe die twee sukkel om kop bo water te hou en hulle te hulp gesnel. Lewensredders, die Durbanse metropolisie en lede van die Nasionale Seereddingsinstituut het ook op die toneel gereageer. Die pa en seun is op die toneel ondersoek en na die hospitaal geneem vir die behandeling van nie-noodlottige verdrinking-simptome.

In nog ʼn voorval Saterdag is ʼn vrou gered nadat sy amper in ʼn strandmeer by Durban verdrink het.

Volgens Herbst het die 24-jarige vrou in die moeilikheid geraak terwyl sy by ʼn onbeskermde strand in Umhlanga geswem het. ʼn Lid van die publiek het gesien die vrou sukkel om te swem en het haar te hulp gesnel. Hy het haar bereik net toe sy onder die water verdwyn en kon haar veilig na die strand bring,” sê Herbst.

Die vrou is ook op die toneel behandel en na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer vir simptome van ʼn nie-noodlottige verdrinking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.