Pa kritiek ná ‘dronk bestuurder’ gesinsmotor tref

Lambertus is ook die pa van Mikayla Robbertse (14) wat op 19 Desember 2011 in haar bed in Lephalale, Limpopo, deur ’n Mosambiekse spoegkobra gepik is (Foto: Verskaf)

“Ons hou vas aan die positiewe. Die kleinste verbetering wat hy toon, is ’n wonderwerk.”

Charmain en Bertus Robbertse is hoopvol dat hul seun sal leef nadat hy en sy gesin Saterdag digby Pretoria in ’n ernstige ongeluk betrokke was. Lambertus (35) se liggaam is byna vergruis en hy is tans in ’n koma in die Steve Biko- akademiese hospitaal in Pretoria.

Lambertus se vrou, Riekie (33), is sewe maande swanger en sy en hul ongebore baba het ongedeerd van die voorval afgekom. Hul 18 maande oue dogtertjie, Luzandra, het ook minder ernstige beserings in die ongeluk opgedoen.

Lambertus is ook die pa van Mikayla Robbertse (14) wat op 19 Desember 2011 in haar bed in Lephalale, Limpopo, deur ’n Mosambiekse spoegkobra gepik is. Maroela Media het vroeër berig haar middelvinger aan haar linkerhand moes geamputeer word weens die gif wat haar spierweefsel gevreet het. Sy was toe maar vyf jaar oud.

Die ongeluk het Saterdag omstreeks 07:00 op die R101 (ou Warmbad-pad) plaasgevind.

Charmain vertel die gesin was onderweg na Pretoria om inkopies te doen en Riekie sou vir ’n sonar gegaan het. Die gesin woon op ’n kleinhoewe buite Pretoria.

“Volgens ’n ooggetuie het ’n motor in die aankomende baan ’n ander motor verbygesteek en in Lampies-hulle se baan beland. Lampies het probeer uitswaai, maar dit was te laat,” vertel Charmain aan Maroela Media.

“Die man wat die ander motor bestuur het, was blykbaar dronk en ’n saak van dronkbestuur is teen hom aanhangig gemaak.”

Die ongeluk het Saterdag omstreeks 07:00 op die R101 (ou Warmbad-pad) plaasgevind (Foto: Verskaf)

Charmain sê die kant van die motor waar Lambertus en Luzandra gesit het, het tydens die ongeluk die grootste trefslag gekry.

Lambertus se bekken en heup is in die ongeluk vergruis en sy nek, rug, pelvis en femur is gebreek. Hy het ook bloeding op die brein opgedoen en sy brein is erg geswel.

“Hy het astronomiese inwendige bloeding gehad. Sy bekken wat vergruis is, het in die proses sy lewer en niere raakgesny.”

Lambertus was Saterdag ses uur lank in die teater waar dokters die bloeding in sy buik probeer keer het. Dokters het sy buik vir die eerste twee dae oopgelos sodat dokters die bloeding heeltemal kon stopsit en het dit eers Maandag toegewerk.

“Hulle wou eers die bloeding stopsit voordat hulle aandag aan die ander beserings gee. Hy is Maandagmiddag vir die eerste keer gestabiliseer. Ons gaan vanmiddag (Dinsdag) met die dokters vergader om die omvang van die skade en die pad vorentoe te bespreek.”

Lambertus se bekken en heup is in die ongeluk vergruis en sy nek, rug, pelvis en femur is gebreek. Hy het ook bloeding op die brein opgedoen en sy brein is erg geswel (Foto: Verskaf)

Charmain vertel sy en Bertus word daagliks vir 15 minute by Lambertus toegelaat.

“Ons glo hy toon al reaksie, want toe ons vir hom ’n stemboodskap van sy vrou speel, het daar trane oor sy wange gerol.

“Ons seun is ’n vegter en ons glo hy gaan deurdruk. Elke gebed is nou deurslaggewend. Ons is ook dankbaar dat hy in sulke goeie hande is. Die dokters en hospitaalpersoneel kwyt hulle goed van hul taak.”

Luzandra het in die ongeluk haar been gebreek en het snye en merke oor haar liggaam en kop opgedoen. Volgens die paramedici wat op die toneel was, het die babastoeltjie waarin sy gesit het, haar lewe gered.

Luzandra is reeds uit die hospitaal ontslaan en is tans tuis saam met Riekie, wat slegs met ’n paar skrape van die ongeluk af weggestap het.

Mikayla woon by Charmain en Bertus en het gereeld kontak met haar pa. Volgens Charmain is die nuus oor haar pa vir Mikayla baie erg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Sandra ·

Baie baie sterkte aan die familie. Die feit dat hy met soveel veelvuldige beserings oorleef het glo ek is ‘n goeie teken.

Kerneels ·

Mense vertel jou vinnig hoeveel werksverliese die Covid alkoholverbod veroorsaak het.

En dis waar.

Maar het iemand al die verlies in bloed en lewens bereken wat alkoholgebruik (misbruik) veroorsaak?

Ek wens Jan Publiek weet hoeveel stiller Ongevalle, asook die ortopediese and sjirurgie sale was tydens die alhoholverbod.

Almal ewe skuldig – van die vrou wat by die shebeen suip en deur haar boyfriend met ‘n mes gesteek word, tot die vername besigheidsman wat na ‘n genoeglike aandjie uit self huis toe bestuur “want hy kan sy drank vat”…

Tiptol ·

Ek erken ek geniet my drankie, maar hoekom al die afduime op hierdie kommentaar? Voel iemand skuldig oor iets?

Pieter ·

Mag die Here se hand met Lambertus en die mediese personeel wees. Ons bid vir die volkome herstel. ????

Samuel ·

Alkohol en motorbestuur is nie ‘n goeie kombinasie nie. Sterkte en seën vir Albertus en sy gesin.

Gert K ·

7 uur in die oggend verwag mens nie ‘n dronkbestuurder op die pad nie! Sterkte Lambertus. Ons sal ook vir jou bid.

Tiptol ·

Ek stem, maar daar moet geen tyd van die dag of nag dronk bestuurders op die pad wees nie.

Anel ·

Slegs dronkbestuur. Poging tot moord want die redelike mens moes kon voorsien het dat hy ‘n ongeluk kon maak terwyl hy dronk bestuur. So dit kan ook nie slegs strafbare manslag wees nie. Baie sterkte aan hierdie gesin en familie.

Magda G ·

So onnodig. Baie voorpoed. Jy is in ons gebede. Wat het die ander bestuurder gese en gedoen na die ongeluk. Het seker baie gou borgtog gekry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.