Pa ‘maak goeie vordering’ ná ongeluk

Lambertus is ook die pa van Mikayla Robbertse (14) wat op 19 Desember 2011 in haar bed in Lephalale, Limpopo, deur ’n Mosambiekse spoegkobra gepik is (Foto: Verskaf)

Lambertus Robbertse (35), ’n pa van Pretoria wat die afgelope naweek saam met sy gesin in ’n ernstige motorongeluk betrokke was, is nog nie buite gevaar nie, maar toon al goeie vordering. Hy is egter steeds in ʼn koma in die Steve Biko- akademiese hospitaal in die stad.

Maroela Media het vroeër berig Lambertus (Lampies) se liggaam is byna vergruis toe ʼn dronk bestuurder hul gesin se motor op die R101 (ou Warmbad-pad) getref het.

Volgens sy ouers, Charmain en Bertus, veg hy om sy lewe. Charmain vertel dokters het hom Dinsdag stadig van alle medikasie afgehaal wat sy hart ondersteun  omdat sy hart nou self die werk kan verrig. Die ventilator waarop hy geplaas is omdat sy longe in die ongeluk gekneus is, bied ook minimale ondersteuning en hy haal grotendeels self asem.

Lambertus was Saterdag ses uur lank in die teater waar dokters die bloeding in sy buik probeer stop het. Hy het astronomiese inwendige bloeding gehad omdat sy vergruisde bekken in die proses sy lewer en niere raak gesny het.

Lambertus se bekken en heup is in die ongeluk vergruis en sy nek, rug, pelvis en femur is gebreek. Hy het ook bloeding op die brein opgedoen en sy brein is erg geswel (Foto: Verskaf)

“Sy lewer lyk goed. Sy nierfunksie wek egter nog kommer en skei nie die gifstowwe uit sy liggaam soos dit veronderstel is om te doen nie. Die moontlikheid bestaan dat hy een nier kan verloor,” vertel Charmain.

Dokters is wel nog bekommerd oor die swelling op Lampies se brein. “Hulle monitor dit pal en probeer die swelling met medikasie onder beheer bring. Hulle sal heel waarskynlik Donderdag stents insit om die bloed te dreineer.”

Volgens Charmain sal die dokters eers die omvang van enige skade kan vasstel sodra hy uit die koma wakker word.

“Als klink sover positief en ons besef net weereens hoeveel krag daar in gebed is. Dis net ʼn kwessie van tyd voordat hy buite gevaar is en wakker word. God is groot.”

Lambertus se vrou, Riekie (33), is sewe maande swanger en sy en hul ongebore baba het ongedeerd van die voorval afgekom. Hul 18 maande oue dogtertjie, Luzandra, het haar been gebreek en het snye en merke oor haar liggaam en kop opgedoen.

Die ongeluk het Saterdag omstreeks 07:00 op die R101 (ou Warmbad-pad) plaasgevind (Foto: Verskaf)

Volgens Charmain gaan dit al beter met Riekie en Luzandra.

“Riekie sal Lampies Woensdagmiddag vir die eerste keer sedert die ongeluk kan sien. Sy is baie emosioneel, wat verstaanbaar is. Luzandra lag en gesels, maar op kere het sy baie seer. Die gips op haar beentjie irriteer die wit waks uit haar uit.”

Lambertus is ook die pa van Mikayla Robbertse (14) wat op 19 Desember 2011 in haar bed in Lephalale, Limpopo, deur ’n Mosambiekse spoegkobra gepik is. Maroela Media het vroeër berig haar middelvinger aan haar linkerhand moes geamputeer word weens die gif wat haar spierweefsel gevreet het. Sy was toe maar vyf jaar oud.

Mikayla woon by Charmain en Bertus. Volgens Charmain ry haar emosies wipplank.

“Sy geniet elke oomblik saam met haar kleinsussie, maar raak op kere baie hartseer omdat Luzandra so seer het. Sy weet haar pappa het baie seergekry en besef sy kan hom nie nou sien nie. Dit maak haar baie hartseer. Sy het egter geen idee van die erns van sy beserings nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Di ·

Mag die Vader julle gesin die krag gee om hierdeur te kom. Hoop, bid en vertrou dat hy volkome sal herstel. Wonder wat met die dronk bestuurder gebeur het?

JM ·

Here, raak asseblief hierdie man aan en maak hom gesond. Ek bid ook vir sy gesin om hierdeur te kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.