Pa met AK47 geskiet: ‘Wonderwerk dat hy leef’

James Reed. Foto: Verskaf

James Reed (43), die oudpolisieman en nou ʼn veiligheidswag wat Donderdagoggend glo minstens drie keer, vermoedelik met ʼn AK47-aanvalsgeweer, geskiet is, se toestand is ernstig maar stabiel.

Reed, ʼn inwoner van Polokwane in Limpopo en pa van twee kinders, word in die waakeenheid in die MediClinic Tzaneen behandel ná ʼn mislukte transitorooftog vroeër die dag buite Tzaneen.

“Hy is gister vir die eerste keer geopereer, maar die dokters kon nie alles doen wat hulle wou nie, aangesien hy te swak was en te veel bloed verloor het. Ons sal vanmiddag hoor of hy sterk genoeg is om vandag verder geopereer te word,” het Reed se ma, Annette, Vrydag aan Maroela Media gesê.

Annette het gesê daar is aanvanklik vermoed dat haar seun vier keer geskiet is en dat twee koeëls steeds in sy bors vassit, maar die gesin het later, nadat hulle met Reed se dokter gepraat het, verneem dit blyk dat hy drie keer geskiet is.

“Die aanvalsgeweer het hom vol gate geskiet en die koeëls is reg deur sy lyf. Die dokter het gesê as hy met ʼn pistool geskiet was, sou die koeëls heel waarskynlik in sy lyf vasgesit het. Dit is ʼn wonderwerk dat hy lewe.”

Volgens Annette het Reed die ergste beserings aan sy maag en ingewande opgedoen. Sy ingewande moes met mediese krammetjies gebind word om inwendige bloeding te keer.

“Dank die Here sy longe en niere het geen skade nie. Die koeëls het dit skrams gemis. ʼn Koeël het ook die hoofslagaar in sy linkerbeen met ʼn millimeter gemis. Hy word tans onder verdowing gehou en is aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel. Dit is nie lekker om my kind so te sien lê nie, ons bid net dat die Here hom hierdeur sal dra.”

Maroela Media het Donderdag berig die skietvoorval het omstreeks 09:30 op die pad tussen Modjadjiskloof en Tzaneen, naby Hoërskool Merensky, plaasgevind.

“ʼn Groep gewapende verdagtes het die geldwa aangeval en verskeie skote is gevuur. ʼn Veiligheidsbeampte [Reed] is geskiet en gewond. Geen geld is gebuit voordat die verdagtes van die toneel gevlug het nie,” het lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, aan Maroela Media gesê.

Na wat verneem word, het Reed ʼn geldwa in sy persoonlike motor begelei toe die groep aanvallers glo in twee of vier voertuie toegeslaan het. Hy is in sy voertuig vir die eerste keer in die rug geskiet waarna die voertuig tot stilstand gekom het. Die verdagtes het hom glo twee keer in die bors geskiet voordat hulle hom in een van hul motors in gedwing het.

Die aanvallers het met hul motors en Reed se motor agter die geldwa aangejaag, wat toe glo sowat 1 km verder was. Reed se motor het egter naby die hoërskool onklaar geraak en die bestuurder het beheer oor dit verloor.

Hulle het Reed in ʼn stadium uit hul motor in die veld gegooi en glo weer op hom geskiet. Die aanvallers is na bewering afgeskrik toe wagte vanuit die geldwa op hulle geskiet het, waarna die verdagtes met leë hande gevlug het.

Reed het intussen na die pad gekruip waar ʼn bejaarde vrou in haar motor tot sy redding gekom en hulp ontbied het. Hy is vandaar na die hospitaal gehaas.

Ngoepe het gesê ʼn volskaalse soektog na die verdagtes is van stapel gestuur. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

James Reed se private voertuig. Foto: ER24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

A ·

Hoe het hulle geweet hy ry met sy privaat motor. Dit laat ‘n mens wonder

Jerry ·

Een van James se kollegas het hom verraai deur die rowers in te lig. “inside job”

willie ·

Stem inside job soos met die meeste plaasmoorde! Hoop jy herstel volkome vriend!

Cherokee ·

Meer waarskynlik was dit binne-inligting (met erkenning aan Han).

PJC ·

Ek hoop hierdie ou oorleef en word gou gesond. Die dame wat hom gehelp het moet hiervoor vereer word want as sy nie gehelp het nie was hy heel waarskynlik al dood.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.