Pa met arres gedreig wat polisie vra om seun se dood van nader te bekyk

(Argieffoto)

Die pa van ʼn jong man wat in Januarie vanjaar dood aangetref is in die toilet van ʼn Pretoriase winkelsentrum, is glo sélf deur die polisie met inhegtenisneming gedreig nadat hy bykomende inligting oor die saak onder die polisie-ondersoekbeampte se aandag probeer bring het.

Die jong man is in onnatuurlike omstandighede dood.

Die gesin, wat gevra het dat hul identiteit weerhou word, het ná die 24-jarige man se dood besef ʼn lewensversekeringspolis wat hy die vorige jaar uitgeneem het, is aan ʼn sogenaamde kennis van hom bemaak en dat sy gesin geensins begunstigdes is nie.

Hoewel die begunstigde se naam aanvanklik nié op die vorm ingevul is nie, is die persoon se naam oënskynlik later in blou ink bygeskryf, hoewel die res van die dokument in swart ink ingevul is. Die familie voer aan hulle ken die begunstigde van geen kant nie en dat hy die oorledene kort tevore by ʼn kursus ontmoet het.

Hulle voer aan die oorledene het die begunstigde se naam onder druk ingevul omdat hy die vorm vir sy werkgewer moes teruggee.

Natasha Venter, ʼn raadgewer van AfriForum se private vervolgingseenheid, het gesê die organisasie het die gesin aangeraai om ʼn strafregtelike klag in te dien omdat dit blyk dat iemand met die oorspronklike dokument gepeuter het.

Venter sê die familie is egter aanvanklik glad nie toegelaat om die klag by die Brooklyn-polisiestasie aanhangig te maak nie, omdat die polisielid wat hulle gehelp het gesê het die ondersoekbeampte wat die sterfte oorspronklik ondersoek het, is nie beskikbaar nie. Sy sê hoewel die polisielid wel later ingestem het dat ʼn saak aanhangig gemaak kan word, is die oorledene se pa by sy terugkeer by die stasie summier met inhegtenisneming gedreig indien hy die klagte nie dadelik sou terugtrek nie.

Die polisiebeampte het glo beweer die oorledene se pa dien ʼn vals klag in en dat dit gronde vir inhegtenisneming is.

“Die polisie het ons soos misdadigers laat voel en al waarvoor ons gevra het, was dat die saak ondersoek word,” het die oorledene se suster gesê.

Sy sê ook die polisiebeampte het haar pa spesifiek geteiken, moontlik omdat hy ouer en meer weerloos is.

Sy sê hoewel hulle, ten spyte van die polisielid se aandrang dat die saak teruggetrek word, die stasie verlaat het sonder dat die saak teruggetrek is, het hulle later uitgevind die saak is ieder geval sonder enige verdere ondersoek “afgesluit” nadat hulle daar weg is.

Venter sê AfriForum het vasgestel die klag is op Maandag 19 Oktober om 13:16 in die polisie se misdaadadministrasiestelsel aan die speurtak toegeken. Om 13:24 is ontvangs erken en om 13:24 is die saak as “vals” gemerk en geliasseer.

Sy sê hierdie soort optrede deur polisielede is een van die redes waarom mense so min vertroue in die land se strafregstelsel het.

“Die polisie is veronderstel om die eerste toevlug vir misdaadslagoffers te wees. Die teendeel is egter waar: Mense word in baie gevalle bloot by polisiestasies weggewys of – veel erger – soos kriminele behandel. Dit is kommerwekkend dat die private vervolgingseenheid toenemend by sake soos hierdie betrokke moet raak om die polisie te dwing om hul werk te doen,” het sy gesê.

AfriForum het intussen ʼn sogenaamde diensklag namens die familie teen die polisie aanhangig gemaak. Venter het gesê ʼn senior offisier van die stasie en die familie vergader Maandag daaroor.

Die familie stry intussen ʼn opdraande stryd met onder meer die lewensversekeraar en die oorledene se werkgewer om die uitbetaling van die polis af te handel. Die betaling is gevries hangende hul besware daaroor.

Die oorledene se suster sê hy het uitstaande skuld gehad wat nog vereffen moet word, terwyl haar pa boonop finansieel op hom staatgemaak het. Hulle vra dat die besluit om die polis aan die benoemde begunstigde uitbetaal word, omgekeer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Persheks Adri

En nou weet almal hoekom ons nie polisie stasie toe gaan nie en niks van die uniforms hou nie!dis ‘n skreiende skande dat hulle ons soos kriminele laat voel en mense dreig! Kom Cele wat sê jy van JOU werkers? Pateties verby en so teleurgesteld in die klomp!

Adri

“Krimineel” is ‘n byvoeglike naamwoord of ‘n bywoord, nie ‘n selfstandige naamwoord nie. “Kriminele” is “misdadigers”.

Oom Hennie Pennie

Sulke optrede gaan maak dat mense reg in eie hande neem!

Hennie J

Nog n voorval waar Cele poppe ons mense soos drek behandel. Dankie Afriforum.

4ntj13

Die polisieoptrede is skandalig, maar iets lyk hier nie heeltemal reg nie. ʼn Werkgewer wat ʼn werknemer dwing om oorhaastig ʼn polis in te dien? Ek hoop FSB ondersoek dit en die werkgewer ook.