Pa ontken betrokkenheid by moord op narkotiseur

Mediese werkers betoog na die moord op dr. Abdulhay Munshi. (Foto: Twitter)

Mohammed Sayed, pa van die tienjarige Zayyaan Sayed wat verlede jaar ná ʼn mediese prosedure gesterf het, ontken enige betrokkenheid by die moord op die narkotiseur wat hy vir sy seun se dood verantwoordelik gehou het.

Dr. Abdulhay Munshi is voor sy dood saam met prof. Peter Beale, ʼn pediatriese chirurg, aangekla in verband met Zayyaan se dood verlede jaar. Die seun het op 11 Oktober ʼn laparoskopie by die Netcare Park Lane-kliniek ondergaan nadat hy lank met refluks gesukkel het. Beale het die operasie uitgevoer, terwyl Munshi die narkotiseur was. Zayyaan het later dieselfde aand gesterf. Die dokters is ná die kind se dood van strafbare manslag aangekla.

Munshi is Woensdag koelbloedig doodgeskiet in ʼn moord wat groot woede onder die land se mediese gemeenskap ontlok het. Sy motor is glo Woensdag in Johannesburg van agter deur ʼn ander motor getref. Hy het uitgeklim om ondersoek in te stel na die skade aan sy motor waarna hy na bewering verskeie kere in die agterkop geskiet is.

Sayed het Vrydag in ʼn verklaring gesê dit is welbekend dat hy die wettige roete gevolg het om die waarheid oor die “verwoestende verlies” van sy seun te probeer vasstel. Sy regspan is in gereelde gesprekke met die owerhede in sy “poging om te verseker dat geregtigheid nie net geskied nie, maar dat dit ook op ʼn wettige en deursigtige” manier gedoen word.

Zayyaan Sayed.

Sayed sê die ondersoek is in die hande van die polisie en die nasionale vervolgingsgesag (NVG).

Hy het wel probeer om die betrokke dokters aanspreeklik te hou – strafregtelik en by die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB). “Dit is om te verseker dat geen ander ouer die pyn en lyding wat hy en ander ouers tevore ondervind het, ervaar nie.”

Luidens die verklaring sê Sayed die “afleidings wat in die media gemaak word, is onverantwoordelik, roekeloos, spekulatief en sensasioneel”. Hy sê voorts hy hoop diegene verantwoordelik vir Munshi se dood word spoedig aangekeer.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het intussen ook sy medelye met Munshi se familie en vriende betuig.

“Op ʼn tydstip waar die soeklig op die veiligheid en geestelike welstand van ons gesondheidsorgwerkers val, is dit ondenkbaar dat enigeen sou oorweeg om die lewe van ʼn gesondheidswerker – mense wat op die voorste linie van die stryd teen Covid-19 is – te neem,” het Mkhize gesê.

“Ons wil ons diepe medelye met die familie van dr. Munshi, sy kollegas, vriende en die mediese gemeenskap betuig.”

Mkhize het ook ʼn beroep op wetstoepassingsowerhede gedoen om alles moontlik te doen om te verseker die skuldiges ry aan die pen.

Medici het Donderdagmiddag reeds na Munshi se huis in Johannesburg opgeruk en geëis dat geregtigheid geskied en gesondheidsorgwerkers beskerm word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
stargazer

Ongelowige hartseer van almal betrokke. So Kan dit nie aangaan nie. Ons mense het geen morele waardes meer nie. Wetteloosheid orals.

Danie

Maar natuurlik sal hy dit ontken.
Hy is mos nie stupid nie.