Pa ontslaan ná visvanguitstappie byna sy lewe eis

Frederick Nel (Foto: Verskaf)

ʼn Pa van Pretoria wat in ʼn koma was nadat hy tydens ’n visvang-uitstappie gegly en sy been teen ’n klip gestamp het, is Donderdag uit die hospitaal ontslaan. Dit nadat hy byna ʼn maand lank om sy lewe in die hospitaal geveg het.

Maroela Media het vroeër berig Frederick Nel (39) het op 14 Maart saam met sy seun en sy susterskind by Hartbeespoortdam gaan visvang. Toe hy in die water ingaan om hiasinte wat aan hul vislyn verstrengel geraak het, los te maak, het hy gegly en sy been teen ’n klip oopgesny. Dit was nie ’n baie groot sny nie en hy het hom nie veel daaraan gesteur nie.

Die wond het egter ʼn paar dae daarna kwaai geswel en Nel het begin siek voel en later gesukkel om asem te haal. Hy is op 22 Maart in die Zuid-Afrikaans-hospitaal in Pretoria opgeneem waar sy toestand verder versleg het.

Die dokters het in ʼn stadium oorweeg om sy been weens die erge swelling en hoë infeksietelling te amputeer.

Nel is op 24 Maart in ’n geïnduseerde koma geplaas en aan ʼn ventilator gekoppel. Hy is egter oor die Paasnaweek stadig uit die koma gebring en op 6 April van die ventilator afgehaal omdat hy self kon asemhaal.

Volgens die dokters het bakterieë sy bloedstroom binnegedring en veroorsaak dat sy liggaam in septiese skok gegaan het. Die dokters het sedertdien toetse gedoen om te bepaal watter bakterieë betrokke is sodat die korrekte antibiotika toegedien kan word. Nel se suster, Melanie Landsberg, sê die laboratorium kon egter geen resultate oplewer nie.

Sy sê die dokters het drie soorte antibiotika toegedien, waarvan een toe gewerk het.

Landsberg het Nel gister (Donderdag) by die hospitaal gaan haal en huis toe geneem. Nel sê hy is bly om terug te wees by die huis en in sy eie bed te kan slaap.

“Ek is dankbaar dat ek deurgedruk het. Die dokters het in ʼn stadium gesê dat ek slegs ’n 20% kans op oorlewing het,” vertel Nel. “Dit is skrikwekkend om te dink dat ietsie so klein soos ʼn snytjie jou hele lewe kan verander.”

Nel sê hy kan onthou dat hy die dag in die hospitaal opgeneem is, maar als van daar af is ʼn blank.

Hy sê sy spiere het ook baie verswak terwyl hy in die koma was. ’n Fisioterapeut het vir hom oefeninge gegee om tuis te doen om te help om sy spiere te versterk. Hy loop tans met ʼn loopraam.

“Ek voel darem al heelwat beter en sterker.”

Nel vertel hy moet omtrent ʼn handvol pille daagliks sluk, waaronder twee verskillende soorte antibiotika en pille vir sy suikervlak.

Die dokters gaan ook volgende Woensdag die dreineringspyp wat steeds in sy been is verwyder.

’n Back-a-Buddy-geldinsamelingsveldtog is deur een van Nel se vriende en Landsberg van stapel gestuur om Nel se hospitaalkostes te help dra. Die kostes beloop al meer as R300 000 en Nel het nie ‘n mediese fonds nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swanie

Baie goeie nuus , sterkte vorentoe

Herpiet

R300000 later, geen operasie en gelukking werk die derde aarvoeding. Kan dit so baie kos?

Sarel

Besoedelde water