Pa ontwaak ná AK47-aanval

James Reed. Foto: Verskaf

James Reed (43), die oudpolisieman wat nou ʼn veiligheidswag is en wat Donderdagoggend minstens drie keer, vermoedelik met ʼn AK47-aanvalsgeweer, geskiet is, het ontwaak nadat hy sedert die voorval onder verdowing gehou is.

Reed, ʼn inwoner van Polokwane in Limpopo en pa van twee kinders, word in die waakeenheid in die MediClinic Tzaneen behandel ná ʼn mislukte transitorooftog buite Tzaneen. Hy moes Donderdag en Vrydag noodoperasies ondergaan. Hy is van Maandag af geleidelik uit verdowing bygebring.

“Hierdie moederhart juig vandag. Van gisteraand tot vanoggend is daar 80% verbetering in James se toestand en sy pyn is onder beheer,” het Reed se ma, Annette, Woensdag aan Maroela Media gesê.

“Hy het vandag ʼn bietjie in ʼn stoel gesit en as dinge goed gaan behoort hy teen die naweek na ʼn algemene saal geskuif te word. Hy praat duidelik, maar herhaal die gebeure oor en oor en oor. Daar gaan nog ʼn lang pad na volkome herstel vir hom voorlê.”

Reed het Donderdag voordat hy vir sy eerste operasie gegaan het aan sy geliefdes genoem ʼn bejaarde vrou het stilgehou om hom te help nadat die aanvallers hom uit hul motor by ʼn wal af gegooi en vir die dood agtergelaat het. Hy het gesê hy kon daarin slaag om na die pad te kruip, waar dié vrou stilgehou het om hom by te staan nadat talle voertuie net verbygery het. Reed se gesin het sedertdien ʼn poging aangewend om die vrou op te spoor om haar te bedank, maar kon nog nie met haar kontak maak nie.

“ʼn Veiligheidswag wat op die toneel was, het egter vir ons gesê hulle het glad nie so ʼn vrou opgemerk nie, maar James hou vol sy was daar. James het vir my gesê: ‘Ma, daar was ʼn ou tannie, haar gesig was vol plooie’. Sy het ook vir hom gesê: ‘Seuntjie, ek is oud, jy moet bly lewe’,” het Anette bygevoeg.

“Ons weet nou nog nie wie die vrou is en of daar wel só iemand was nie. Was daar dalk ʼn engel by hom?”

Annette het voorheen genoem dit is net ʼn wonderwerk dat haar seun die aanval oorleef het.

“Die aanvalsgeweer het hom vol gate geskiet en die koeëls is reg deur sy lyf. Hy het die ergste beserings aan sy maag en ingewande opgedoen. Sy ingewande moes met mediese krammetjies geheg word om inwendige bloeding te keer. Dank die Here sy longe en niere het geen skade nie. Die koeëls het dit skrams gemis. ʼn Koeël het ook die hoofslagaar in sy linkerbeen met ʼn millimeter gemis. Alle eer kom God toe.”

Maroela Media het vroeër berig Donderdag se skietvoorval het omstreeks 09:30 op die pad tussen Modjadjiskloof en Tzaneen, naby Hoërskool Merensky, plaasgevind.

“ʼn Groep gewapende verdagtes het ʼn geldwa aangeval en verskeie skote is gevuur. ʼn Veiligheidsbeampte [Reed] is geskiet en gewond. Geen geld is gebuit voordat die verdagtes van die toneel gevlug het nie,” het lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, aan Maroela Media gesê.

Reed, wat die geldwa in sy private voertuig vergesel het, is minstens drie keer tydens die voorval geskiet.

ʼn Volskaalse soektog na die verdagtes is van stapel gestuur. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

James Reed se private voertuig. Foto: ER24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Charmaine ·

GOED DOEN NOGSTEEDS WONDERWERKE AMEN DANKIE JESUS ??????????

Al ·

Dankie Here dat hy leef. Dalk was dit ñ engel by hom. Sterkte aan hom en sy gesin. Mag hy deur die hulp van die Here sy trauma verwerk en sterker daardeur kom.

TDW ·

Ek is baie dankbaar dat hierdie man elke dag sterker word. Ek glo ook engele was betrokke, hy móés lewe.

linda ·

wonderlike nuus, baie bly vir die gesin, wens hom vinnige genesing en beterskap toe, sterkte vir die hele familie

Genieve ·

Prys die Here al die lof kom hom toe want hy is n werklikheid.

Johann ·

Ek hoop net die Engel gaan ook daar wees wanneer die res van ons ook vol gate geskiet gaan word ?

Riana Hellerle ·

Miskien moet ons God begin vra om Sy engele opdrag te gee om ons te beskerm. Psalm 91
11 want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.

PJC ·

Baie goeie nuus vir hierdie ou se familie. Ek hoop hy herstel gou en volkome sdat hy hierdie rowers ń ander dag kan terugbetaal vir wat hulle aan hom gedoen het.

Marinda ·

Where there’s hope, there’s life. So very glad for him and his family.

Theresa ·

Blydskap!! Dink egter die maatskappy vir wie hy werk, moet ‘n amptelike motor vir hierdie werk beskikbaar stel. Waarom moes hy met sy privaatvoertuig die geldwa vergesel?

PETRONELLA ·

Baie sterkte aan James en familie, ons bid nog aan een, en weet jy gaan volkome herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.