Pa oor seun se skietdood: ‘Dit sal vir ewig by my spook’

Sibusiso Tshabalala in die hof (7 Junie 2018). Foto: ANA

Die pa wat vandeesweek per ongeluk sy seun buite ʼn Johannesburgse skool doodgeskiet het, het Donderdag in die hof gesê die voorval sal vir die res van sy lewe by hom spook.

Sibusiso Tshabalala (51) het in die Lenasia-landdroshof verskyn waarna hy op waarskuwing vrygelaat is.

Landdros Maggie Van Der Merwe het gesê die feite van die saak is gemene saak tussen die staat en die verdediging en daarom is die beskuldigde geskik om op borgtog vrygelaat te word. “Ek kan hierdie voorval net as tragies beskryf en te oordeel na die beskuldigde se vertoon van emosies, is dit ʼn voorval wat die res van sy lewe sal affekteer. Die beskuldigde het homself aan die polisie oorgegee en gee sy volle samewerking aan die polisie,” het Van der Merwe gesê.

Sy het gesê die direkteur van openbare vervolgings moet besluit of die saak moet voortgaan of nie.

Maroela Media het vroeër berig Tshabalala het Dinsdagaand buite die Fred Norman Secondary School in Ennerdale vir sy seun gewag toe hy aan die slaap geraak het. Die seun het teruggekom en aan die passasiersvenster geklop, waarna Tshabalala geskrik, sy vuurwapen uitgeruk en verskeie skote in die rigting van die venster afgevuur het.

Sy 14-jarige seun het op pad na die hospitaal gesterf.

Tshabalala se vrou het langs hom in die hof gestaan en hy het in trane uitgebars voor die verrigtinge begin het. Hy staan tereg op aanklag van moord. Van der Merwe het gesê die staat meen egter dit was nie moord met voorbedagte rade nie en die saak word daarom as ʼn skedule 5-aanklag aangehoor.

Tshabalala se regte is aan hom verduidelik en hy is gevra of hy verstaan. “Dit was ʼn eerste en pynlike fout,” het hy geantwoord.

Luyanda Tshabalala. Foto: Facebook via Fred Norman Secondary School.

Chwewe Machaka, vir die verdediging, het Tshabalala se verklaring aan die hof voorgelees waarin hy dit stel dat hy die afgelope vyf jaar as ʼn veiligheidswag vir die SAPD in Krugersdorp werk, R10 000 per maand verdien en nog drie afhanklikes het wat steeds op skool is. Hy het gesê sy vrou is werkloos en is ook finansieel van hom afhanklik.

Tshabalala het in sy verklaring verduidelik hy het in sy motor geslaap toe hy wakker geword het van ʼn harde geluid en ʼn gepeuter aan die motor. Hy het gedink hy word gekaap en het sy vuurwapen uitgetrek en geskiet. Hy het sy seun hoor skree: “Pappa, dis ek!”

Hy het gesê dit was donker buite en hy kon nie sien dit is sy seun langs die voertuig nie.

“Ek wil graag op borgtog vrygelaat word sodat ek my seun met waardigheid kan begrawe. Hierdie voorval sal vir die res van my lewe by my spook,” lui die verklaring.

Staatsaanklaer Tumi Maunye het gesê volgens die ondersoekbeampte het Tshabalala geen vorige veroordelings nie en is daar geen rede om te glo dat hy nie hofverrigtinge sal bywoon nie.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het ook die hofverrigtinge bygewoon. Sy woordvoerder het ná die verrigtinge gesê die departement verskaf ondersteuning aan die Tshabalala-gesin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Leser ·

Die arme man. Hy sal homself waarskynlik nooit kan vergewe vir dit wat gebeur het nie. Wie sou kon? Hy besef hy het die grootste fout ooit gemaak. Ek is seker hy sou sy lewe ruil in die plek van sy seun as hy kon. Dit is bitter tragies.

Carien ·

Wens mens kon hom en sy vrou ‘n drukkie gee. Hopelik het hul ‘n ondersteuningsnetwerk wat hul kan bystaan.

T Maree ·

ons innige simpatie vir hierdie ouers. Die voorval wys net weereens hoe effek het al die kapery, rowery, plundery, moord ens in ons landsburgers. Ons is almal gedurig op ons senuwees want enige iets kan enige tyd met jou gebeur.

Johan wessels ·

Dit is so n tragedie. Ek kan myself indink hoe die vader voel om sy eie prag kind te skiet in so n ongeluk. Ek vertrou dat die gereg versagtende omstanigheide in ag neem. Die seun is werlik n pragtige jong seun, sy lewe is kort geknip agv ons omgewing van diefstal en mense wat nie ander se lewe respekteer nie, ons normale mens op straat moet geduurig op jou hoede wees. Ek vertrou ons nuwe polisie. Hoof sal werk aan ons land se mense veiligjeid daarvan vir n beter SA. Ek sien en merk op dat daar wel positieve beweging is in ons polisie is. Dit gee ons normale mense op staat baie moet vir die toekoms.

leahim ·

My innige simpatie, die land het n misdaad nes geword waar almal elke dag vrees vir hulle lewe

Hartseer ·

Hoe ontsettend hartseer!
Dat mense so in vrees en angs moet leef.
Dit raak almal in hierdie land!
Sterkte aan die pa. Mag hy vertroosting vind en mag hy homself eendag vergewe vir hierdie tragiese ongeluk.

Shame ·

Hierdie pa se tragedie waarin hy hom bevind, is die direkte gevolg van die geweldadige samelewing waarin ons ons bevind. Dit is eintlik vreemd dat daar nie meer sulke ongelukke is, aangesien ons almal so op ons hoede moet leef. Ons lewens is elke oomblik van die dag in gevaar.

willie ·

My hart gaan uit vir hierdie pa en sy familie! Indirek is hierdie kind en pa die slagoffers van misdaad wat hoogty vier in die land!

Lollie ·

Ek sal nooit hierdie oa blameer nie. Hy moet vir die res van sy lewe daarmee saam lewe. Dit is hierdie siek samelewing van ons. Blameer die ANC hiervoor want vandat hulle in beheer is is daar geen wet en orde nie en ons gewone landsburgers boet elke dag met ons lewens daaroor!

TDW ·

Sibusiso, ek is jammer dat jy jou geliefde seun verloor het en dat dit op so ‘n tragiese manier was. Ons gebede is by jou en jou gesin om deur hierdie moeilike tyd te kom. Dit was ‘n ongeluk. Mag jy berusting vind. My hart gaan uit na jou vrou en kinders, maar my hart en gebede is veral met jou. Mag God se helende hand jou dra deur hierdie swaar tyd, jy kan nie jouself blameer nie, dit was net ‘n tragiese ongeluk. Ons bid vir julle!

Zelda ·

Dis seker die ergste ding wat enige ouer kan oorkom. Ek huil vir die pappa wat dit sal moet verwerk. Mag die Here hom én sy gesin baie naby wees.

Wilma ·

So jammer vi die pa. Die blaam hier moet voor die govt se deur gele word. As gevolg van hul slapgatgeit om misdaad te beheer dat mense met vuurwapens rondbeweeg. Ons bid vi die seun se gesin. Sterkte

Debbie ·

Liewe meneer Tshabalala. Ek glo en vertrou dat God vir jou, jou vrou en Luyanda se sibbe sal vertroos en vrede bring. Mag sy kort lewe vir julle altyd dien as inspirasie en mag julle hierdie pragtige seun se lewe vier. My gebede is met julle.

Asjas ·

Dit is vreeslik tragies. Ek kan my net die pappa se seer voorstel. Mag die Here sy hand vashou en lei deur hierdie hartseer.

Liesl ·

Dis so hartseer die man werk as sekuriteit beampte verseker was hy gedaan en so aan die slaap geraak, hy enigste broodwinner met 3 kinders op skool, pragtig seun moes die prys betaal van ‘n land wat uitmekaar uit val met geweld en hoe lewenskostes en masiewe werkloosheid, crying for my beloved country

Anoniem ·

Sibusiso en Gesin, innige simpatie ! Ons BID dat JESUS Julle sal vertroos en bystaan in die moeilike tyd ! Ons vertrou dat Jy VRYGESPREEK word en dat Jy vir Jou GESIN sal kan aanhou sorg ! Dankie JESUS vir hierdie GESIN se ondersteunings netwerk en die gesindheid van mense wat OMGEE !!

Rudi ·

Dit is ‘n baie tragiese ongeluk, ek kan nie myself indink waardeur die gesin moet gaan nie, ek bid dat ons Vader die gesin sal bystaan en dra deur die moeilike tyd.

@ Christa Ek sou dalk saam jou gestem het as die pa vir sy seun buite ‘n dwelm huis gewag het en hom dan geskiet het, maar hy het ekstra klasse in die aand geloop om sy lewe te verbeter, en as sy pa iemand was wat nie oor sy seun se veilligheid bekommerd was nie sou hy nie by die skool gewag het nie. Nie almal in die land is sleg nie dis net erg dat slegte goed met goeie mense gebeur.

Driekie ·

Dit is n verskriklike frats ongelyk. My Innige simpatie aan die ouers en familie. … Dit lyk of dit n pragtige voorbeeldige seun was.

Hannah ·

Mnr. Tshabalala, Woorde kan nie beskryf watter ontsettende hartseer ek voel vir jou en jou gesin nie. Is dit nie vreeslik dat ons almal bloodgestel word om die ergste te verwag en daarvolgens op te tree nie. Ongeag wie ons is, ons het almal een doelwit voor oë, en dit is om vir ons geliefdes die beste te kan doen en geë binne ons vermoeëns. Mag julle vrede vind in die moeilike tye wat voorlê. Shalom

Attie ·

Sterkte aan die man en sy familie. Dit was ‘n pragtige seun en hy sal jou nie verkwalik nie, as ‘n geregsdienaar vrees ek élke dag my familie en vriende se lewens in die land. Vrees is ‘n ding wat mens nie net kan afskud en aangaan nie. As ‘n sekuriteitswag is vrees deel van sy lewe.

Mich ·

Kan daar nie ‘n fonds gestig word om die familie finansieël by te staan nie?
Uit die kommentare is dit duidelik dat die tragedie baie Maroela Media-
harte aangeraak het.

HESTER NEL ·

Dit is so tragies mag die gesin berusting kry, ek kan dink die Pa se is in duisende stukkies. Hoop die regstelsel sal insien dat dit net ‘n baie groot ongeluk was en nie die bedoeling was dat hy sy Seun wou dood skiet nie.

madels ·

Ek huil saam met hierdie familie, hoe ongelooflik, ongelooflik hartseer…

Ben ·

Uiters tragies, my hart gaan uit na die mense.

Meneer, vergewe asb jouself vir hierdie ongeluk sodat jy nogsteeds die beste kan gee vir die mense wat afhanklik is van jou af.

Abe ·

Die pa het die sneller getrek sonder om die teiken te identifiseer: n baie ernstige oortreding en hy is skuldig. MAAR ek weet nie of daar n manier is wat hom in die geval vervolging kan laat vryspring nie. My eie gevoel is dat omstandighede is in die geval so buitengewoon en die emosionele begrip vir die man en sy gesin se predikament so groot dat ek graag sou wou sien dat hy nie vervolg word nie. n Mens wonder of enige aardse hof n erger straf vir hom kan gee as wat hy reeds verduur.

Al ·

My hart gaan uit vir hierdie gesin. Laat hierdie tragedie die regering bewus maak hoe ons mense op grondvlak vrees vir ons en ons geliefdes se lewens, aangesien die kriminele die oorhand het en meer regte het as ons gewone burgers.

Cherokee ·

Dit is ‘n skokkende voorval en ek is net soos julle jammer vir die ouers, oor wat gebeur het. Feite is egter ook feite en hy behoort nie weer ‘n vuurwapen toegelaat word nie. Bevoegdheid is nie om met ‘n vuurwapen in die hand te slaap en dan wakker te word en te skiet wat en wie voor hom is nie. Wat ookal met die saak gebeur, sal dit waarskynlik toegepas word. Hopelik sal die direkteur van vervolging met dieselfde simpatieke insig as die landros daarna kyk.

anton ·

My vraag is net….. se die nuwe wette nie, jy mag slegs skiet as jou lewe in gevaar is nie???
Was sy lewe in gevaar?
Al wil diewe jou eiendom vat, mag jy mos nie skiet om dit te verhoed nie. Of verstaan ek iets iewers verkeerd?

Boodskappe vir die ouers ·

Hi almal, Die skool is op fb vir die van julle wat ook is. Stuur maar ‘n boodskappie vir die arme ouers ek is seker hul sal dit waardeer. Ek is NIE op fb maar het die skool se epos gekry en so ‘n boodskap gestuur. Laat die slimjannies hier nou maar asb hul monde hou.

kas ·

Dit is ongelloflik hartseer wat met die pa gebeur het.Kyk egter na die anderkant.As hy nie blindelings geskiet het nie het sy seun nog gelewe.As dit ‘n kaper was en hy het dan geskiet het hy en sy seun nog gelewe.Maar as is vergrande hout.Sterkte aan die gesin.

Daan ·

Kry die pa vreeslik jammer, dit is baie erg … Ek sal my oe uit my kop uit huil. My innige simpatie. … Die is alles die regering en polisie se skuld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.