Pa ‘probeer normale lewe lei’ ná aanranding, weke in koma

Pienaar was vir ‘n maand lank in die hospitaal.

Net meer as nege maande nadat Louis Pienaar (39) in ʼn koma in geslaan is, glo deur ʼn o.20-Blou Bul-rugbyspeler, probeer hy steeds die stukke van sy lewe optel en dit wat gebeur het, verwerk.

“As ek met iemand praat oor wat gebeur het, raak ek so ongelooflik kwaad en kan dit nie beheer nie. Ek wens dit het nooit gebeur nie. As dit wat gebeur het hom regtig gepla het, sou hy al lankal jammer gesê het. Ek sou dit kon aanvaar. Ons almal doen simpel goed, maar jy moet om verskoning kan vra daarna.”

Dylan van der Walt (20), ʼn voormalige Blou Bul-rugbyspeler, het tereggestaan op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer ná die voorval wat buite ʼn nagklub in die ooste van Pretoria gebeur het. Die aanklag teen hom is egter einde Junie voorlopig laat vaar. Hy het hom in Januarie ná die voorval aan die polisie oorgegee.

“Afgesien van die brief het ek nog niks van hom gehoor nie,” het Pienaar gesê met verwysing na ʼn handgeskrewe briefie wat Van der Walt by die hospitaal gelos het nadat hy Pienaar glo daar wou besoek.

Die briefie wat Van der Walt glo aan Pienaar geskryf het.

“Geagte Mnr. Pienaar. Word gou gesond, ek bid vir jou. Baie sterkte vir die pad voorentoe (sic) – Dylan van der Walt,” lui die briefie.

“Ek kan nie die tyd terugdraai nie … dit is wat dit is. Sulke goed het ook al met ander mense gebeur. Ek kan die mense wat dit doen, probeer stop. Ek kan nie net aangaan en weet ek het niks daaraan gedoen nie.”

Pienaar was ná die voorval meer as ʼn maand lank in die hospitaal en sukkel sedertdien met sy korttermyngeheue. Hy onthou egter wat die aand van 11 November gebeur het. Hy en sy neef het die aand uitgegaan.

“Ons was op die dansvloer toe ʼn ou na my toe gestap en gesê het: ‘Wat kyk jy? Wat is jou probleem?’ Daar het egter niks verder gebeur nie en die uitsmyter het ook betrokke geraak. Later die aand toe ons op pad was, het ek buite gestaan en wag. Ewe skielik het iemand my begin slaan en aangehou tot ek my bewussyn verloor het.”

Pienaar in die hospitaal.

Pienaar se neef het met hom na ʼn hospitaal gejaag waar hy twee weke lank in ʼn koma met bloeding op die brein was. “As die ou nog aangedui het hy gaan my slaan, maar nee, hy was ʼn lafaard en ek kon niks doen om te keer nie. Dis nie regverdig nie.”

Pienaar was maar drie maande terug in Suid-Afrika toe die voorval plaasgevind het. Hy is ’n IT-tegnikus en het lank in Engeland saam met sy vrou, Corynne, en twee seuns gewoon.

“My vrou en kinders is ongelooflike mense. My vrou het gereeld by my kom kuier in die hospitaal, maar sy het nie die kinders saamgebring nie, want ons wou nie hê hulle moet my so sien nie. Dokters was nie 100% seker of ek dit sou maak nie. Die eerste week was ‘touch and go’. My vrou moes vir ʼn lang tyd deur daai onsekerheid gaan voor daar die antwoord was dat ek oorleef het.”

Sy vrou moes ook by die R900 000 vir sy mediese onkoste bymekaarmaak aangesien hy destyds nog in die proses was om by ʼn mediese fonds aan te sluit. Die gesin sit nou met talle lenings en uitgawes. Pienaar het meer as 10 kg gedurende sy tyd in die hospitaal verloor.

Pienaar voor die aanranding saam met sy vrou, Corryne en kinders, Aden en Finn. Foto: Verskaf

Nadat hy uit die hospitaal ontslaan is en tuis aangesterk het, het die harde werk begin om te herstel van die skade wat hy ná die voorval oorgehou het. “Ek sou vir 45 minute lank ʼn gesprek voer, maar dan het ek eintlik niks gesê nie. My korttermyngeheue bestaan amper nie meer nie.”

Terwyl ons met die onderhoud besig is, sê Pienaar: “Ek probeer nou ʼn normale lewe lei. Die feit dat ek nou eers hieroor praat … ek wou nie gehad het dit moes met my familie gebeur nie. Ek gaan nou lelik wees, maar ek kan nie jou naam onthou nie … en dit is vir my ʼn probleem.”

Dylan van der Walt buite die hof nadat die saak teen hom teruggetrek is. Foto: Phillip Bruwer

Hy het intussen weer begin werk. “Voor die aanranding was daar ʼn groot kans dat ek tot ʼn direkteur bevorder sou word en aandele in die maatskappy sou kry. Dit is nou weg. Ek moet van voor af myself bewys en mense oortuig dat ek die werk kan doen.”

Volgens Pienaar het hulle nog niks weer van die ondersoekbeampte gehoor sedert die saak teruggetrek is nie. “Ek het vir ʼn lang tyd niks gedoen nie, want ek wou nie my familie blootstel nie. Maar ek sukkel om normaal deur die lewe te gaan en te weet sulke mense word oorgesien.”

Pienaar wag om te kyk of die staat die saak weer op die rol gaan plaas voor hy ʼn besluit sal neem oor ʼn moontlike siviele saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Corne ·

Daar MOET ń saak wees. Jy kan nie net iemand in ń koma half dood slaan en daar is geen gevolge vir jou nie. A nee a !

HESTER ·

Ek stem saam jou. Maar moenie verbaas wees as die saak net doodloop nie. Ek weet van sake waar rugbyunies/skole betrokke was en dit net ondre mat ingevee is..op skoolvlak al

AmY ·

Moet dit asb net nie daar laat nie. Daai blou buffel moet betaal vir wat hy aan jou gedoen het.

.Michelle ·

Ek kan nie sê wat hier gebeur het nie, ek was nie daar nie. Maar ek kan dít sê; ek het vir ‘n jaar lank ‘n nagklub bestuur, uit my ondervindg, begin geen ou sommer net slaan nie, al is hy dronk, arrogant of jonk. Iets het gebeur om wat niemand wil vertel nie.

Peet ·

Presies. En wat maak hy op ‘n dansvloer as sy gesin by die huis is!

Snowball ·

Ek glo nie dis so eenvoudig om hier kant te kies nie, die Jong man moet verseker vir sy dade verantwoordelik gehou word; aggressie en geweld moet ten sterkte veroordeel word. Die ouer man, (39 jaar om presies te wees) ook. Met ‘n vrou en 2 kinders tuis, dans hy in ‘n nagklub; klink na vreemde gedrag vir ‘n getroude man. Die feit dat hy nie mediese dekking het nie, is ook sy verantwoordelikheid as broodwinner en aanspreeklike volwassene en pa van ‘n gesin, nie sy aanvaller s’n nie. Ek glo nie dat hierdie tipe insident in ‘n lugleegte gebeur het nie en ‘n saak het twee kante, hopelik kom die waarheid wel uit.

Wonder ·

Jy weet dis nou ‘n leuen. Daar is mannetjies wat altyd ‘n punt iewers ten koste van iemand anders wil maak.

Cherokee ·

Die jaar waarin jy ‘n nagklub bestuur het Michelle, is hopeloos te min om die realiteite te ken. Hulle is daar. Hulle slaan onverwags eerste om te baat met die onverwagse hou. Hulle leun op die spreekwoord wat sê ‘goed begonne is halfpad gewonne’. Iemand wat onverwags geslaan is, kan vir enkele sekondes ‘n oop teiken wees. Dit is wat hulle doen wanneer hulle nie kans sien vir ‘n oop konfrontasie nie maar steeds op hul vriende probeer indruk maak.

Israel ·

Ek was in die polisie en orals was daar sulke sleg etters wat mense onverwags slaan by drinkplekke, sluit hulle op en geen borg, dis drek wat nie in die samelewing hoort nie

Wonder net ·

Wonder maar net wat soek n GETROUDE MAN in sy dertigs in n nagklub tussen die jong klomp op die dansvloer? Was self jonk en self ons kuiers gekuier, onthou wel die ouer manne wat daardie tyd van die oggend daar rondgehang het, het al die jong meisies gepla, was dronk en orig. Vele jongmanne wat kwaad geraak het en vuiste wat geklap het oor daardie rede. Glo nie almal vertel die volle waarheid hier, of word daar net onthou wat onthou wil word. Natuurlik, die jongman behoort verantwoordelikheid te neem vir sy dade, maar so ook die ouer man, wonder wat was die opbou na die hele fiasko…

Boer ·

Peet jyt seker die gedeelte mis gelees waar sy vrou R900 000 vir mediese onkostes moes betaal vir dit wat die seun aan hom gedoen het.n Dronk aand saam met vriende is n lewe se Spaargeld vir die gesin kwyt.

anton ·

Jy maak asof iemand van 30’s oud is en nie ook na dansplekke mag gaan nie.
Waar kom jy daaraan?
Die jong manne vandag dink hulle kan almal en alles reg slaan en het geen maniere en n opvoeding nie!!!
Ek hoop hy word privaat vervolg en dat hy betaal vir alles.( As hy die gedoen het in n 1ste wêreld land, was hy beslis in die tronk)
Dalk sal dit hom leer om sy handjies volgende keer in toom te hou. Hy is n klein lafaard wat my betref!!!

Wie weet ·

Hoekom het die man van 39 buite gewag Hy het gewag vir die seun van 20 om uit te kom
Op die ouderdom van 39 moet jy van beter geweet het plaas dat jy huistoe gegaan het na jou vrou en kinders dan het daar niks gebeur nie Hy soek geld dit is wat hy soek Geld Geld Die hof gooi die saak uit daar is seker nie genoeg bewyse nie Maar niks keur hom om die saak weer oop te maak nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.