Pa se notas bring skokwending in Anika-saak

Anika Smit

Die notas wat Johan Smit, die vermoorde Anika Smit se pa, begin hou het sedert sy 17-jarige dogter onder sy dak wreed vermoor en seksueel aangerand is voor haar hande afgesny is, het Dinsdag ʼn skokwending in die Pretoria-Noord-landdroshof gebring.

ʼn Geregtelike ondersoek is in September 2015 deur landdros Pierre Wessels in dié hof van stapel gestuur om te bepaal of daar genoeg bewyse is om iemand vir Anika se moord aanspreeklik te hou nadat die polisie se ondersoek doodgeloop het. Die belanghebbendes in die ondersoek is Anika se pa, Anika se ma Charlotte Eksteen, ʼn ekskêrel Nico Venter en twee destydse skoolmaats Damian Treeby en André van Wyk.

Die ondersoek het Maandag hervat waar een van Anika se vriendinne, Hanrika Beukes, geroep is om verder te getuig.

Beukes, tans ʼn sersant in die polisie se forensiese eenheid in Silverton wie se ouers albei polisiebeamptes is, is ʼn jarelange vriendin van Anika en het haar van hul laerskooldae af geken. Sy en Anika was ook saam in Hoërskool Gerrit Maritz, maar nie in dieselfde graad nie. Sy is twee jaar ouer as Anika.

Dit het tydens Beukes se kruisondervraging deur Anton van Staden, Venter se regsverteenwoordiger, aan die lig gekom dat Anika in ʼn stadium swanger was en ʼn aborsie gehad het. Van Staden het Beukes se beweerde hegte vriendskap in twyfel getrek weens die feit dat sy nie van die swangerskap bewus was nie. Dit is nog nie duidelik wie die baba se pa kon wees nie.

Stef Kruger, vir Smit, het ook Beukes se geloofwaardigheid as ʼn getuie betwis en het ook die hegtheid van die vriendskap bevraagteken.

“U gee aan die hof voor dat julle vriendekring gereeld gekuier het en op tye saam met mnr. Smit brandewyn gedrink het. My kliënt sal getuig dit is nie so nie. U het ook gesê sy het graad 10 gedruip, maar hier is ʼn rapport van 2008 wat wys dat sy dit goed geslaag het toe sy in Oudshoorn by haar ma gaan bly het. U voer aan sy was in 2009 terug in Hoërskool Gerrit Maritz, waar sy minstens twee keer ʼn maand skool sou bank, maar inteendeel was sy vroeër in 2009 in ʼn kollege toe sy by haar ma was; sy het in September 2009 teruggetrek Pretoria toe en het eers weer in 2010 teruggegaan skool toe vir graad 11. Goeie vriende sou dit sekerlik geweet het?” het Kruger aangevoer.

Beukes het volgehou sy was onder die indruk dat Anika toe wel terug was in Hoërskool Gerrit Martiz, maar het toegegee dit was lank terug en dat sy nie alles goed kan onthou nie.

“Die indruk wat u aan die hof skets is dat Anika al van 14 jaar oud by verkeerde goed [seks, dwelm en alkholgebruik] betrokke was en dat daar nie reëls in die huis was nie, maar my kliënt sal kom getuig dat hy nie sulke goed sou toelaat nie. Selfs al was sy skuldig aan alles, verdien sy dan om daaroor vermoor te word?” het Kruger bygevoeg.

“Mnr. Smit sal ook kom getuig dat mnr. Van Wyk in ʼn stadium daar kom kuier het. Hy was in die kombuis en toe hy terugstap, was Van Wyk half bo-oor haar, besig om Anika soen. Hy het hom toe uit die huis gejaag,” het Kruger dit gestel.

Kruger het kommer uitgespreek dat daar onder die eerste ondersoekbeampte in die saak, ao. Annerie Robinson, verklarings van minstens drie getuies verdwyn het. Die hof het gehoor Beukes se pa is ʼn kaptein van die Valke en dié het glo foto’s van Anika se moordtoneel in ʼn kluis in die huis aangehou en ook met Robinson die saak bespreek. Die ervare kol. Mike van Aard het in ʼn stadium die ondersoek oorgeneem.

“Ek stel dit aan u, in ʼn stadium het Robinson ʼn verklaring geneem van Jessica Annandale, ʼn vriendin van Anika, in die teenwoordigheid van haar ma waar u vader ook by was,” het Kruger gesê.

Beukes het gesê sy is nie bewus daarvan nie.

“My kliënt gaan kom getuig dat hy ʼn gesprek met Jessica se ma gehad het waar dié aan hom vertel het dat op die dag die moord, omstreeks 14:00, mnr. Venter vir Jessica by die skool kom haal en vir haar ʼn beskrywing van die toneel gegee het, onder meer hoe die bloed gespat het en dat daar ʼn groen handdoek en waslap weg is.”

Kruger het gesê hy wonder hoe Venter destyds geweet het hoe die toneel gelyk het.

“U verklaring is weg. Me. Annandale sʼn is ook weg. Dan die derde verklaring wat weg is, is dié van ʼn werkgewer van ʼn ene mnr. Ryno Brink, wat aandui dat Brink op dié dag nie by die werk was nie.”

Kruger het daarna na Smit se notas verwys wat Smit begin maak het sedert sy dogter se moord met die hoop dat dit kan help dat iemand vir sy dogter se moord aanspreeklik gehou kan word. Dit het ʼn wending in die saak gebring.

“Kan jy ʼn gesprek op Donderdag, 8 Julie 2010 met mnr. Smit onthou waarin jy vir hom gesê het mnr. Brink het blykbaar gesê hy was daar [by Anika se huis] en wou seks gehad het. Sy het geweier, hy het haar toe aangerand en ‘dit het te ver gegaan’, waarna hy vir mnr. Venter gekontak het om te kom help?” wou Kruger weet.

Beukes het ten sterkste ontken dat sy so ʼn gesprek met Smit gehad het en gesê Smit se “nota” kom neer op leuens. Beukes het gesê sy het nie in daardie stadium vir Venter of ene Brink geken nie.

“Ek sal nie so aantyging maak nie, want ek weet watter skade dit aan ʼn ondersoek kan doen. Ek weet nie hoekom hy so ʼn nota sou maak nie,” het sy geantwoord.

Kruger het gesê daar is ook DNS-monsters van Smit geneem om te vergelyk met sperm wat op Anika se liggaam gevind is en dat dié bewyse al langer as ʼn jaar uitstaande is.

Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand, ʼn lang blou bottel is in haar private deel ingedruk, en sy het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is tot nou toe nog nie gevind nie.

Die geregtelike ondersoek duur Woensdag voort.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Renee Gorin ·

Dit was destyds groot nuus en ekt altyd gewonder wat van die saak geword het ek bid tot God Dat hierdie moordenaars verkragters gevang Sal word, So Dat hierdie prag mens Kan rus en haar hande gevind kN word…..

Amelia ·

Ek meen ook as die sperm geidentifiseer kan word het hul mos die moordenaar of moordenaars. Dit is mos vanselfsprekend.

Rocket Scientist ·

Julle mis die punt. Dis een ding om die sperm se DNS te ontleed…dis ‘n ander ding om dit te vergelyk met n databasis van DNS wat by ander sake geidentifiseer is, of om die persoon op te spoor aan wie dit behoort. Die Smiley ou wat voorheen “erken” het dat hy haar vermoor het, se DNS het nie ooreengestem met die van die moord toneel nie.

LHS ·

Ag nee, ag nee, as daar sperms op haar gevind is moes hierdie saak mos al jare terug afgehandel gewees het. Hoe moeilik kan dit nou wees om DNS monsters van almal wat om of naby haar was, ingeslote die lys name wat sy aangehou het, te kry en forensies te laat toets.

Theresa B ·

Kllink vir my dit vat so lank want daar is orals gepeuter waar nie gepeuter moes geword het nie. Hierdie saak word ook nou lelik. Maar die skuldiges sal vasgetrek word.

HALLO ·

Ek sal nie verbaas wees as die sogenaamde vriendin betrokke was, en haar ouers wat in die polisie is, die bewyse laat wegraak het nie.
Ek hoop Almal betrokke word gevang!

Diefie ·

Wie het geld om die polisie om te koop om die bewyse en verklarings te laat verdwyn?

judy ·

Die dame wat getuig se ouers werk in die polisie so dit is nie moeilik nie…..

Mimi ·

Dit blyk gewis dat daar iewers n gekonkel was. As verklarings wegraak en Dns uitslae word ” gestol”…..kan n mens nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat mense “betaal” is om die saak te laat doodloop nie. Mense wat kennis het van prossedures, wat weet, wat n saak kan ontspoor, kan sorg dat sleutel getuienis en bewyse verdwyn. Dit lyk my dis nie toevallig dat die moordenaar nog nie gevang is nie. Mag daar geregtigheid kom vir Anika en haar gesin, wat sekerlik deur hel is, weens die saak. Mag daardie wreedaard aangekeer word en al die konkelaars wat hom tot dusver uit die tronk gehou het!

Haan ·

The plot thickens… Of eerder : the plot sickens.

Baie sterkte aan die gesin en almal wat hierdeur van hul vrede beroof is. Mag julle berusting in ons hemelse Vader en Sy geregtigheid vind

@Lizzie ·

Jy vra oor die “sogenaamde vriendin” — dan die DNS-toetse wat so sloer, die sogenaamde vriendin werk dan by die forensiese afdeling van die polisie. Dit is op sigself moontlik nog ‘n aanduiding dat daar gekonkel of gedraai word met die toetse.

Of is ek nou blond dat die DNS-toetse nie daar gedoen word nie, maar elders?

christa ·

Die spermtoetse is die belangrikste. Hoekom vat dit so lank???? dalk “weg geraak” As hulle daardie toets uitslae het, het hulle die moordenaar. Dit sal nogal interessant wees om te sien wie dit gaan wees.

Andrea van Vuren ·

Dis duidelik soos daglig die vriendin lieg haarself onder elke direkte vraag uit. En dan noem sy haarself ‘n polisieman.

sanet ·

Ek het bietjie gelees en gewonder oor die saak. Hanrika Beukes het blykbaar vir al haar vriendinne aanbeveel om terug te veg en die aanvaller te krap ens as hulle aangeval word sodat soveel as moontlik DNA onder die naels verkry kan word. Ek voel dat Annika se hande verwyder is om dalk meer as een persoon se DNA wat onder haar naels kon wees te versteek.

Annelize ·

Sanet, jy vat die woorde uit my mond uit. Hier gaan nog ‘n katnes van gekonkel en toesmeerdery oopgekrap word, hoor wat ek vanag se. Die mense se ware kleure begin nou sleg deur te slaan, erens gaan iemand begin “sing” to save his own skin.

Reti ·

As ek enigiets hoor van ‘Valke’ staan my hare regop, slaan my ore toe…….

Lienkie ·

‘n Mens kan sien Mnr Smit sal nie moed opgee tot sy dogter se moordenaar of moordenaars vasgetrek word, hy is ‘n vegter. Hoop hierdie saak sal uiteindelik opgelos word en sodat die familie berusting kan kry.

Sarie ·

Ek kry die kind se ouers jammer,maar ek dink die ondersoeke na leidrade was miskien nie so goed gedoen nie,hare of enige iets.Ek hoop van harte die skuldige of skuldiges gaan boet,Maak nie saak hoe sy was nie,so moord is vir niemand bedoel nie.

Nuuskierig ·

Ek kan nie glo dat dit so lank geneem het om nou eers met hofsake teenoor getuienisse te begin nie. Regtig !!! Die skuldiges kon mos lankal vas getrek gewees het.

Pretoria Noorder ·

Genade tog.. Maar hierdie saak word uitgerek.. En nóú eers begin die interessante deel.. Getuienisse.. Vals verklarings.. Polisie/familie betrokkenheid en.. En.. En.
Ek Kan my net nie in dink waar die regskoste al draai nie.
Mag geregtigheid net geskied!!

Jan ·

Wat het van die ou geword wat die pille daai dag afgelaai het.Wat vir die Apteek gewerk het. Het hy nie iets gesien nie. OF gehoor nie. Of n kar of fiets daar gestaan het nie.

Nuuskierig ·

Die pille was nie afgelewer nie want niemand het oop gemaak nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.