Pa se skietdood steeds ʼn raaisel

Daniel-Lee Price is op 26 November verlede jaar doodgeskiet. (Foto: Verskaf)

Die geliefdes van ’n man wat op 26 November verlede jaar by ’n vierrigtingkruising in Evaton West, Gauteng, doodgeskiet is, soek steeds na antwoorde oor sy moord.

Daniel-Lee Price (33) was “in die fleur van sy lewe” toe sy moordenaar (of moordenaars) hom op dié noodlottige dag in sy Toyota-bakkie by op die hoek van Goue Hoofweg- en King Moshoeshoeweg naby die Engen-vulstasie oorval het, sê sy familie. Na wat verneem word, is net sy selfoon gesteel.

Byna twee maande later is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en is die motief steeds onduidelik.

Dit is ook nie duidelik presies hoe laat die voorval plaasgevind het nie, maar volgens Price se suster, Wendy (31), was hy teen 16:40 vir die laaste keer op Whatsapp. Hy was vermoedelik op pad huis toe nadat hy ʼn werker in die omgewing afgelaai het. Price het in Vanderbijlpark gewoon.

Konst. Thulisile Msibi, polisiewoordvoerder, sê die polisie is in dié stadium steeds op soek na getuies wat moontlik met die moordondersoek kan help.

Wendy sê die familie is “platgeslaan en verlore”.

“Hy was so gelukkig, in sy gesins- én werkslewe. My broer was op ʼn piek in sy lewe. Hy was suksesvol en werklik ʼn goeie mens. Hy was só ʼn goeie ouboet en ons het ʼn baie hegte verhouding gehad,” het Wendy hartseer vertel.

Price, wat in die IT-bedryf gewerk het, is ook die pa van vier dogters, van wie die jongstes maar drie en een jaar oud is. Hy en sy vrou is boonop ʼn skrale ses maande voor sy dood getroud. Price se oudste dogters, onderskeidelik 11 en ses, kom uit ʼn vorige verhouding. Die name van sy vrou en kinders word op versoek weerhou.

Wendy sê haar broer was iemand wat nooit opgegee het nie en altyd op sy voete geland het. Hy sou ook enigiets vir iemand anders doen, sê sy.

“Ek kan nie dink waarom iemand hom sou wou doodmaak nie. Ek is kwaad.

“Hy was ʼn gewone, goeie mens. Dis aaklig. My kop sê vir my hy gaan enige oomblik by die deur instap, maar in my hart weet ek hy is weg.

“Dis ook baie moeilik om my ma in soveel pyn te sien. Ons pa, Leon, vat dit ook baie swaar.”

Sy sê voorts dat Price sy vrou “sy alles” was.

Wendy sê om heeltyd te wonder wat presies gebeur het en wie verantwoordelik was die familie se smart vererger.

“Daar word gesê dat tyd wonde genees, maar in dié geval voel dit of alles net erger word. Ons moet oor alles wonder omdat ons geen antwoorde het nie.”

Sy hoop dat die skuldiges of ander getuies na vore sal kom.

Msibi sê enigeen met inligting kan die ondersoekbeampte, speursers. Rens, by 083 524 8203 of 016 596 1104 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Swerwer ·

Simpatie en meegevoel met die familie. Behalwe die ANC kader is daar geen landsburger wat van belang is nie. Vuilgoed.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.