Pa, seun en hond verdrink by La Mercy

Rusa se helikopter is ingespan om uit die lug na die jong seun te help soek. (Foto: Reaction Unit South Africa)

ʼn Pa van 44 jaar oud, sy 14-jarige seun en hulle hond het Vrydagoggend by ʼn strand in La Mercy in KwaZulu-Natal verdrink.

Reaction Unit SA (Rusa) sê hengelaars het gesien toe die pa en seun in die moeilikheid beland terwyl hulle in die see daar geswem het en het reaksiebeamptes van Rusa ontbied.

Dié beamptes en paramedici van Netcare 911 was kort na 12:00 op die toneel. Hulle het die pa op die strand aangetref. Hy is op die toneel dood verklaar.

Die reaksiediens het ook sy Robinson R44-helikopter uit Verulam ontbied om uit die lug na die tienerseun te help soek. Die vlieënier het die liggaam van die seun sowat 100 meter van waar hy die water binnegegaan het, in die water sien dryf.

Die hond se leiband was nog vasgeknip. (Foto: Reaction Unit South Africa)

Paramedici van Rusa en Netcare 911 het die kind se liggaam uit die water gehaal. “Hy het geen tekens van lewe getoon nie en is dood verklaar.”

Die slagoffer se 18-jarige seun is ook deur die stroom meegesleur, maar hy kon aan ʼn rots vasklou en uit die water klouter.

Volgens Rusa het die hond, met sy leiband steeds aan hom vasgeknip, die water ingevaar toe hy sien sy eienaars is in die moeilikheid. Die hond het egter ook verdrink.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, het gesê lewensredders beman nie die strand waar die voorval plaasgevind het nie.

“Die betrokke owerhede sal die verloop van omstandighede ondersoek,” het hy gesê.

‘n Pa, seun en die gesin se hond het verdrink (Foto: Reaction Unit South Africa)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alleen Wolf

Ons meegevoel met die familie, dit is tragies.
Honde bly ‘n mens se getrouste bind genoot.

Chris dupreez

Hartseer man, ai

Cabytheron

Ai tog, verskriklik hartseer.

Reynier

Baie hartseer en onnodig. Innige meegevoel met die familie wat agterbly.

Janee

Slegte nuus….vir almal…