Pa, seun ‘g’n by mensehandel betrokke’

Nico (60) en CJ (23) Uys. (Foto: Verskaf)

Lede van die Dullstroom-gemeenskap in Mpumalanga is woedend oor die “valse aantygings” teen ʼn plaaslike boer Cornelis Johannes (Nico) Uys en sy seun, Cornelis Johannes Albertus (CJ), wat nou van mensehandel aangekla word.

Nico (60) en CJ (23) is verlede maand op aanklag van mensehandel aangekeer en het Woensdag saam met twee Mosambiekse broers, Carlos Bernardo Guambe (34) en Gabriel Bernardo Guambe (32), in die hof verskyn, waar hulle borgtogaansoek van die hand gewys is.

’n Jarelange vriend van Nico, wat saam met hom op landelike strukture in die gemeenskap gedien het, sê egter die beskuldigings teen die Uyse is ’n politieke heksejag en daar is meer as genoeg bewyse om hul onskuld te bewys – soos ook deur hul regspan in die hof aangevoer. Hy het Vrydag op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat.

Volgens die Valke is 39 mense, onder wie sewe vroue en nege kinders, tydens ʼn gesamentlike operasie op die boer se plaas in die Dullstroom-omgewing gevind.

Die vriend sê egter dat die voorval niks met mensehandel of enige ander misdaad te doen het nie.

Hy meen Nico en CJ, ʼn gekwalifiseerde dieselwerktuigkundige wat sy pa op die plaas help, het die Mosambiekse broers as kontrakteurs aangestel om vir hulle plantasiewerk te verrig, onder meer die afkap van bome, en dat dié kontrakteurs ingevolge ʼn ooreenkoms vir hul eie blyplek, kos en bykomende arbeiders verantwoordelik was.

Die werkers, wat glo deur die Mosambiekse kontrakteurs aangestel is, het slegs vir ʼn bepaalde tyd op die plaas gebly terwyl hulle hul werk verrig het. Die werkers was glo bang vir xenofobiese geweld in die townships en daarom het Nico ʼn paar van die werkers toegelaat om tydelik op sy plaas te bly.

“Hulle het self van hul vroue en kinders daar aangebring.”

Nico en CJ het glo direk met die kontrakteurs gewerk en nooit enige geld aan die werkers betaal nie aangesien hulle nie deur Nico en CJ aangestel is nie. Die werkers het na bewering vir die kontrakteurs gewerk en is ook deur die kontrakteurs betaal.

Dit blyk dat die werkers ontevrede was met die betaling wat hulle van die Mosambiekse broers ontvang het, maar dat die skuld nou op die pa en seun gepak word.

“Nico en CJ is eerbare mense. Die hele Uys-gesin is eerbare, opgevoede en goeie mense. Hulle is baie betrokke in die gemeenskap en is altyd bereid om ander te help,” het die vriend gesê.

Hy sê daar is boonop genoegsame bewyse om Nico en CJ se weergawes van die gebeure te staaf.

Lede van die gemeenskap het ook saamgespan om ʼn brief te skryf wat van die pa en seun se karakter getuig. Maroela Media het dié brief onder oë gehad en die outeurs is ook aan Maroela Media bekend.

Dit word op versoek nie gepubliseer nie aangesien die skrywers glo hulle dalk ook geviktimiseer kan word.

“Nico en sy vrou is ’n geliefde egpaar in die gemeenskap wat dit by hul kinders ingeboesem het om die gemeenskap te dien en om nooit op iemand neer te sien nie. Hul kinders is geleer om elke mens met respek en waardigheid te behandel,” lui die brief.

Luidens die brief is die gesin ook by die skool in Belfast en kinderhuis op die dorp betrokke. CJ het glo as skoolseun self geld ingesamel om ʼn behoeftige kleuterskool op die dorp se stukkende heinings reg te maak.

Nico en CJ is ook aktief by landelike veiligheid betrokke. Nico het al op verskeie landelike en veiligheidstrukture in die provinsie gedien – en selfs toekennings vir sy werk en toewyding ontvang.

“Hulle is goeie mense wat ander altyd help. Daar is geen manier dat hulle ooit by enige mensehandelaktiwiteite betrokke sou raak nie. Die aantygings teen hulle is absolute snert,” het Nico se vriend gesê.

Pa en seun sal na verwagting weer op 22 Augustus in die hof verskyn. Hulle bly tot dan in aanhouding. Die Guambe-broers is verlede Dinsdag elk drie maande tronkstraf of ’n boete van R5 000 opgelê op aanklag van die oortreding van die Immigrasiewet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Waarnemer ·

Nico en CJ ek vetrou julle eis die rook uit die regering uit ….onwettige arrestasie,onwettige aanhouding,jarakter skending,vernedering,!pyn en lyding en wat alles julle kan eis……

JohanEtz ·

Waarom moet hulle in aanhouding bly – hulle klink nie na ‘n vlugrisiko nie en steunpilare in die gemeenskap….Dubbele standaarde voor die regbank?

Oosieoos ·

Hier gaan die gereg alweer baie skadevergoeding betaal. Hulle moet a slag uit hul eie sak betaal

otter ·

Wel dit moet van iewers afkom. Kyk wat het in Worcester gebeur, pastoor en pastoor se man……. lewe daar buite is maar wreed.

Impartial ·

Baie snaaks dat hulle in aanhouding bly??? Iets klink nie lekker nie, ek meen borg word nie eers toegestaan nie wat meen dat die staat genoegsame bewyse het. Die mooiste blomme se wortels le dik in mis.

Gaitsigubib ·

“Impartial” weet jy wat beteken jou naam? Dit is wat n regter moet wees voor hy n saak aanhoor. Ek meen jy noem dat hulle nie borg kry nie en dis immers belaglik. Ek maak dan die baie eenvoudige gevolgtrekking, dat die regter nie “impartial” is nie.

Harley Davidson ·

Die polisie se onbevoegdheid is seker nou die ergste in die wêreld dagvaar die klomp en ek moet sê MM.het goeie werk hier gedoen ek het geweet dit is ‘n misverstand,boere handel nie in mense nie hulle word maar soos al die huidige benaadeelde minderhede onderdruk en teen gediskrimineer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.