ʼn Pa en sy seun is in ʼn ernstige toestand in die hospitaal nadat hulle Donderdagoggend by hul onderneming in Pinetown, Durban, aangeval en geskiet is.
Maj. Thulani Zwane, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die 52-jarige pa en sy 33-jarige seun is deur ʼn onbekende aantal verdagtes in Nagina aangeval. “Die motief vir die aanval word nog ondersoek. Niks is by die slagoffers gesteel nie,” het Zwane gesê.
Die polisie ondersoek twee sake van poging tot moord.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici was omstreeks 07:30 op die toneel. Die twee is gestabiliseer en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.