Pa, seuns sterf in botsing: ‘Ons sukkel om tot verhaal te kom’

Heinrich Kieser en sy seuns, Christian en Aldin. Foto: Verskaf

Die familie van ʼn pa en sy twee seuns wat Dinsdagmiddag tragies in ʼn botsing op pad terug van vakansie gesterf het, sukkel steeds om die skoknuus te verwerk.

Heinrich Kieser (48) en sy seuns, Christian (15) en Aldin (12), is Dinsdag omstreeks 14:30 op slag dood toe die sportnutsvoertuig waarin hulle gery het met ʼn vragmotor op die N4 tussen Malalane en Hectorspruit gebots het. Kieser se vriendin, Gillian Clarke, en haar seun, Jordan (15), was ook in die voertuig ten tyde van die ongeluk. Die groep was op pad terug van vakansie in Mosambiek.

Joseph Mabuza, woordvoerder van die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, het gesê Clarke is per helikopter na ʼn hospitaal geneem, terwyl Jordan met ʼn ambulans na ʼn hospitaal gehaas is.

Clarke het erge inwendige beserings opgedoen en is tans in ʼn kritieke toestand in ʼn hospitaal in Mbombela (Nelspruit). Jordan het sy sleutelbeen gebreek en ander matige beserings opgedoen en word in dieselfde hospitaal behandel.

Kieser, ʼn sakeman van Pretoria, en sy vrou, Itha (48), was van mekaar vervreem. Itha se broer, Herman Pienaar, het Donderdag aan Maroela Media gesê die familie sukkel steeds om die skoknuus te verwerk. “Vriende van Heinrich het van die ongeluk te hore gekom en vir Itha daarvan in kennis gestel. Intussen het vriende van Itha wat in George bly, my gebel,” het hy gesê.

“Dit is steeds ʼn baie groot skok vir die hele familie. Ons sukkel nog om tot verhaal te kom en ʼn mens wonder maar hoekom dit moes gebeur.”

Gillian Clarke. Foto: Facebook

Christian was ʼn leerder aan die Pretoria Boys High School, terwyl Jordan ʼn leerder aan Paul Roos Gimnasium is. Aldin was ʼn leerder aan die Waterkloof Primary School. “Christian en Aldin was albei uitstekende sportmanne. Christian het provinsiale kleure in waterpolo en gholf gehad. Hy sou enige gesoute gholfspeler kon laat les opsê op die gholfbaan,” het Pienaar gesê.

“Aldin was baie lief vir sokker en het ook vir die Harlequin Jeugrugbyklub gespeel. Albei seuns was ook toppresteerders in hul onderskeie skole. Hulle was baie lief daarvoor om saam met hul pa te gaan jag.”

Pienaar het gesê ʼn gedenkdiens sal volgende Donderdagmiddag by Pretoria Boys High School gehou word, terwyl die teraardebestelling die oggend sal plaasvind. “Al die seuns se maats en Heinrich se vriende sal ook by die teraardebestelling wees. Hulle was baie geliefd.”

Boodskappe van medelye en ondersteuning aan Gillian, Jordan en die Venter- en Kieser-families het sedert die tragedie op sosiale media ingestroom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Andrea ·

Ag hemel tog, hoe verskriklik tragies! Innige simpatie aan al die betrokkenes.

dries ·

Vragmotors het moordwapens geword, kom verby asof ek stilstaan. Vermy hierdie moordwapens sover jy kan.

Andre Traut ·

Dries jy praat nonsens. Ek werk elke dag met vragmotors en om so te veralgemeen is net verkeerd. Hulle grootte maak hulle nie altyd die skuldige party nie, en jy kan gerus oplet hoe geweldig onverskillig en ongeduldig sommige motorbestuurders is in n vragmotor se omgewing. En was jy daar om te gesien het wat gebeur het???

Realis ·

Andre – trokke IS ‘n absolute pes op die pad. Hulle ry onverskillig en ek kan op twee hande tel hoeveel skade ek al aan my voertuig gehad het van trokke wat klippe afgooi. Ry bietjie tussen Pretoria en Rustenburg dan praat ons weer. Die trok in hierdie ongeluk het uitgeswaai in die aankomende verkeer in, so is 100% verantwoordelik vir die ongeluk. Wens trokke wil van die pad af en mense wil weer spoorlyne begin gebruik…..

VanAfrika ·

Andre, ek werk op Rosherville, (City Deep) in Johannesburg. Jy moet asseblief elke oggend en middag saam my hierdie pad van Heidelbergweg, deur Houer str, in Lower Germiston str. kom ry. Die trokke wat van die depot in Houer str weg trek kom met so n spoed om die draai wat by ons kantore verby loop, ek vrees vir my lewe party middae as hulle verby my gejaag kom. en hulle verminder glad nie spoed as hulle om daai draai kom nie. Trokke is n gevaar op die pad en het nie respek vir ander bestuurders nie, veral die trok bestuurders in die stad. Op die oop pad vind ek het hulle bietjie meer geduld maar party vat nog steeds kanse.

Carene ·

Dis verskriklik. Ons is saam met hulle deur die grenspos. Ek kan dit nie glo nie. Dis baie hartseer. Baie sterkte aan al die geliefdes.

wdp ·

Sterkte, die lur kan maar gaan kyk hoe ry die mense op daai pad, vat karre op dubbelyne teen bulte verby, veral ons bure van mosambiek, geen respek vir padreels nie

Padgebruiker ·

Die vraag is eintlik: Wat het voor in die pad gebeur dat die bestuurder van die trok moes uitswaai? Het iemand dalk wou afdraai na een van die onwettige afdraaie op daardie pad?
Dalk wou n taxi stilhou in die pad om n person op te laai?
Die drywer het net die gevaar onmiddelik voor hom gesien en verkeerd gereageer. Ongelukkig het dit onherstelbare skade aan soveel mense rondom hierdie gesinne se lewens gedoen.
Baie hartseer.

CS ·

Baie sterkte aan hierdie mamma, weet nie hoe sou ek dit verwerk het nie, dink ek sal van my kop aafgaan, een troos, hulle laaste vakansie saam met hulle pa lyk fantasties en lyk of hulle dit baie geniet het-hoop dit bring bietjie troos vir jou as mamma en julle gesin

cs ·

Sterkte aan die Clark gesin ook -vergeet om dit in my vorige boodskap te noem

*** ·

Itha, ek dink in besonder aan jou. Jou hart moet die seerste seer probeer verwerk. Mag die Heilige Gees, ons Trooster, elke sekonde van elke dag jou naby wees en jou versterk. God is jou Krag en jou Hoop.

anton ·

Vragmotors is veronderstel om n maksimum van 80 km/h te ry. Dit is ongelukkig net n nr.
Hulle ry nie daai spoed nie!!! Het al gesien dat van hulle 120 km/h ry. Dit is belaglik.
As ek n vragmotor op die pad teekom, is ek sommer dadelik omgekrap want hulle ry meeste van die tyd soos ”cowboys” met uitsonderings van n paar.
Trokke moet elektronies beperk word op 80 km/h. Dan sal daar al klaar minder ongelukke wees op die paaie.
Bestuurders lisensies moet ook strenger wees om te slaag vir die bestuurders van trokke.

Martie ·

Itha, my hart bloei vir jou. En ook die oumas en oupas en die res van die families.
Mag liefde en omgee jou omring en krag gee vir elke dag. Een dag op n slag.

Gesiggie ·

My hart ruk in twee… Dit so .. so Hartseer… Pa en twee seuns ? n pragtigge gesin.. Die Here het aan hul nog die laaste mooi oomblikke saam gegun , deur hul laaste vakansie te kon deel. Dit laat my woordeloos … en my vraag ? HOEKOM.. ? Hoekom .. die lewe is so vol hartseer.. Ja dit was meskien hul tyd, maar partykeer kan sulke voorkom word, want hierdie gesin is onskuldig.. dan kom n ander persoon verloor beheer en veroorsaak n ongeluk.. daar is weekliks ongelukke met steenkool trokke op daai pad.. ek het al op 2 ongelukke met die selfde trokke afgekom… Aan hierdie gesin se Familie, aan hul Ma en aan Gillian.. mag God jul vertroos. mag jy en Jordan gou hestel.. RIP Keiser Gesin…My hart gaan uit na jul.

Janine ·

Dis vreeslik tragies! Alle sterkte aan die families. Ten opsigte van die trokke en die spoed waarmee hulle soms ry, kan ek saamstem dat hulle ‘n gevaar op die pad is. Ek woon naby ‘n bekende steenmakery naby Pta-Wes. Die trokke kom met ‘n spoed aan en ‘sny’ die draai dat hulle halfpad in aankomende baan is. Ek is al ‘n paar aande amper in my kanon in gery deur een van die trokke. Plek om uit te draai is daar nie want daar is groot bome weerskante van die pad. Ek het my koud geskrik! Ek is nou baie versigtig as ek saans huistoe ry.

Sunette ·

Ek weet.nie eers hoe om my kop om dit tenkry nie. Woorde ontgaan my. Mamma ons gebede en liefde is by jou. Alle alle sterkte deur hierdie ongelooflike moeilike tyd.

Piet Pompies ·

Dat swaar voertuie roekeloos ry dra meriete. Ons paaie word oorlaai met swaar voertuie omdat spoorvervoer omtrent nie meer bestaan. Ontwikkel die spoorvervoer stelsel en straf die swaarvoertuig bestuurders en padsterftes sal minder word.
My seun gebruik die N4 elke werksdag en ons een maal in ‘n week, swaar voertuie veroorsaak baie ongelukke wat nie eers publisiteit kry. Ons self het al verskeie noue ontkomings op die pad gehad bloot omdat swaar voertuie jag, verbysteek op sperstrepe, langs mekaar ry….

Piet Pompies ·

Dit moet lees jag. Sterkte aan die familie en vriende, hierdie is ‘n hartseer saak.

Susan du Toit ·

Andre ken jy daai pad ek ry hom ook baie Malelane toe en terug die trok bestuurders van vandag dink die pad behoort aan hulle soos hulle daai pad ry. Ek dink nie ‘n pa met sy familie
in die voertuig sou so onverskuldig daai pad gery het nie. My innige meegevoel vir die familie
sluit daai trok bestuurder toe

Lee ·

Andre Traut ek stem 100% saam met jou. Ons het ‘n week terug daai selfde pad gery en dis chaos. Hulle werk aan die pad so daar is nêrens verbygaan plek of niks nie en baie mense raak verskriklik ongeduldig. Was nie daar nie so ek sal nie weet wat gebeur het nie maar my hart gaan uit na die ma Itha wat altwee haar seuns verloor het. Dis verskriklik. Sterkte aan jou en die familie. Julle is in ons gebede.

Dries ·

Ek ken daardie pad baie goed want ek bly in die Laeveld. Die padwerke met hul regulering is op standaard. Die probleem is die trokke en spesifiek NI-DA trokke se bestuurders. Hulle het n aggresiewe bestuurstyl.Ek ry ander roetes ook (Lydenburg-pad) en beleef hul swak bestuursvermoeens ook daar.Hoop hulle gaan verantwoording doen vir hierdie tragiese ongeluk.

ook ma ·

Sekerlik nie alle trokke nie, maar wel heelwat veroorsaak deesdae ongelukke. Ons swaer is dood in ‘n ongeluk waar ‘n ooggetuie gesien het hoe die vragmotor opsetlik versnel terwyl my swaer hom verbygegaan het. Itha, ons harte gaan met groot hartseer uit na jou. Kyk op.

Madelene ·

Ek sit hier in NZ, het toevallig op die Afrikaanse Nuus flits afgekom…Dis sooo uiters hartseer. Almal pragtige mense… Here, ek bid dat U elke mens wat hier geraak word, sal vertroos. Ek bid vir heling en dat tonne mense Itha se pad sal kruis wat vir haar opregte steun sal kan bied. Ek ken nie hierdie mense nie, maar ek vra Here, dra hulle elke minuut, elke uur, elke dag, en gee weer vir hulle sin vir die lewe. Die lewe hier op aarde weet ons is onvolmaak en dinge kan verkeerd loop, – help ons om net gereed te wees om by U te kan wees wanneer dit ons tyd is. Dankie vir die tyd wat U aan hierdie mense gegee het om wel te kan saam wees. Ek spreek heling uit oor hierdie hartseer situasie. In Jesus se Naam, AMEN!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.